Terugblik op die Rebelspoorvasbyt

Cecilia Barnard (Foto: Verskaf)

Deur Cecilia Barnard

Die laaste drie dae ná my terugkeer uit die Kalahari was ’n kaleidoskopiese dwaal. My sintuie is oorweldig deur die oorvloed mense, geluide, kleure en stemme ná ’n week van eenvoud en stilte.

Daarom dat ek vanaand (30 Maart 2019) vir die eerste keer die moed kon bymekaarskraap om te probeer verwoord en neer te pen wat hierdie afgelope week met my siel gebeur het.

Ek het van die begin af geweet hierdie staptoer sou ’n lewensveranderende ervaring wees. Maar presies hóé, sou ek nooit kon raai nie. Dit is onmoontlik om so ’n uiteenlopende spul mense bymekaar te gooi, tesame met ’n helse vrag hout en ’n tenk vol drinkwater, en net verwag dat alles seepglad sal verloop. En tog, met stampe en stote, ’n hele paar skuur- en skaafmerke en minimale beserings, het vreemdelinge binne ’n kwessie van ’n dag familie geword. ’n Familie wat ek tot aan die einde van my dae sal koester.

Daar is iets aan die Kalahari-son wat jou stroop van al jou pretensies en voorbehoude. Jou menswees word tot op die been ontbloot en jou siel oopgelê vir die mense om jou.

Dit is een van die angswekkende gevoelens wat in ’n persoon ontketen kan word, maar ook een van die bevrydendste. Jy vind weer vreugde daarin om terug te keer na die eenvoudige dinge van hierdie lewe, klein goedjies wat so dikwels oorskadu word en verlore gaan in ons alledaagse gejaag na wind.

Die kameraderie wat tussen mense ontstaan wanneer jy so sonder genade saamgegooi word, is onbetwisbaar. Niemand word agtergelaat nie, niemand word vergeet nie. Hierdie week was emosioneel en fisiek uitputtend. Ek het myself harder as ooit tevore gedruk en my eie perke keer op keer verbygesteek. Daar was tye dat ek slegs op die geluid van my eie voetval konsentreer het. My gedagtes kon nie verder strek as die aksie van net die een voet voor die ander sit en sodoende aan die beweeg bly, sonder om te dink aan die hittige kilometers wat nog voorlê.

Die deursettingsvermoë en krag wat in myself, en ander, na vore gekom het, het my verstom. Nog nooit vantevore was ek so trots op my herkoms, my voorouers en my landgenote van vandag nie.
Elke sekonde wat ek op hierdie stukkie aarde spandeer het, het my met dankbaarheid en nederigheid vervul. Op die laaste aand het ek en ’n paar ander die koppie op Van Rooisvlei uitgeklim. ’n Gevoel van ootmoed wou my oorweldig toe ek oplaas bo staan en afkyk na die duiselingwekkende landskap om my. Ek het lank ná sononder nog op die rotslys gesit en my verwonder aan die ongereptheid van die landskap hier onder my.

(Foto: Verskaf)

Daar is niks, maar niks, in hierdie wêreld wat jou so ontsaglik klein laat voel soos die besef dat jy in die spore gestap het van mense – gewone burgers – wat 105 jaar terug besluit het om op te staan en te bly veg vir hul nasie, nageslag en te streef na vryheid nie. Later sonder skoene, sonder perde, sonder wapens en sonder kos. Maar nooit sonder hoop nie. En met ’n beslistheid en trots in hul harte wat geen uniemagte hul kon ontneem nie.

Ek het daardie week weer leer lag soos ’n kind, ek het weer leer glo soos ’n kind. Sonder sorge, sonder twyfel. Soggens, wanneer die kamp begin roer het en lank voor die son oor die horison loer, was ek sekerder as ooit wie ek as mens, as Afrikaner en as vrou is. En wanneer die dag met gebed geopen is en elke man en vrou stil hul hoofde gebuig het, was ek seker oor my plek in die koninkryk van my Skepper.

Ek kan teruggaan en elke oomblik in detail oorvertel. Maar sommige belewenisse word beter bewaar in die harte van dié wat dit meegemaak het. Somtyds is ’n oomblik té kosbaar om met die mensdom te deel of in woorde te probeer omsit, en bly dit agter in die veiligheid van jou eie herinneringe.

Jy, en dié wat saam met jou daar was, julle weet. Julle verstaan. Ons harte het agtergebly in die rooisand van die Boesmanland.

  • AfriForum Jeug bied jaarliks drie leierskap-en-geskiedenisstaptoere aan. Besoek dié organisasie se webwerf as jy vanjaar wil gaan saam stap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.