‘Montagu, ons drink jou muskadel’

Die twee klassieke motors in bloedrooi en budgieblou (soos my een vriend na daardie helder babablou verwys) kan gehuur word onder American Dream Cars, ook ʼn Cape Country Routes-lid, vir skemerkelkies of wynplaas-besoeke. (Foto: Maryke Roberts)

As jy soms voel die lewe se pas is te vinnig, is daar ʼn heerlike roete om te ontgin. Die Cape Country Routes het verskeie roetes wat die mooiste dele van ons land se kuslyn en binneland gaan verken. Maryke Roberts het op Montagu by die ikoniese Montagu Country Hotel gaan kuier – daar waar die horlosie by die mooie Art Deco-era vasgehaak het.

Ek hoor sommer weer David Kramer se liedjie, “Montagu-u-u-u-u, ek drink jou muskadel. Ek sit hier op my rusbank, my voete op die springbokvel. Die klein Karoo-o-o-o, of ʼn Kannaland’. Die son steek die Langeberge aan die brand…”

Montagu lê in die voue van die Langeberge op Route 62. Die hotel het in 1875 sy deure geopen, maar dis nou onder die fyn bestuur en eienaarskap van PJ (Pierre-Jacques) en Colene Basson, wat die hotel weer die hart van die dorp is. Mense loer by die toerismeburo in wat in die hotel gehuisves word, gaan op fietstoere saam met Marchelle van Zyl van Flying Feet, of teug aan melkskommels of skemerkelkies op die reuse-houtstoep.

In die parkeerarea is een van die land se eerste 22 kW DC-elektriese punte om motors te herlaai en toe ons arriveer, staan ʼn bloedrooi Jaquar ingeprop. Alles pas net so mooi by die prentjie!

Die werksweek loop ten einde met trekkers en kruiwaens wat in skure gebêre word en werkers wat luidrugtig huis toe stap – hul blou oorpakke vaal van die week se werk. Daar is ʼn effense aansteeklike Vrydagaand-gees in die lug.

Die mooi rotsformasies net buite Montagu. (Foto: Maryke Roberts)

Die dorpie is vroegaand verrassend lewendig met feestelike liggies wat halfmaan, soos groot glimlagte, oor tuine en gaste se koppe hang. Dit voel regtig asof die horlosie dekades teruggedraai is.

Die pragtige hotel – waar nie net die meubels, blompotte en kuns uit die Art Deco- en Victoriaanse eras dateer nie, maar ook die twee klassieke motors in bloedrooi en budgieblou (soos my een vriend na daardie helder babablou verwys) gons. Die twee motors kan gehuur word onder American Dream Cars, ook ʼn Cape Country Routes-lid, vir skemerkelkies of wynplaas-besoeke.

Ons is almal in ons fynstes uitgevat. Die vroue saam met my in die motor het almal ʼn tikkie Gatsby-glam aan, van pelsstolas tot lang stringe pêrels en hooftooisels met kant en vere.

PJ bestuur ons rooi wa. “Ons is in die seisoen van rus. Jy kan nie glo dat hierdie boorde en landerye oor ʼn paar maande oortrek van die bloeisels sal wees nie. Hy praat oor die omgewing en die landskappe wat elke minuut verander soos die son watertrek en die wolke patrone teen die lug teken, asof dit sy eie maaksel is. Geen beter ambassadeur vir hierdie oulike dorp nie, dink ek amper hardop.

Hy vertel ons grappenderwys dat die “protokol” om in een van hierdie klassieke karre te ry, is dat jy altyd stadig ry en altyd ʼn stadige, adellike wuif bolangs vertoon, maar onder kan jou lyf jive en woel en beweeg soos jy wil.

Ons is almal in ons fynstes uitgevat toe ons met die twee klassieke motors buite die dorp gaan ry vir skemerkelkies. Die vroue saam met my in die motor het almal ʼn tikkie Gatsby-glam aan, van pelsstolas tot lang stringe pêrels en hooftooisels met kant en vere. PJ Basson bestuur ons rooi wa. (Foto: Maryke Roberts)

Ons ry by die dorp se Natuurtuin verby en hy beduie van die eerlikheidstelsel vir betaling. “Daar is ʼn gleuf in die muur waarin jy toegangsgeld kan gooi – as jy wil en hoeveel jy wil.”

