Maak só reis vir jong kinders makliker

(Foto: Pixabay)

In 2020 kon niemand hul huise verlaat vir die Paastyd nie; hierdie jaar sal mense dus vir seker ʼn bietjie wil uitkom om vakansie te hou. Maar dit is nie altyd maklik om met klein kindertjies te reis nie, en navorsing toon selfs dat 30% van ouers na die tyd spyt is dat hulle met hul kleuter op vakansie gegaan het.

Shaun Lamont, besturende direkteur van First Group Hotels, sê ʼn vakansie met jong kinders hoef nie so stresvol te wees dat jy na die tyd spyt is daaroor nie. Die sleutel tot ʼn suksesvolle vakansie is beplanning, en soveel meer as daar kinders betrokke is. Hy stel hierdie wenke voor om die Paastyd spanningsvry te maak.

Kies jou bestemming goed

Wanneer jy met jong kinders reis, kies ʼn vakansiebestemming wat naby aan die huis is (nie meer as 2-3 ure van die huis af nie) om ongeduldige kinders te akkommodeer. Kyk ook uit vir plekke wat aktiwiteite het vir kinders om te doen sodat dit opwindend is vir hulle en hulle kan besig hou as julle daar is.

Herbesin oor ʼn hotel

Die idee van ʼn hotelkamer klink lekker in teorie, maar met klein kindertjies is ʼn selfsorg-opsie dalk beter. By ʼn selfsorgeenheid het jy en jou gesin meer spasie, privaatheid en buigbaarheid om julle vakansie optimaal te geniet, sonder die bekommernis van die ander hotelgangers in die kamer direk langs joune.

Bestuur jou verwagting

As jy al vir ʼn tydjie spaar vir ʼn familievakansie is die kanse dat jy baie opgewonde is oor die tyd om te ontspan en pret te hê saam met die mense naaste aan jou. Maar die realiteit is dat klein kindertjies onvoorspelbaar kan wees, en selfs die soetste kinders kan oorweldig raak in ʼn nuwe omgewing.

Terwyl goeie beplanning dinge op jou vakansie kan makliker maak, beteken dit nie dat niks verkeerd kan gaan nie. Daarom is dit belangrik om jou verwagtinge te bestuur en realisties te wees oor wat moontlik is met jou jongspan. Wees oopkop oor die moontlikheid dat planne nie altyd gaan uitwerk soos jy beplan het nie en maak vrede daarmee wanneer dit gebeur.

Hou by ʼn roetine

As jy ʼn roetine by die huis het, probeer om dit so na as moontlik te volg wanneer jy met vakansie is. Jou kinders is in ʼn nuwe omgewing, met ʼn nuwe bed en nuwe meubels en mense, en dit kan hulle onkant vang. Probeer sover jy kan die gewone roetine te behou soos om speeltyd, etenstyd en slaaptyd dieselfde te hou.

Neem tyd vir jouself

Die punt van ʼn vakansie is om te ontspan; dit is dus belangrik dat jy daarvoor tyd maak. Deur ʼn vakansiebestemming te kies wat ruimte laat dat jy ʼn tydjie af kan neem, sal wonders doen. Neem minstens een aand vir ʼn “volwassene ete” waar die volwassenes sonder die kinders kan uitgaan. As daar ʼn spa of ʼn koffiewinkel by jou bestemming is, maak gebruik daarvan. Of maak bloot tyd dat jy vir ʼn uur alleen op jou bed kan lê en ʼn uiltjie knip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.