Mauritius: ’n blitstoer in een dag

Mauritius is alles wat jy in ‘n tropiese eiland benodig: dit is net son, see en swem. (Foto: Tanya de Vente-Bijker)

Deur Tanya de Vente-Bijker

Mauritius is nie sonder rede ʼn gewilde vakansiebestemming nie, veral vir Suid-Afrikaners. Dié tropiese eiland met palmbome, wit strande en blou, blou see bied die perfekte idilliese eilandvakansie.

Baie besoekers bly egter binne die grense van hul vakansieoord en sien min van die res van die land. Tog het dié eiland veel meer om te bied as mooi strande, skemerkelkies en eet-soveel-as-jy-wil-buffets. Selfs ʼn een dag-blitstoer kan jou al baie meer leer oor dié land.

Die water van die turkooisblou see klots-klots saggies teen die klippe. Die see spoeg stukkies koraal uit op die wit strand. Die son en die horison verkleur skouspelagtig. Om my bewonder vakansiegangers die sakkende son, selfone en kameras kliek-kliek om die skouspel vas te vang. Sonbruin lywe poseer vir selfies en foto’s voordat die rooi bal heeltemal in die see wegsak.

Vir ʼn week lank leef ons luilekker in ʼn luukse vakansieoord. Ons dae verval in ʼn gemaklike vakansiepatroon van eet, speel met die kinders op die strand of watersport. Ná ʼn middagslapie lê ons loom op strandstoele en lees. Die laatmiddagson blink op die water, hier en daar dobber seilbote of trap mense nog ʼn trapboot voor die dag groet. In die goue uur geniet ons skemerkelkies (nie noodwendig die eerstes vir die dag nie!) terwyl ons kyk hoe die son water trek.

Die hoofstad, Port Louis

Die bekende sambreelstraat in die waterfront by Port Louis. (Foto: Tanya de Vente-Bijker)

Ons was egter vasberade: ons kan nie in Mauritius wees en nié die land sien nie. Die vakansieoord is op sy eie ʼn ongelooflike belewenis, maar ʼn mens moet ook die eiland gaan verken. Ons wik en weeg dié kant en daardie kant toe en besluit uiteindelik om ʼn toergids vir een dag te gebruik om ons die eiland te gaan wys. Dit kos ons sowat 6 000 Mauritiaanse roepees (ongeveer R2 350), maar hy bestuur en ons kan net kyk, foto’s neem en onsself geniet. ʼn Vriendin het my juis vertel hoe sy vir twee uur lank verdwaal het op die eiland, wat my finaal laat besluit het hierdie is die beste opsie. Boonop sal enige ma ja sê vir ʼn slegs-ma’s-uitstappie.

Ons bestuurder en toergids tel ons vroegoggend by die hotel op. Vir die eerste keer sien ons die omgewing in die daglig. Ons ry verby suikerrietplantasies en deur informele dorpe terwyl ons die roete vir die dag beplan. Die hoofstad, Port Louis, is vir ons ononderhandelbaar en Rajah beveel aan dat ons dit sommer eerste doen.

Dit is sowat 30 minute se ry vanaf die hotel en die rit gee ons ’n redelik goeie beeld van die eiland.

Vir my, as ’n Suid-Afrikaner, voel dit soos enige ander Afrikaland – bekend. Mense op fietse, mense in die middel van die pad, diere wat skielik oor die pad hardloop en plek-plek saamgeflansde, verwaarloosde nedersettings.

Nader aan die hoofstad wys hy vir ons enkele landmerke uit – geboue wat uit die koloniale tydperk dateer. Mauritius het presies 52 jaar gelede onafhanklikheid verkry. Hy vertel ons allerhande interessanthede uit die geskiedenis…

Die eerste ontdekkers van Mauritius was die Arabiere, maar hulle het hulle egter nie hier gevestig nie. Die Nederlanders was die eerste bewoners, waarskynlik omdat hulle die hout in die woude vir hul skepe wou gebruik. Helaas het hulle die eiland amper heeltemal ontbos en die dodo (’n loopvoël wat net op die eiland Mauritius voorgekom het) uitgewis. Hulle was natuurlik honger en die dodo was maklik om te vang, aangesien hy nie kon vlieg nie. Maar ongelukkig het die dodo slegs een eier per jaar gelê, dus was die kans vir voortplanting teenoor die kans om in die pot te beland, maar skraal.

Die waterfront in Port Louis. (Foto: Tanya de Vente-Bijker)

My eerste indrukke van Port Louis was dat dit my aan Kaapstad herinner. Ek dink dit is dalk die paar wolkekrabbers voor die berg wat die indruk skep, maar die gids sê ek is nie die eerste toeris wat dit opmerk nie.

Parkeerplek is ’n groot probleem in Port Louis. Ons parkeer dus by die Le Caudan Waterfront en stap van daar na die mark. Die mark is ’n belewenis. Maar Rajah waarsku ons vooraf dat ons nêrens hoef te gaan waar ons nie wil nie en vir niemand hoef te luister nie. En moenie die pryse betaal wat op die goed gemerk is nie – betaal ten minste 50% minder, maan hy voor hy ons by die mark se hoofingang los.