Net voor die gat in die reuse-rotsformasie trek ons af, die oulike gevlegte piekniekmandjie kom uit en ons drink yskoue Cap Classique van Weltevrede buite Bonnievale. ʼn Mens kry net nuwe agting vir iets wat meer as sewe jaar in die ondergrondse stiltes van ʼn koel kelder gelos is, sodat Moeder Natuur haar towerstaf oor druiwesap kan gooi en hemelse vonkelwyn natuurlik gemaak word. Dis nou ʼn heerlike twee-uur-avontuur wat jy daar kan gaan geniet. Lees meer hieroor op Maroela Media.

Ons sit later voor ete in die oulike Feathers & Flatcaps-restaurant en PJ gee ons ʼn bietjie insae in doen-dinge op die dorp. Toe iemand opmerk hulle wil nie eintlik by die hotel weg nie, want dis so ʼn nostalgiereis, antwoord hy: “Montagu is soveel meer as die hotel en smeek om ontdek te word.”

Aandete is ʼn feesmaal in die hotel se Charlestons-restaurant, voor ons die slaap van die dooies betree.

Saterdagoggend is dit vroeg uit die vere vir ʼn stewige ontbyt. Die tafels is ʼn mengelmoes van mense, sommige praat in vreemde aksente, ander sit met gidsboeke en beraadslaag.

Die Montagu Country Hotel is getooi in die mooiste Art Deco- en Victoriaanse meubels, kuns en dekor. (Foto: Maryke Roberts)

Hoe dit ook al sy, daar is ʼn statiese elektriese trilling in die lug, want elkeen hier is op pad na ʼn lekker avontuur: ons groep gaan die kontoerpad stap; twee hoërskoolkinders in hul skoolklere is op pad na ʼn skoolbyeenkoms; vier toeriste gaan in die klassieke kar wynproe en ander gaan saam met Flying Feet fietsry deur die dorp. Marchelle se fietse is almal deur plaaslike kunstenaars beskilder en geen besoek aan die dorp is volledig sonder een van haar aanbiedinge nie. Ek hoor die spooktoer is baie gewild.

Die stap bied ʼn geleentheid om die lekker hotelkos te verteer en jou longe vol plattelandse lug te trek. Dit klim lekker hoog, bo die dorp met pragtige uitsigte, en toe ons om die koppie kom sê PJ: “Julle gaan nou die hoërskoolsport hoor in die klofie aftrek.” En dis toe ook so.

ʼn Mens voel amper deel van die gemeenskap.

Op pad terug van ons bergstap, drentel ek deur die straatjies. Aan die buitewyke van die dorp, voor ʼn klein wit muurtjie, stap ʼn varksog en vier klein babapienk varkies oor die pad.

In die reuse-potplant voor ʼn historiese ou huis se deur sit ʼn klein sementpaddatjie. Asof dit die normaalste ding op aarde is. By De Nagmaal koop ek goudgeel byewaskerse van Wiki Candles wat ek op McGregor raakgeloop het. Dis nie net ideale geskenke nie, maar kikker ook enige gedekte tafel op.

ʼn Pragtige Maine Coon, gemaamd Coco, besit eintlik die eiendom. Die afsydigheid van “kyk hoe mooi is ek” terwyl sy met swaaiboude wegstap, is vir drie dae lank die norm.
(Foto: Maryke Roberts)

Pannekoek by die Saterdag-mark op die klein dorpsplein is ʼn moet. Jy sit eenkant op een van die sementbankies en kyk mense. Dié kom van regoor die dorp aangestap met materiaal-inkopiesakke vir hul weeklikse kuier en interessante kopies. Honde besnuffel en beruik alles en vang gou al die week se karre jaag, balle vang en stertswaai met hul vierpootvriende op.

Na ʼn vinnige stort, is ek by die hotel se skoonheidsalon in. Ek is vroeg en laat die voëlgesang en ligte briesie buite, my moeë skouers ontspan.

