Samara: Sielerus, sterrenag en skatte van die Karoo

Witgatboom onder die sterre (Foto verskaf deur Samara)

Toe ek gehoor het ons gaan in die middel van die winter Graaff-Reinet toe en boonop in tente slaap, het ek dadelik winkel toe gery om vir my ekstra warm ondergoed te gaan koop. Ek het seker gemaak my testament is in orde, want ek was half oortuig ek gaan dit waarskynlik nie oorleef nie.

Toe hulle gesê het ons gaan boonop jagluiperds te voet volg, het ek ook maar net skepties geglimlag. “Hoe op aarde?” het ek gewonder.

Ek het nooit kon raai wat dié naweek vir my sou voorlê nie en ek kan met absolute oortuiging verklaar: ek is in my lewe nog nooit só bederf nie.

ʼn Oase in die Karoo

Ons het die Vrydagoggend uit Kaapstad na Gqeberha gevlieg. Van daar is dit slegs sowat twee en ʼn half ure tot jy by Samara-Karooreservaat, aan die voet van die Sneeuberge, aankom. Ons het ʼn voorsmakie gekry van die luukshede wat die naweek vir ons voorlê toe die personeel van die Manor House ons ingewag het met ʼn heerlike koppie warmsjokolade.

Aankoms by Samara se Manor House (Foto verskaf)

Die splinternuwe tente by die Plains Camp was gelukkig nog nie gereed nie, so my vrese oor verkluiming is gestil toe ons in die Manor House kon tuisgaan. Dié suites is die woordeboekdefinisie van “luuks” – van ondervloerse verhitting en lugreëling wat beteken jy weet nie eers dis winter buite nie tot ʼn sjokolade en spesiale poskaart wat elke aand vir jou wag.

Sarah en Mark Tompkins het in 1997 die eerste plaas, Apieskloof, aangeskaf toe hulle hul hart op die gebied verloor het. Hulle het sedertdien nog plase aangeskaf en Samara beslaan tans ongeveer 27 000 hektaar. Die grond begin herstel van die impak van generasies se landbou en ʼn ambisieuse program van grondrehabilitasie en om wild weer terug te plaas, duur voort.

Troppe springbok, swartwildebeeste, sebras en elande trek oor die Kamdeboo-vlaktes. Olifante en jagluiperds het hulle weer tuisgemaak en byna twee eeue ná leeus hier geheers het, kan jy hulle gebrul weer snags hoor.

Op die spoor van ʼn jagluiperd

Saterdagoggend is ons bederf met ʼn lipaflek-lekker ontbyt voor ons opgewonde in die voertuig gespring het. Kevin Simon, ʼn spoorsnyer, is met ʼn radartoestel reeds vroegoggend uitgestuur om te kyk of hy dalk die jagluiperds sou kon opspoor.

Samara is ʼn Groot Vyf-reservaat en bewaring is vir hulle prioriteit. Elke interaksie met diere word slegs deur ervare wildbewaarders hanteer.

Die laaste wilde jagluiperd in die Karoo is in die 1870’s gesien. Uit vrees dat hulle ʼn bedreiging inhou vir vee, is hulle reg oor die Oos-Kaap gejag en die gevolg was dat hulle plaaslik uitgesterf het.

Dit was die geval tot 2004 toe Samara geskiedenis gemaak het deur jagluiperde weer as ʼn hoofroofdier in die Karoo bekend te stel.

Die heel eerste jagluiperd, Sibella, is by Samara vrygelaat ná sy op ʼn plaas in Noordwes gerehabiliteer is. Almal wat by haar rehabilitasie betrokke was, het asem opgehou om te sien of sy vir haarself sou kon sorg, gegewe die beserings wat sy opgedoen het. Toe sy egter self haar prooi gaan vang, het hulle geweet die projek was ʼn sukses. (Klik hier om Sibella se aangrypende verhaal te lees.)

Sy het ʼn paar maande later met haar welpies by die Manor House se voordeur kom suip, so asof sy by die mense met hulle wou kom spog, en byna of sy vir haar kinders wou wys: “Kyk, hier is mense. Hulle is nie ons bron van kos nie, maar hulle is ook nie ʼn bedreiging nie.”

Sibella het uiteindelik 14 jaar oud geword en 19 welpies uit vier werpsels gehad.

Danksy dié besonderse band is dit vir Samara en sy gaste vandag moontlik om die jagluiperds te voet te volg en hulle van naderby te beskou.

Kevin het intussen die jagluiperds opgespoor en ons het slegs ʼn paar honderd meter gestap om hulle te sien.

My mond het letterlik oopgehang toe ons op Naledi en haar welpies afgekom het waar hulle aan ʼn springbok lê en vreet het. Ons het op ʼn afstand, van sowat 20 meter, lank vir hulle staan en kyk. Sy en haar welpies het vir ons geloer, maar daar was geen oomblik dat hulle of ons bedreig gevoel het nie.

Dis ʼn ervaring wat ek nie sommer sal vergeet nie.

Vlaktes ruim en wyd

Hierna het ons gids, Dumisani Nleya, vernuftig Wolwekloof uitgery – verby ʼn witgatboom  (ook bekend as ‘n matoppie) wat al 800 jaar oud is. Dis boonop waar Samara sy logo vandaan kry – twee jagluiperds langs ʼn witgatboom.

Die uitsig is asemrowend van daar bo, maar dit is die troppe swartwildebeeste wat jou asem werklik wegslaan. So ver soos wat die oog kan sien, bokspring die swart spikkels.

