Son, see en ’n skip

(Foto: Annelize Brits)

Daar is ʼn paar dinge in die lewe wat my so ʼn bietjie in vrees laat. Net om daaraan te dink laat my hart vinniger klop. As ek kyk na die definisie van “vrees” en ook fobies besef ek dat ek vir seker ʼn irrasionele vrees of dan eerder ʼn fobie het. In my geval, fobies …

Ek het ʼn fobie vir klein vliegtuie, bootjies, swem in die see, hoogtes en kabelkarretjies om maar net ʼn paar te noem. Tog het ek geen vrees vir ʼn groot vliegtuig wat oor ʼn oseaan vlieg nie. Om uit ʼn vliegtuig te staar na die wêreld wat klein daaronder lê, gee my ʼn bomenslike kalmte. Maar daardie selfde kalmte was nêrens te vinde toe ek vir die eerste keer op ʼn skip moes klim nie.

Groepsdruk van skoonsussies en vriendinne was die rede hoekom ek begin 2023 vir die eerste keer op ʼn groot skip moes klim.

Soos wat ons nader aan die kaai kom, begin my hart vinniger klop. Om te dink ek gaan op ʼn boot moet klim, wat vir drie dae lank my woning gaan wees. My verwysingsraamwerk van ʼn groot boot is die rolprente Titanic en my laaste klein-bootjierit om die kaai van Houtbaai is ook glad nie ʼn goeie terugdinkoomblik nie. Ek kan nie eens behoorlik swem nie.

(Foto: Annelize Brits)

Vir ʼn oomblik verwar ek die skip met ʼn groot woonstelblok. Groot, statig, sterk. Ek kan nie glo dat dit die skip is waarop ons gaan vaar nie.

Die oomblik dat ek die skip betree, vergeet ek van die buitewêreld. Onmiddellik verander my vrees in ʼn gevoel van opgewondenheid en net daar byt die skipgogga my behoorlik. Vir drie volle dae is jy oorgegee aan die saligheid en die belangrikste keuses wat jy moet maak, is wat jy gaan eet (veral in die buffet-restaurant), watter vertonings wil jy kyk of wil jy eerder rustig in een van die sitkamers gaan sit en luister na ʼn kunstenaar wat op sy kitaar tokkel. En natuurlik, wat is die volgende skemerkelkie op die spyskaart om te beproef.

Net toe ek dink dit kan nie beter nie, klim ons af by die Portugese eiland – weereens ʼn keuse, wil jy rustig op die skip agterbly of wil jy saam afklim. Die see daar is ook anders as die see waaraan ek gewoond is – geen rowwe seestrome en groot golwe nie.

Ons het geswem, geëet en behoorlik gekuier saam met ou en nuwe vriende wat op die skip gemaak is. Dit was absoluut ʼn driedagfees. En toe ek die Maandag van daardie skip afklim, het ek geweet ek sal nooit weer dieselfde na ʼn skip kan kyk nie.

Gelukkig word ek en my wederhelfte toe genooi om saam met Kurt Darren die Super Sokkie-bootreis mee te maak. So klim ek presies twee weke later, heeltemal onbepland, weer op die boot. Wat ʼn fees!

Baie mense het my al gevra hoekom die boot so anders is, wat maak dit so lekker. En vir my is dit beslis die gevoel van algehele ontspanning. Daar gebeur niks wat jy móét doen nie. Daar is net soveel wat op die boot gebeur dat jy vryheid het om te kom en gaan soos jy wil. Jy kan selfs vroegoggend gaan stap of in die gimnasium gaan oefen. Daar is ʼn salon wat die beste rugmassering gee, ʼn rits winkels waar jy na hartelus en belastingvry kan koop, vermaak om elke hoek en draai, of jy kan die hele dag net langs die swembad ontspan met daai boek wat jy nog altyd wou lees.

En ja, my volgende bootreis saam met vriendinne is reeds bespreek. En ja, ek gaan weer volgende jaar op die Super Sokkie-bootreis saam met Kurt Darren. Dié keer gaan Maroela Media se span ook saam en hulle gaan sorg vir heerlike vermaak gedurende die dag op die dek. Daar is so baie om na uit te sien. Nege van die bekendste Afrikaanse kunstenaars gaan saam en hulle gaan sorg dat daar lekker gesokkie gaan word. Maroela Media en MSC neem ook twee jong ontluikende kunstenaars saam vir ʼn bietjie ekstra lekkerte vir die jongklomp.

Natuurlik kan ek nie wag om op dié boot te klim nie. Nog groter, nog beter. Dink net hoe lekker sal dit wees om ʼn rekordgetal Afrikaanssprekendes daar te hê.

Daarom nooi ons jou om van 8 tot 11 Maart 2024 saam met Maroela Media, Kurt Darren, kykNET en nege Super Sokkie-kunstenaars te kom vaar na die Portugese eilandgroep. As jy nog nooit op ʼn skip geklim het nie, is dit nou jou kans. Dit gaan net lekker wees.

Vir meer inligting, klik hier en om sommer nou dadelik seker te maak jy loop nie die geleentheid mis nie, bespreek hier.  ʼn Deposito van slegs R3 000 is nodig om jou plek te verseker.

Ons sien jou daar!

  • Annelize Brits is Maroela Media se bedryfsbestuurder.

Op pad na die Portugese-eiland vir ‘n dag se son, strand en see. (Foto: Annelize Brits)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.