Die een skoonheidsterapeut vee die vloer terwyl sy saggies neurie. Die woorde op die deur vertel dis ʼn Stilsone dié. Selfs my kop is stil toe ek na 90 minute uitstap vir koffie en koek. In die gange van die hotel sal jy altyd plaaslike kuns kry en ek is baie trots om te sê dat ʼn paar van daardie werke oor die jare hul tuiste teen my mure gekry het.

Marina Buys van O Koek! Kom by Feathers & Flatcaps ingestap met haar baksel vir die dag: lemoen-, wortel- en grondboontjiebotter-koek en ek bestel onmiddellik die lemoenkoek uit pure nostalgie vir my oorlede ma se lemoenkoek wat ek verorber het nog lank voor sy die versiersel kon opsmeer.

Terug in my kamer, lok die groot bed met sy spierwit beddegoed my. Ek sluimer vinniger in as wat ek gedink het en dis die gesels van gaste buite my venster wat my net voor aandete laat ontwaak.

Weer eet ons soos konings, maar van stoepsit met ʼn laataand-drankie kom daar nie veel na die dag se oefening en heerlike massering nie. Voor die kerkklok 21:00 slaan, is ek in droomland.

ʼn Pragtige Maine Coon, gemaamd Coco, besit eintlik die eiendom. Die afsydigheid van “kyk hoe mooi is ek” terwyl sy met swaaiboude wegstap, is vir drie dae lank die norm.

Tot Sondagoggend wat sy agter my aanhardloop en miaau. Ek stop en vryf die wolbol en haar hele lyfie spin. Voor ek my kom kry is haar voorpote oor my skouer en sy klou soos ʼn jong kind teen my vas sonder om op te hou spin. Die lug is blou bo my kop toe ek haar vryf. Die hitte van haar lyf haal die byt uit die vroegoggend lug.

Onvoorwaardelike – selfs vlugtige – toenadering is soms goed vir die siel.

Net voor jy deur die rotswand uit die dorp ry, kan jy sien hoe die vorige vloedlyne met sementtorings van verskillende hoogtes uitgebeeld word. (Foto: Maryke Roberts)

Ek is hartseer om Sondagoggend die vriendelike personeel te groet en my sak in die kattebak te laai.

Dit was nog altyd Montagu se bekoring vir my: jy kry soveel platteland, leivore, ʼn vriendelike wuif van ʼn verbyganger, maar jy hoef nie hard te soek vir ʼn goeie cappuccino, lekker pizza of mooi antieke winkel met ou linne of kosbare boeke nie.

Maar dis die vreedsaamheid in jou gebeentes wat jou die langste bybly.

  • Ons het vir dié plattelandse avontuur die geleentheid gehad om die nuwe generasie Jimny van Treadlite 4×4 – ook ʼn lid van Cape Country Routes – te toetsbestuur.

Kitsfeite:

Vredigheid in die vroegoggend sonnetjie. (Foto: Maryke Roberts)

  • Vir meer inligting oor Cape Country Routes en al die wonderlike plekke wat jy kan ontdek, besoek www.capecountryroutes.com
  • Bespreek ʼn heerlike nostalgiese wegbreek by www.montagucountryhotel.co.za
  • Die Montagu Museum bestaan uit twee geboue, Joubert Huis en die ou sendingkerk, en het baie goeie aanwysingsborde. Dis ʼn heerlike uitstappie om nie net meer van die omgewing en geskiedenis te leer nie, maar ook van die plaaslike krui- en plantgebruike.
  • Net voor jy deur die rotswand uit die dorp ry, kan jy sien hoe die vorige vloedlyne met sementtorings van verskillende hoogtes uitgebeeld word.
  • Bespreek jou ten volle toegeruste Suzuki Jimny by Treadlite 4×4. Die 4×4’s kan in Johannesburg, Kaapstad, Durban of Windhoek opgetel word en is beskikbaar in handrat en outomaties. Die voertuig word gepak volgens jou behoeftes en is ideaal vir dié wat in die boendoes wil gaan kamp opslaan, maar nie al die toerusting het nie. Hulle pak selfs die servette en wynglase vir jou in!

Ons het vir dié plattelandse avontuur die geleentheid gehad om die nuwe generasie Jimny van Treadlite 4×4 – ook ʼn lid van Cape Country Routes – te toetsbestuur. (Foto: Maryke Roberts)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.