Met dapper en stapper deur Darling se strate

In Darling se strate (Foto: Maroela Media)

As ek “Darling” sê, dink jy waarskynlik net aan dié dorp as een waar mens verby ry op pad Weskus toe. Dalk dink jy ook aan Pieter-Dirk Uys se Evita se Perron, maar daar is ʼn skatkis opgesluit in dié dorpie.

Ons het die Sondagmiddag in Darling aangekom waar ons die aand gesmul het aan regte egte Italiaanse geregte by Ciao Darling. Dié restaurant het onlangs eers sy deure oopgemaak, maar met sy pizza-oond, kaggel, Italiaanse musiek oor die luidsprekers en ʼn atmosfeer wat jou laat voel of jy iewers in Europa rondreis, beloof dit om binnekort een van die gewildste bestemmings in die dorp te word.

Ons oornag by Darling Lodge Guest House – sentraal geleë in Darling. Dié bekoorlike gastehuis met sy geil tuin en mengsel van oud en nuut is dit ʼn oase waar jy behoorlik kan uitspan.

Die Victoriaanse huis is stylvol gerestoureer. Die gastehuis bied altesaam nege slaapkamers – Drie in die Victoriaanse huis, drie in die tuin met ʼn patio  wat met ʼn druiweprieel bedek is  en oor die swembad uitkyk, en drie ruim suites wat onlangs gebou is. Maak seker jy ontspan met ʼn boek in die hand in die swaai by die swembad!

Elke kamer is toegewy aan ʼn plaaslike kunstenaar wie se werk vertoon word – die kunswerke word te koop aangebied indien iets jou oog vang.

Ná ʼn gul ontbyt kan jy gerus jou stapskoene aantrek: daar is baie wat ons in dié dorp gaan verken.

Ontbyt by Darling Lodge Guest House (Foto verskaf)

Op soek na raaisels en leidrade

Ons het die Maandagoggend ʼn skattejag deur die dorp onderneem met die spesiaal ontwerpte Mystery Trail. Dié skattejag begin by die Darling-museum en deur verskillende raaisels op te los, word jy deur die dorp gelei om al die besienswaardighede te verken. Dit is die prettigste skattejag waaraan ek nog ooit deelgeneem het. Darling se uitleg maak dit boonop maklik om die dorp só te voet leer ken en ons het gereeld ʼn knoop in die oor gemaak van plekke waarheen ons oor die volgende paar dae wou terugkeer.

Die raaisels is maklik genoeg sodat die kinders kan saamspeel en saam kan raai waarheen die volgende leidraad jou lei.

Die Darling-museum, waar die skattejag begin en eindig, is in 1978 deur die plaaslike Vrouelandbou-unie begin om die bottermaakgeskiedenis van Darling behoue te laat bly. Dit bied ʼn blik op die 19de eeuse lewe op die platteland.

Wynproe by Ormonde

Ons het ons die middag tuisgemaak onder die bome by Ormonde-wynlandgoed, in die hartjie van Darling. Berinda Basson het ons self bedien en ʼn spesiale wynproe gereël. Sy het verduidelik hoe die unieke grondprofiel en die koelheid van die Atlantiese Oseaan die perfekte omgewing skep om dié wonderlike wyne te vervaardig.

Die smulborde, wat hulle vir twee mense aanbied, is van die beste wat ek al ooit teëgekom het. Daar is ʼn rits plaaslike lekkernye insluitend patee, kaas, vleis en brood. Die smulbord was baie vullend en perfek saam met die wynproe. Ek beveel dit graag ten sterkste aan as deel van jou ervaring by Ormonde.

Ek kan nie wag om terug te keer om die sjokolade-en-wyn-ervaring mee te maak nie.

ʼn Soettand se droom

Ná die wynproe is dit net ʼn kort entjie se stap tot by Darling Sweet. Loer gerus hier in om te sien waar maak hulle die lekkerste toffies en Swartland-koekies en beskuit en maak seker daar is genoeg plek in jou tas om ʼn paar boksies saam te neem huis toe.

Loop gerus ook ʼn draai deur die res van die dorp: The Marmalade Cat, The Darling Wine Shop, Darling Meat Market en Heart of Darling-geskenkwinkel is maar net ʼn paar van die plekkies wat op jou lysie moet wees.

