Kom vergeet van jou motor in die Kagga Kamma-reservaat

Jacques Marais kyk uit oor die wa-wye vlaktes van die Swartruggens-bewaringsgebied. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die Koue Bokkeveld strek wyd, al die pad tot waar die mees noord-oostelike uithoekie van die Kaapse Wynlande lepel-lê teenaan die voetheuwels van die Sederberge. Indien jy daar wil gaan kuier, moet jy eers deur Ceres, Prins Alfred Hamlet en Op-die-Berg suiker, voor jy dan ewe skielik soos ʼn groot speld verdwyn in die middel van die ‘Groot Nêrens’.

Die bestemming

Pak die kwieng-kwang draaie van Katbakkies-pas tot bo-op die eskarp, waar die wa-wye Renosterveld en fynbos vlaktes van die Swartruggens-bewaringsgebied op jou wag. Nou is jy pens en pootjies binne die wildernis, met nog ʼn uur of wat se grondpad om kaf te draf tot by Kagga Kamma-natuurreservaat.

Hier is jy sowat 1 400 m bokant seespieël, en dit beteken die klimaat is effens koeler as die res van die Sederberge. Heide spesies en restios oorheers die indrukwekkende botaniese landskap, en jy sal heel moontlik sebra, eland, blouwildebees, klipspringer en ander klein soogdiere gewaar.

Die meeste mense ken Kagga Kamma as een van Suid-Afrika se mees bekroonde buitelug-bestemmings, maar net ʼn handjievol besef jy kan lekker wild kamp hier ook. Daar is ʼn wye verskeidenheid staanplekke met iets wat letterlik almal se smaak en sak sal pas.

Geen ongediertes skuil hier tussen die sandsteenkoppies nie, en dus wag al daai eindelose reservaatpaadjies op jou en jou fiets. Besoekers kan na hartelus stap of draf al met drie goed-gemerkte roetes langs; my gunsteling is die 4,8 km lange Klipspringer-roete, met asemrowende pilare, kranse en dassie-hotelle.

ʼn Rooi kliphaas (Smith’s Red Rock Rabbit) laat spaander in die Renosterveld se fynbos. (Foto: Jacques Marais)

Daar is hope ander buitelug-dinge om jou besig te hou, van bergfiets ry en rotskuns bewonder, tot begeleide wildkykritte, luilekker siëstas en sterrekyk.

Besoek www.kaggakamma.co.za vir meer inligting of besprekings.

Die roetes

Bring gerus jou fiets, want daar is twee guitige bergfietsroetes om te verken. Maak egter seker dat jy jou wiele effens afblaas, want daar is proppers baie sand, en jy gaan swoeg, sweet en swets terwyl jy deur die sand beur. Kies tussen ʼn Rooi- en Swartroete. Dit beloop sowat 24 km in totaal, en jy sal ten minste so 2-3 uur in die saal spandeer.

Indien dit na harde werk klink, kan jy die speke laat sing al met die grondpad langs, al is dit net tot by die swembad tussen die sandsteenkoppies! Die staproetes is ook heel rybaar indien jy kans sien vir ʼn paar tegniese rots-seksies, maar kyk uit vir stappers en ander natuurliefhebbers.Kagga Kamma is een van daai plekke waar jy sommer gou van jou motor gaan vergeet. Daar is wel ʼn 4×4-roete van ongeveer 100 km op die reservaat wat ʼn mens kan verken terwyl jy uitkyk vir gemsbok, springbok, eland en ander kleinwild, of selfs ʼn rooikat of Kaapse luiperd indien jy vrek gelukkig is.

Besoek www.mtbroutes.co.za vir meer inligting.

– ʼn Lugfoto van die wilderniskamp naby Klipspringer Boma in die Kagga Kamma-natuurreservaat. (Foto: Jacques Marais)

Veldblomme net waar jy kyk, al met die bergfietsroete langs. (Foto: Jacques Marais)

Daar is niks soos ʼn beker vars geroosterde koffie om die son mee te groet nie. (Foto: Jacques Marais)

Densen Magaisa neem ʼn blaaskansie tussen Kagga Kamma se kenmerkende sandsteenpilare. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.