Video: Kry ʼn adrenalien-inspuiting tussen die klowe

Cape Canopy Tours (Foto: Alfred Thorpe/verskaf)

As jy al ooit na Spider-Man of Tarzan-flieks gekyk en gewens het jy kan ook só tussen geboue of bome rondswaai, moet die Cape Canopy Tour in Grabouw in die Elgin-vallei volgende op jou doenlysie wees.

Cape Canopy Tour, deel van Cape Country Routes se aktiwiteitsondernemings, is ʼn bekroonde avontuurservaring wat aan plaaslike en internasionale gaste ʼn behoorlike adrenalien-inspuiting bied.

ʼn Stelsel van kabels en platforms hoog in die berge (sowat 1 000 m bo seespieël) laat jou toe om soos ʼn wafferse arend tussen die kranse te baljaar.

Cape Canopy Tour is in 2014 deur Ryan Larkman begin as ʼn vennootskap tussen die Canopy Tour-franchise en CapeNature en is geleë in die Hottentots-Hollandnatuurreservaat, ʼn wêrelderfenisgebied.

Terwyl jy skater van plesier gaan jy ook asembenemende uitsigte geniet oor die omgewing – uit ʼn splinternuwe perspektief.

Cape Canopy Tour is reeds ʼn jaar ná dit sy deure oopgemaak het, aangewys as die wenner in die kategorie Beste Opkomende Toerismeonderneming deur die Wes-Kaapse premier se erkenningstoekennings (Pera). The Lonely Planet se New In Travel-minigids het dit ook in die tweede plek geplaas as die “beste nuwe aktiwiteit in die wêreld” – die enigste Afrika-ervaring om dié lys te haal.

Cape Canopy Tour se halfdag lange glykabel-avontuur bied die avontuur van ʼn leeftyd: ʼn 4×4-roete deur die natuurreservaat voor jy met 11 kabels tussen 13 platforms deur die lug gaan seil. Van die glykabelritte is meer as 300 meter lank en die langste een duur 30 sekondes!

ʼn Hangbrug neem jou boonop oor ʼn dubbele waterval en jou mond gaan oophang as jy dié uitsig aanskou.

Die glykabel-avontuur duur tussen vier en vyf ure en kos R995 per persoon. Dit is geskik vir enigiemand tussen vyf en 75 en alle toerusting en opleiding is ingesluit.

Cape Canopy Tours is slegs ʼn uur se ry buite Kaapstad.

Bespreek jou adrenalien-inspuiting

Skakel Cape Canopy Tour by 021 300 0501
Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected]
Besoek die webwerf: www.capecanopytour.co.za

Oor Cape Country Routes

Cape Country Routes is ʼn groep akkommodasie- en aktiwiteitsondernemings wat deur die eienaars bedryf en bestuur word. Meer as 20 hotelle, lodges, gastehuise en aktiwiteite in privaat besit – is geleë op skilderagtige en geskiedkundige roetes in die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Elkeen is sorgvuldig uitgesoek vir hul karakter, sjarme en romanse, en hulle bied die beste akkommodasie- en aktiwiteitsopsies om by elke smaak en begroting te pas.

Cape Country Routes bied ook ʼn lojaliteitsprogram: Lojaliteit-lidmaatskapsopsies is beskikbaar vir individue/egpare (R200 per jaar) of gesinne (R500 per jaar) en bied groot afslag en waarde-toevoegings saam met deelnemende akkommodasie- en aktiwiteitsverskaffers. Sluit gerus hier aan en klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.