Trouens, so ver soos wat ons die plaas oor die naweek verken het, was daar diere te sien: gemsbokke wat elke keer weggehardloop en rooihartbeeste wat telkens hul agterstewe op jou draai as jy ʼn foto wil neem, elande, koedoes, steenbokkies, vlakvarke, bergsebras en apies en bobbejane wat nuuskierig sit en loer. Kameelperde wat statig en byna geruisloos verby die voertuig stap. Dan nog die swerm bloukraanvoëls, gompoue, sekretarisvoëls, bruinkopvisvangers en kleinglansspreeus.

Terloops, Samara is die tuiste van 60 soogdierspesies insluitend die Groot Vyf, jagluiperd, aardvark, troppe bokke en 225 voëlspesies.

Ons het die middag gaan loer hoe vorder die Plains Camp en ek kan my net indink watter belewenis dit sal wees om hier tuis te gaan. Jy is weg van die samelewing, weg van tegnologie, weg van die dolle gejaag, weg van die verkeer. Voor jou lê die vlaktes uitgestrek en jy het snags ʼn uitsig oor die melkweg van oos na wes, so ver soos wat jou oog kan sien.

Die Plains Camp het die week ná ons besoek reeds sy eerste gaste ontvang.

Op pad terug is ons bederf met ʼn nagwildrit en ek het begin droom van ʼn lekker warm bad, maar opgesien na die moeite om ʼn bad water te tap.

Toe ons yskoud by die Manor House stilhou, het die personeel met warm nat lappe gereed gestaan sodat ons ten minste ons hande kon ontdooi.

Groot was my verbasing toe ek in die kamer instap en ʼn heerlike skuimbad staan reeds gereed, boonop met ʼn snoesige japon en pantoffels. Hemels. Dis asof dié mense jou gedagtes kan lees.

Op soek na Jeremy

(Foto verskaf deur Samara)

Sondagoggend klim ons met sonsopkoms op die voertuig. Ek is gepantser met ʼn mus, serp en verskeie lae klere. Natuurlik word elkeen toe bederf met ʼn warmwatersak op jou sitplek om seker te maak ons geniet die rit. Mens kan maklik gewoond raak aan dié luukshede.

Samara het onlangs ʼn olifantbul, Jeremy, van die nabygeleë Addo-olifantpark bekom. Jeremy het tot dusver nog nie aangesluit by die bestaande bul en koeie wat op Samara is nie en hy dwaal maar so op sy eie rond.

Ons het die hele naweek al oral bewyse gesien van plekke waar hy was, maar dié ou kolos het ons bly ontwyk.

Ons het wel een van die leeuwyfies in die verte opgemerk – maar sy het ook koers gekies voor ons nader kon kom.

In ons soektog word ons toe bederf deur drie ander grys reuse – laat ek hulle nou nie by die naam noem nie, om seker te maak dat die ouens wat hulle skade wil aanrig, nie van hulle te hore kom nie.

Op die rivieroewer het die personeel gereed gestaan met nog ʼn bederf: die rooi tafeldoeke en piekniekmandjies met ontbyt was ʼn fees.

(Foto: Suné van Heerden)

Van hier het ons na die sterrebed gaan kyk – ʼn hemelbed langs die rivier, spesiaal vir verliefde wittebroodreisigers, waar jy op ʼn stellasie onder die sterrehemel kan slaap. Indien jy besoek aflê aan Samara, vra gerus die gids om die storie te vertel van die leeu wat een aand nuuskierig kom ondersoek instel het by pasgetroudes wat van die sterrebed gebruik gemaak het.

Net toe ons wou moed opgee dat ons Jeremy nie sou sien nie, toe loer hy vir ons deur die bos! Die perfekte afsluiting vir ons wildkyksessies.

Jeremy (Foto: Suné van Heerden)

Olifanttrop (Foto: Daviid Swanepoel)

Bosveld in die Karoo

Kapenaars hoef nie al die pad Limpopo toe te reis vir die Bosveld nie, dis sommer in die middel van die Karoo hier by Samara te sien.

ʼn Hoogtepunt was ʼn bosete Sondagaand: lanterns en vure en liggies net waar jy kyk en nog ʼn smullekker aandete. Bobaas!

Benewens die natuurlike prag van die Karoo was dit die onbaatsugtige gasvryheid van die personeel wat ʼn onvergeetlike naweek verseker het.

ʼn Besoek aan Samara

Uitsig vanaf Eagle Rock (Foto verskaf deur Samara)

Kom kry bietjie rus vir jou siel, verkyk jou aan die uitspansel en ontdek opnuut die skatte van die Karoo by Samara.

Samara is 270 km van Gqeberha (Port Elizabeth) geleë en 53 km van Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Veertig gaste kan by die drie intieme lodges tuisgaan vir ʼn uitnemende safari-avontuur.

Spesiale aanbiedinge is vir Suid-Afrikaners beskikbaar – doen gerus navraag.

  • Die Karoo Lodge is ʼn plaashuis met ʼn uitsig oor die amfiteater van berge. Altesaam 24 gaste kan hier tuisgaan. Groot opknappingswerk is tans aan die gang en sal in Desember 2023 afgehandel wees.
  • Die Manor House is ʼn villa in ʼn Karoo-kontemporêre styl waar agt gaste kan tuisgaan. Jy kan die huis eksklusief bespreek met ʼn privaat voertuig, gids, spoorsnyer en sjef.
  • Die splinternuwe Plains Camp is ʼn unieke safari-ervaring waar jy jou van die wêreld kan afsluit (geen internetopvangs of elektrisiteit nie!), stapsafari’s kan onderneem en in elegante eenvoudigheid weer kan een word met die natuur.

Besoek die webwerf: www.samara.co.za
Skakel vir besprekings: 031 262 0324
Stuur ʼn e-pos aan [email protected]
Facebook/Instagram/Twitter: @SamaraKaroo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.