In die spore van Martin Luther

Die Schlosskirche in Wittenberg, waar Luther sy 95 stellings vasgespyker het (Foto: Verskaf)

Met ons onlangse vakansie het ons die deel van Duitsland verken waar die Hervormer Martin Luther se spore diep lê, naamlik Thuringië en Sakse-Anhalt.

Die eerste stop was Wittenberg in Sakse-Anhalt, waar die Hervorming as’t ware begin het met die waterskeidingsgebeurtenis van Martin Luther se vasspyker van sy 95 stellings teen die kerkdeur van die Schlosskirche in 1517.

Die einste kerkdeur (Foto: Verskaf)

Luther, wat uit die streek afkomstig was, was eers ʼn student in teologie aan die Universiteit van Wittenberg en later ʼn predikant in die Marienkerk en het daar teen die magsmisbruik en dwalings van die kerk te velde getrek – nie met die bedoeling om die kerk tot niet te maak nie, maar om dit te laat terugkeer tot sy wortels van die evangelieboodskap. Sy boodskap het in dié omgewing op vrugbare grond geval en die gebiede in die huidige Oos-Duitsland was van die eerste volgelinge en ondersteuners van Luther.

Wittenberg noem homself trots “Lutherstadt Wittenberg” en Luther se naam is orals. Die ironie van die saak is egter ook dat in hierdie geboorteplek van die Hervorming vandag slegs nog 15% van die bevolking tot die Lutherse geloof behoort, verreweg die meeste is sekulêr (die Katolieke Kerk is nog minder van ʼn faktor hier).

Wittenberg het nie net ʼn groot geskiedenis nie, sy ou stad is ook ’n kleinood van mooi pleine, nou keisteenstrate. Die persoon wat Wittenberg sy hoofstad gemaak en pragtig uitgebou het, was die vors Frederik die Wyse, wat van 1486 tot 1525 geleef het en wat ook die beskermer van Luther geword het.

Die stadsaal met die Luthermonument (Foto: Verskaf)

Luther se botsing met die keiser Karl V as beskermer van die Katolieke Kerk sou hy letterlik nie oorleef het as daar nie magtige territoriale vorste soos Frederik was wat die Hervorming tot sy deurbraak gehelp het nie.

Nog ʼn plek wat ʼn sleutelrol vir Luther en die Hervorming gespeel het en wat ons eweneens besoek het, is die Wartburg, ʼn magtige kasteel bo die stad Eisenach in Thuringië. Dit het aan die einste Frederik die Wyse behoort en is waar Luther, nadat die keiser hom voëlvry verklaar het, vermom as ridder geskuil het. Hy het sy bannelingskap gebruik om, eenkant in ʼn klein vertrek, die Bybel in Duits te vertaal. Volgens oorlewering het die duiwel aan hom verskyn om hom te terg en Luther het sy inkpot na hom gegooi wat ʼn swart kol op die muur gelos het.

Katedraal en markplein van Schmalkalden (Foto: Verskaf)

Nog ʼn plek in Thuringië wat vir die Hervorming van betekenis was, is die dorp Schmalkalden. Om die Hervorming teen die magtige keiser en Katolieke Kerk (wat dit in die kiem wou smoor) te verdedig, het die vorste wat Luther en sy Hervorming ondersteun het hier in 1531 die Schmalkaldischer Bund (Alliansie van Schmalkalde) gestig.

Die Wartburg kasteel (Foto: Verskaf)

Dit het uit die eerste Protestantse state binne die Duitse Ryk, Hesse, Thuringië, Sakse en Pruise, bestaan. Met die Smalkaldiese Oorlog van 1546 tot 1547 is dié alliansie deur die keiser aangeval en moes uiteindelik bes gee, maar die Hervorming het wel voortgeleef ten spyte van alle pogings tot onderdrukking.

Die Marienkirche in Wittenberg, waar Luther predikant was (Foto: Verskaf)

Schmalkalden se volledig behoue ou stad, met die kasteel eenkant op die berg en die hoofplein met die katedraal onder in die middedorp, is nogal skilderagtig. Buiten vir die talle geskiedkundige plekke bied Thuringië ook baie ongeskonde natuur met woude en berge waar ʼn mens heerlik kan stap.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Dankie vir die interessante artikel en pragtige fotos. Dis darem wonderlik dat hulle die ou erfenis so mooi bewaar, terwyl hulle hier hul bes doen om alles af te breek of uit te wis.
Ek wonder net hoekom is daar so min mense in die strate, dit lyk na lieflike somerweer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.