Hier is dit hemel op aarde

Veld vol ridderspoor (foto Namakwa Toere)

Die oggendlug is koel teen my vel; ek het verseker nie genoeg warm klere gebring nie en besluit om sommer een van die buskombersies om my te draai. Die son het al ʼn rukkie terug kop uitgesteek, maar net soos ʼn koolstoof ná die nag se rustyd is die hitte maar min. ʼn Bus vol opgewonde Maroela-lesers begin gesels oor hulle verwagting van Namakwaland.

Maar nooit sou enigeen van ons kon indink hoe Namakwaland ons lewens sou verryk en verander nie. Dit is hier in die stilte van die Noord-Kaap waar God die hemele oopmaak vir die mens om ʼn klein bietjie hemel op aarde te kan beleef. Waar jy intens Sy teenwoordigheid kan voel. Ek is oortuig daarvan dat Namakwaland God se spogveld is. DJ Opperman se gedig, Namakwaland, maak nou sin:

Namakwa_veld-vol-blomme.jpg

Veld vol blomme (foto: Namakwa Toere)

Op die groot saaidag van die heelal
het reeds ‘n entjie duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
‘n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

Hier is ʼn paar van my persoonlike hoogtepunte van 2019 se toer.

Die Knersvlakte

Een van die lekkerste dele van dié toer is dat dit spesiaal in Afrikaans aangebied word. Marné, die toerleier en Mike, die busbestuurder, vertel ook die hele pad stories uit die geskiedenis van alles wat jy sien. Dit voel soms onmoontlik dat soveel wonderlike dinge in een plek vasgevang kon word en dat soveel hier gebeur het.

In die Knersvlakte het ons almal maar huiwerig uit die bus uit geklim, dit was vroeg en koud maar toe ons oë die eerste wonderwerkie tussen die wit klippies gewaar, was ons soos valke agter ʼn blink dingetjie aan.

Hier tussen die klippies is die mooiste vetplantjies en blommetjies. Elkeen met sy eie storie. Ek sien vir die eerste keer in my lewe ʼn sentkannetjie en kruip behoorlik op my knieë om hom te kan ruik.

Die wapad na Vanrhynsdorp

Vir meeste besoekers aan Namakwaland is die wapad na Vanrhynsdorp onbeskore, dit is nie die tipiese pad wat ʼn besoeker of ander toerbus sal kan neem nie. Maar dit is hierdie onaangeraakte juwele wat die mooiste geheime inhou. Dit is daardie onverwagse besienswaardighede van Namakwaland wat dié toer so besonders maak. Dit voel behoorlik of jy nie vir ʼn sekonde sonder jou kamera kan loop nie want jy gaan alles vir jou familie en vriende wil wys. Maar tog weet ek dat as jy nie daar was nie, jy dit nie sal verstaan nie. Ons het hier ter voet die pad aangedurf en elke moontlike blommetjie bestudeer. Hier is twee van my gunstelingontdekkings:

Namaqua-wyn vir die koue

Ná ʼn lang dag in die veld maak ons ʼn draai by Namaqua-wyne. Hoe kan ʼn mens tog nou Kaap toe gaan en nie minstens een wynplaas besoek nie?

Ons kuier al te gesellig saam en proe-proe aan die verskillende wyne wat hier vervaardig word. Dit was omtrent ʼn fees van geure en kort voor lank het ons almal met ʼn bottel of twee die deure uitgestap vir ʼn “nightcap” by die hotel.

Aande by die hotel is alles behalwe vervelig. Buiten genoeg tyd vir rus en eet is daar natuurlik ook storietyd – dit is tog immers ʼn storiebustoer. In die sitkamer van Namakwa Lodge het ons heerlik gekuier saam met oom Jasper Niewoudt, bobaas-storieverteller van die kontrei, en Egbert Brink van Radio Namakwaland. Ons het selfs een aand boeremusiek gemaak en sommer bietjie gedans ook.

Die kokerboomwoud

Dit is eintlik belaglik hoe min van die asemrowende natuurskoon werklik vasgevang kan word met ʼn kamera. Ek wil elke keer vir almal vertel van die kokerboomwoud, en dan is dit so ʼn afgewaterde oomblik as hulle die foto’s kyk. Vir my was dit ʼn WOW-oomblik in my lewe. Ek het nog nooit so iets gesien nie: kokerbome oral waar jy kyk, duisende en duisende wat oor kilometers dorre landskap strek. Dit is verseker God wat hierdie bome self een vir een hier plant. Dit was een van daardie oomblikke wat jy dink, hierdie is iets uit ʼn fantasiefilm! Ons het ʼn hele rukkie lank in die woud spandeer en foto’s geneem saam met die bome. Ons kon nie genoeg kry nie.

En vele meer

Dit is werklik ʼn onmoontlike taak om elke herinnering neer te pen.  Die oomblikke tussen die herinneringe is gevul met die mooiste blomme en stories. Die mense wat jy ontmoet op die toer bly jou vir altyd by. Elke glimlag en selfs traan waar jy in verbasing staan oor God se goedheid en guns oor ons. Weet dat hierdie toer baie meer gaan wees as net ʼn uitstappie met blomme. Jy gaan verseker nie dieselfde mens terugkom nie. En Namakwaland sal jou ALTYD bybly hierna.

Namakwaland_wit-blomme_stiltetyd.jpg

Foto: Eugene Lottering

Met die winter om die draai raak die opwinding vir blommetyd in die Namakwaland al groter. In 2019 het ons ons eerste Namakwaland-blommetoer aangebied in samewerking met Namakwa-toere. Dit was ʼn onvergeetlike ervaring met hoogtepunte en kleurontploffings om elke hoek en draai.

Daarom kan ons nie anders as om van 9 – 13 September 2020 weer só te maak nie! Ons nooi jou saam: Dit gaan verseker ʼn onvergeetlike ervaring wees. Vul jou besonderhede hier onder in om meer inligting oor die toer te ontvang.

Onthou, as jy nou bespreek kan jy die toerbedrag maandeliks afbetaal. Ons sien uit daarna om saam met jou te toer!

Oops! We could not locate your form.

Hoor ook wat ander 2019-toerlede van die belewenis te sê gehad het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.