Uitstappie na die Havelland

Die Ribbeck kerk (Foto: Verskaf)

November is in Europa nie juis ʼn maand vir uitstappies nie. Dit is mistig en koud, die eerste effense sneeu kom ook soms voor. Nogtans het ek saam met my seun en ʼn vriend weer op ʼn verkenningstog na ʼn spesifieke streek, die Havelland noordwes van Berlyn, gegaan.

Die Havel is die rivier wat, anders as die meeste riviere in Duitsland wat in die suide ontstaan en dan noordwaarts vloei (een van die min wat in die noordelike vlaktes van Mecklenburg ontstaan en dan suid vloei), deur die buitewyke van Berlyn (sommer amper by ons huis verby) vloei en weer wes waar dit in die Elberivier uitmond.

Ons eerste stop was Ribbeck. Die naam klink vir Suid-Afrikaanse ore natuurlik verbasend na ons eie Jan, maar is vernoem na ʼn adelgeslag wat terugstrek tot in die 13de eeu. Dit is skaars ʼn dorp – eintlik was dit ʼn plaas met herehuis en buitegeboue, woonhuise vir die werkers en ʼn kerkie.

Vandag leef die dorp feitlik net van toerisme, want Ribbeck is in Duitsland wyd bekend deur die gedig van Theodor Fontane, wat die meeste kinders op skool moes leer:

“Herr von Ribbeck auf Ribbeck im Havelland, ein Birnbaum in seinem Garten stand…” (Meneer van Riebeek uit Riebeek in die Havelland, daar het ʼn peerboom in sy tuin gestaan…).

Die Ribbeck herehuis (Foto: Verskaf)

Die gedig handel oor die adellike wat sy lekker pere vrygewig aan kinders uitgedeel het. Die legendariese peerboom is lankal tot niet, maar ʼn stuk van die stam word nog soos ʼn oorblyfsel in die museum uitgestal. Voor die kerk is intussen die vierde peerboom geplant.

Die Ribbeck-familie is, soos alle landelike adellikes, in die tyd van die kommunistiese bewind oor Oos-Duitsland onteien en hulle landerye is in staatsplase omskep. Na die val van die muur het die familie ʼn hofsaak aanhangig gemaak om hulle besitting terug te kry.

Hulle het wel finansiële kompensasie ontvang, dit gebruik om die erg vervalle plaasgeboue te koop, te herstel en sodoende gehelp om toerisme te laat opleef. Die pragtige herehuis is egter steeds staatseiendom en word as uitstalruimte en vir funksies gebruik.

Perleberg met die markplein en historiese huise (Foto: Verskaf)

Ons eintlike bestemming was Perleberg. Dié klein stad, met sowat 12 000 inwoners, het ontstaan op ʼn riviereiland wat strategies gunstig was. Die stad lê ook net mooi halfpad tussen die twee grootste Duitse stede, Berlyn en Hamburg.

Weens sy ligging as halfpadmerk het Perleberg reeds in die Middeleeue tot ʼn beduidende handelstad ontwikkel en was ook lid van die Hansa, ʼn kommersieel-politieke alliansie van beduidende handelstede in hoofsaaklik Noord-Europa. Uitdrukking van die stad se selftrots destyds was die standbeeld van die Roland‚ ʼn mitiese ridderfiguur wat staan vir stedelike selfstandigheid teenoor die keiser.

Perleberg met sy stadsaal en kerk (Foto: Verskaf)

Die welvaart deur handel en ambag het ook sy neerslag in die argitektuur gevind, met die stadskerk en stadsaal in die Noord-Duitse baksteengotik as die tekens van kerklike en wêreldse gesag. Ook pragtige Fachwerk-huise versier die markplein (Fachwerk is die Duitse tradisionele boustyl met ʼn houtraam wat dan met stene en pleister opgevul word).

In die Middeleeue was hier ook, te danke aan die handel, ʼn aansienlike Joodse bevolking, wat egter verskeie kere verdryf en uitgemoor is. Die Judenhof, ʼn soort mini-ghetto, bestaande uit ʼn paar ommuurde huise rondom die sinagoge, is ook weer herstel – selfs al woon daar geen Jode vandag meer daar nie.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.