Vir jou wil ek blomme gee…

 annami-simon_namakwa-1.jpg

Annami en Helgard tussen die blomme (foto: Namakwa Toere)

Deur Annami Simon

Hulle sê die pad na ʼn man se hart loop deur sy maag en ek reken dis redelik in die kol. En die pad na ʼn vrou se hart?

Blomme. ’n Hele bos daarvan of selfs net een. Gekoop, langs die pad gepluk of uit jou buurman se tuin gegaps. Dit maak nie saak hoe jy dit gekry het of hoeveel jy gee nie, die boodskap is dieselfde: Ek is lief vir jou!

My heel eerste blom as teken van romantiese liefde het ek in matriek gekry – ’n bloedrooi papawer, gegaps deur ’n tuinheining in Albertstraat, Wellington. Ek ry nog soms daar verby om te kyk of daar nie weer sulke rooi papawers groei nie.

 annami-simon_namakwa-3.jpg

Vanrhynsdorp se blomtapyt (foto: Namakwa Toere)

Daar was talle bosse blomme intussen. En enkeles. Tog onthou mens sekeres beter as ander. Soos op Valentynsdag in 1989 toe ek huismoeder by die Murray Kinderhuis in Wellington was. My tien “dogters” plus my eie twee kinders, het opgewonde begin jil en uitgeroep: “Tannie, Tannie! Iemand het vir Tannie blomme gebring! Kom kyk!” Buite voor die deur het daar ’n konfytfles vol goudgeel krisante gestaan. Daar was geen briefie by nie, maar ek het geweet van wie dit kom. Hy is intussen oorlede en al waaraan ek kon dink om vir hom vir sy hiernamaalse reis saam te gee, was ’n bos geel krisante wat ek tussen sy hande geplaas het.

In ons TV-kamer staan ’n koperkruik. Binne-in is ’n gedroogte bossie rooi rose met ’n lint daarom. Pas nadat ek my nuwe lewensmaat ontmoet het, het hy my een oggend op die lughawe kom haal. In sy een hand was hierdie bos donkerrooi rose en in sy ander ’n tamaai plakkaat waarop hy sy liefde onbeskaamd verklaar het.

Annami en Helgard
by die Nieuwoudtville-waterval (foto: Namakwaland Toere)

Valentynsdag is hier. Winkels, restaurante en gastehuise ding mee om jou en jou geliefde ’n dag, aand of naweek van romanse te bied.

As ek kon kies, wat sou dit wees?

Blomme. Gee my sommer ’n veld vol blomme. Verskillende kleure en soorte, so ver soos die oog kan sien. Gee my Namakwaland as dit lente is. Ek weet waarvan ek praat, want ek en my Liefgeit het verlede jaar op Maroela se Storiebus geklim en ons dae het geblom. (Lees hier oor die skrywer se ervaring van Namakwaland)

As jy nog nie besluit het watter soort blomme jy jou geliefde op 14 Februarie wil gee nie, nooi haar/hom eerder vir ’n onvergeetlike Valentynservaring met Maroela se Storiebustoer deur Namakwaland – blyplek, vryplek – waar jy vir ’n hele vyf dae jou liefde tussen die blomme kan verklaar!

Vir jou sal ek blomme koop
tot my geld opraak
Vir jou sal ek kaalvoet loop,
ja, dit maak nie saak… [Uit Blomme gesing deur Pieter Smith]

Ons nooi jou saam: Maroela Media se Storiebustoer deur Namakwaland vind plaas vanaf 9 tot 13 September 2020. Pryse vir die toer begin vanaf slegs R10 000 pp wat deel. Vul die onderstaande vorm in vir meer inligting, besprekings en die toerprogram.

Ons kan nie wag om saam met jou te reis nie! Onthou daar is slegs ʼn beperkte hoeveelheid sitplekke op die bus.

Oops! We could not locate your form.

Hoor ook wat ander 2019-toerlede van die belewenis te sê gehad het:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.