Vir aandete het ons ingeloer by Koffie My Darling. Dié restaurant is nog nie in die aande oop nie; hulle het ʼn vergunning gemaak vir ons. Ons was die proefkonyne, want hulle oorweeg om binne seisoen een aand per week die restaurant oop te maak. Ons is bederf met die heerlikste skaapskenkelbredie wat ek nog ooit geproe het met suurlemoen-meringue en wortelkoek vir nagereg, verskaf deur Ouma Swesie se Spens. Spoorwegkoffie (moerkoffie met kondensmelk) het die lyf warm gemaak net voor ons teruggestap het na Darling Lodge-gastehuis. Ek gaan volgende keer meer as een potjie olyf-mayonnaise aanskaf en kan nie wag om weer skuinskoek huis toe te bring nie. Curdelicious Artisan Cheese het ons ook met Ricottakaas bederf.

As dit alles reeds vir jou soos ʼn mondvol klink, is dit steeds nie alles wat Darling bied nie.

Boetiekbier en meer

Loer by Darling Brew in vir middagete en ʼn bierproe. Dié boetiekbierbrouer is as die beste plaaslike boetiekbier aangewys by die 2021 Kfm Best of the Cape-toekennings en het vanjaar weer met dié prys weggestap. Die brouery het in 2010 sy deure oopgemaak en word amptelik gereken as Afrika se eerste koolstofneutrale brouerye – ʼn bastion van bedryfsuitnemendheid regdeur die bedryf.

Darling Brew se reeks produkte sluit deesdae allerhande tipe biere in, onder andere Lager, Weiss, Stout, Pilsner, Shandy en nie-alkoholies.

Darling Brew het intussen ook ʼn oorspronklike happie, skyfies wat as brouery-byproduk vervaardig is, bekendgestel. Dié Beer Grain Crisps word gemaak van 40% gebruikte graan. Gebruikte graan is ʼn byproduk van die brouery-operasie. Hierdie graan, hoog in minerale, proteïen en dieetvesel, word gewoonlik weggegooi (of in Darling Brew se geval, aan plaaslike boere verskaf om vee te voer). Twee produkte uit een oes beteken dat die brouery se koolstofvoetspoor selfs verder verklein word. Dit bied ʼn beter gebruik van landbougrond en voorkom onnodige vervoer en energieverbruik.

Terwyl jy in die omgewing is, maak gerus ook ʼn draai by Darling Olives en gaan kuier by Darling Cellars (jy kan selfs ʼn keldertoer bespreek).

Beleef die geskiedenis van die San by !Khwa ttu

Daar is ongeveer 130 000 San wat in ses lande in suidelike Afrika woon. Die San is een van die laaste jagter-versamelaar-samelewings. Hul antieke manier van leef, tale en kultuur is onder groot bedreiging, maar by !Khwa ttu word daar moeite gedoen om bewusmaking te skep en besoekers vertroud te maak met die San.

!Khwa ttu, net buite Darling, is ʼn bekroonde erfenissentrum en bied interaktiewe toere waar jy meer kan leer oor die geskiedenis van die San, hoe om verskillende diere se spore uit te ken en hoekom stories vir hulle so belangrik is. Jy kan selfs leer hoe om die klik- en klapgeluide te maak wat so kenmerkend is aan die San se verskillende tale.

!Khwa ttu se restaurant spog met die heerlikste geregte met plaaslike produkte. Kom proe die stories van die San – van die ou tyd tot die hede. Soos wat die seisoene verander, verander die geregte. Kom smul aan potbrood, mosbolletjie-broodjies, roosterkoek en geelstert. Die askoek met kaiings en Sandveld-heuningbotter moet beslis ook deel wees van jou bestelling.

Vir stappers en fietsryers is daar verskillende roetes by !Khwa ttu beskikbaar.

Jy kan ook tuisgaan by !Khwa ttu in ʼn luukse gastehuis.

Oor Cape Country Routes

Darling Lodge Guest House is deel van Cape Country Routes.

Cape Country Routes is ʼn groep akkommodasie- en aktiwiteitsondernemings wat deur die eienaars bedryf en bestuur word. Meer as 20 hotelle, lodges, gastehuise en aktiwiteite in privaat besit – is geleë op skilderagtige en geskiedkundige roetes in die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Elkeen is sorgvuldig uitgesoek vir hul karakter, sjarme en romanse, en hulle bied die beste akkommodasie- en aktiwiteitsopsies om by elke smaak en begroting te pas.

Cape Country Routes bied ook ʼn lojaliteitsprogram: Lojaliteit-lidmaatskapsopsies is beskikbaar vir individue/egpare (R200 per jaar) of gesinne (R500 per jaar) en bied groot afslag en waarde-toevoegings saam met deelnemende akkommodasie- en aktiwiteitsverskaffers. Sluit gerus hier aan en klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.