Ons verkyk ons (en weet ons staan soos ’n seer oog uit) aan die stalletjies met stapels en stapels vars vrugte. My brein maak vinnig ’n paar somme soos ek verby die vrugte en groente stap en die pryse opmerk van piesangs, blomkool en kos wat ek nie ken nie. Op die boonste vloer vind ons die stalletjies met klere en aandenkings. As gevolg van die religieuse vakansiedag Eid (nie ’n publieke vakansiedag nie) is baie stalletjies toe, maar ons kry genoeg waar ons nog kan snuffel. En ja, desondanks ons gids se waarskuwings, koop ek iets (teen wat ek gereken het, ’n goedkoop prys) net om dit om die hoek vir die helfte van die prys te kry.

Ons waag dit terug deur die besige strate en met ’n Franse frase hier en daar verloor smouse gou belangstelling. By die waterfront drink ons ’n vinnige koffie voor ons soos ware toeriste foto’s neem onder die sambreel-straat.

Verken die suide

Teeproe by Bois Cheri. (Foto: Tanya de Vente-Bijker)

Ons ry via verskeie dorpies na die suide van die eiland waar ons die res van die dag gaan verken.

Naamborde merk dit as The South. Hier praat hulle letterlik van Die Suide. Ná ’n vinnige stilhou by ’n belaglike duur soewenierwinkel in Curepipe (ook bekend as La Ville-Lumière of Stad van die Lig) en ’n verpligte stop by ’n Hindoe-tempel (waar die ape vir my gegrom het en ek vir my lewe gehol het), stop ons by die Bois Chéri-teeplantasie. Bois Chéri is ook die naam van die dorp of area waar die teeplantasie geleë is.

Ons eet vinnig middagete in die restaurant voor ons gaan tee proe. Die teeproepatio het ’n lieflike uitsig oor ’n klein meer en pragtige landskap van teeplantasies. Bokkies wei tussen die bosse, die atmosfeer is pastoraal en sereen. Die teeproe self is vir my nie so opwindend soos wat ek dit my voorgestel het nie. Dalk is my persoonlikheid te hiper om stil te sit en tee te drink. Of dalk was die tee net nie lekker nie. Ons hoop was nou op die rumproe.

Ons gids stop op die roete by die Black River Canyon. Ons stap tot by ʼn uitkykpunt waar ons ʼn mooi uitsig oor die berge en woude van die Black River Canyon het. Hier kan ʼn mens verskeie dagstaproetes aanpak, maar jy moet ʼn gids saamvat. Rajah maan ʼn mens sal beslis verdwaal sonder ʼn gids.

Rumproe en die gekleurde aarde

Die gids meng ‘n rum-mengeldrankie. (Foto: Tanya de Vente-Bijker)

Uiteindelik kom ons by die Rhumerie de Chamarel-distilleerdery. Die toer is genotvol en insiggewend. Die omgewing is prentjiemooi, die mense uiters vriendelik en boonop kry jy genoeg rum om te proe om dit die moeite werd te maak!

Ons gids by die Rhumerie vertel die werkers begin al soggens vieruur om suikerriet te oes. Sy vertel verskeie interessanthede oor die suikerriet en brou van rum terwyl sy ʼn welkomdrankie meng. Ek teug maar versigtig aan dié drankie – ek weet mos daar kom nog rumproe by…

Ons proe die verskillende rums en likeurs met smake soos mandaryn, klapper, koffie en so meer. Ná die rumproe kry mens ook die geleentheid om die konfyte wat hulle maak, te proe. Dit sluit byvoorbeeld ʼn baie lekker papajakonfyt in. Ons maak nog ʼn vinnige draai deur die winkel om ʼn aandenking of twee te koop.

Later sou ek die Rhumerie de Chamarel se rums in die vakansieoord se winkel weer raakloop, vir dubbel die prys – ek was bly ek het myne by die distilleerdery gekoop.

Die volgende (vinnige) stop is by die Chamarel-waterval. Die waterval is indrukwekkend en die omgewing herinner ons aan die Laeveld (in die omgewing van die Mac Mac-waterval). Ons moet ʼn redelike paar trappe uitklim om by die boonste uitsigpunt te kom.

Van daar ry ons na iets wat ek baie graag wou sien, maar wat eintlik maar ʼn groot teleurstelling was: die Chamarel Seven Coloured Earth. Ek het werklik uitgesien om dié stuk gekleurde aarde te sien. Ek vermoed egter ek moes meer rum geproe het om die sewe verskillende kleure raak te sien. Agterna lees ek dit hang af van die tyd van die dag en hoe die son val.

Ons het soveel hoogtepunte in een dag beleef, maar dit was tyd om die uur lange rit terug na die Noorde aan te pak. Rajah neem ons op ʼn interessante kusroete “huis toe” en vertel steeds een en ander oor die land en wys nóg wetenswaardighede uit.

Ons laaste stop is ʼn uitsigpunt waar ons uitkyk oor die kus van die suidweste van die eiland. Die son speel blink op die water, sak later oor die suikerrietplantasies en die dag groet.

Ons beursies is redelik dun ná die dag se uitgawes, maar ons voel ryker aan ʼn ervaring wat nie met geld gekoop kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Emma ·

Ag hoe lekker was dit om weer aan my eie herinneringe te gaan in my gedagtes terwyl ek hier lees…. Ek het seker dan die regte tyd by die sewe kleur grond gebied aan gekom want dit is werklik pragtig. Dankie vir die ‘onthou jy nog?’

Mieliestronk ·

Wat ‘n fantastiese eiland. Sedert 2011 gereelde besoekers, moelik om nie terug te keer nie.

Danie ·

Die sewe kleure was mooi maar die groot skilpaaie wat daar aangehou word is wonderlik.
En ja die tee smaak absoluut na niks.
Mooi plek maar jammer dat die drinkbare wyne peperduur is weens invoerkoste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.