Keer só dat jy ʼn slagoffer van ʼn liefdeswendelaar word

Getalle op maatsoek-apps het in die inperkingstyd drasties toegeneem. (Foto: Good Faces Agency/Unsplash)

Dit blyk dat die prys van liefde in sommige gevalle hoër as die prys van petrol is, want namate getalle op maatsoek-apps in die inperkingstyd toegeneem het, het dit ook ʼn nes vir sogenaamde liefdeswendelaars geword.

Soos gesien op die Britse dokumentêr The Tinder Swindler wat vroeër vandeesmaand op Netflix gedebuteer het, word slagoffers soms uit derduisende dollars verneuk en gevolglik met gebroke harte, leë beursies en rooi gesigte gelaat.

Wat presies is ʼn romansebedrogspul?

Die Suider-Afrikaanse bedrogvoorkomingsdiens verduidelik dat liefdeswendelary plaasvind wanneer ʼn misdadiger ʼn vals aanlyn identiteit aanneem en die illusie van ʼn romantiese of hegte verhouding gebruik om die liefde en vertroue van ʼn slagoffer te wen.

Die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) waarsku dat dié swendelaars kundiges is wat sorgsaam, opreg en dikwels uiters geloofwaardig voorkom. Die swendelaar se bedoeling is om so gou moontlik ʼn verhouding te vestig. Dit is nie ongewoon vir hulle om dadelik hul liefde aan slagoffers te verklaar of selfs huweliksplanne voor te stel nie. Hulle sal dikwels ook planne maak om slagoffers persoonlik te ontmoet, maar dit sal altyd deur die mat val.

Simon Leviev, gebore Shimon Hayut, het vroue uit miljoene dollar gekul. (Foto: Facebook)

Hulle sal gereeld ook voorgee dat hulle in die konstruksiebedryf is en dus baie moet reis vir werk, wat dit makliker maak om ontmoetings in lewende lywe te vermy. Uiteindelik sal hulle geld begin vra.

Party sal beweer dat hulle dringend geld benodig vir noodgevalle, hospitaalrekeninge of die een of ander lewensgevaarlike situasie waar hulle terminale siektes het. Ander sal weer maak soos die “Tinder Swindler”, Simon Leviev, en vroue se voete onder hulle uitslaan deur eers die illusie te skep dat hulle ryk is.

Maroela Media het vroeër berig dat Leviev (oftewel Shimon Hayut) veral geloofwaardig voorgekom het omdat hy vroue aanvanklik met duur geskenke sou bederf en vir etes op private stralers neem met geld wat hy by ander vroue geswendel het. Hy sou later voorgee hy word geteiken deur “sy vyande”, en dieselfde boodskappe en foto’s vir elkeen van die vroue stuur, en voorgee dat sy lyfwag, ene Peter, aangeval is en die slagoffers dan vra om hom geldelik by te staan.

Ander sal vra dat hul slagoffers net geld namens hulle moet “bewaar” in hul bankrekening en betrek hulle dus sodoende onverwags by geldwassery.

Die Amerikaanse bankgroep, Security National Bank, waarsku ook dat swendelaars slagoffers byna dadelik sal probeer oortuig om die afspraak-app te verlaat en persoonlike nommers of e-posadresse uit te ruil. Hoewel dit nie noodwendig soos ʼn rooi vlaggie lyk nie, maak dit die deur oop vir potensiële swendelaars om toegang tot jou persoonlike inligting te kry. Apps soos Tinder het juis om dié rede kitsboodskapplatforms waarop mense kan gesels.

Apps is nie die enigste gevaarsone nie

Luidens ʼn 2021-verslag van die Amerikaanse Federale Handelskommissie het mense verlede jaar byna $547 miljoen (sowat R8 331 miljoen) deur aanlyn romansebedrogspulkunstenaars verloor. Dié verslag het ook gewaarsku dat apps  soos Tinder nie die enigste platform is waar hierdie swendelaars skuil nie.

Berigte van onverwagte private boodskappe op sosialemediaplatforms word al hoe meer algemeen en meer as ʼn derde van mense wat gesê het dat hulle in 2021 geld verloor het weens ʼn aanlyn romansebedrogspul het die swendelaar op Facebook of Instagram “ontmoet”.

Die BCC Three-kameraspan konfronteer vir Ali Ayad buite sy huis in Londen. (Foto: BBC/Jobfished)

Dié platforms is juis ideaal omdat sosialemediaprofiele gedokter kan word om geloofwaardigheid aan ʼn persoon te gee. Een só ʼn voorbeeld is te sien in BBC Three se jongste dokumentêr Jobfished, waar Ali Ayad, ʼn sogenaamde handelsmerkgenie met ʼn spoggerige sosialemediaprofiel en fopwebwerf meer as 50 werknemers mislei het om te glo dat hulle by die innoverende digitale agentskap, Madbird, werk.

Só keer jy dat jy ʼn slagoffer word

  • Pasop watter inligting jy van jouself op sosiale media en apps plaas. Swendelaars kan dié besonderhede gebruik om jou beter te verstaan en te teiken.
  • Wees ook versigtig om enige video’s of foto’s te stuur wat later gebruik kan word om jou af te pers.
  • Die FBI beveel aan dat jy die persoon se foto en profiel navors deur aanlyn soektogte te gebruik om te sien of hul foto, naam of besonderhede elders gebruik is.
  • Moenie oorhaastig wees om groot stappe te doen in die verhouding nie.
  • Vermy enige finansiële transaksies, hetsy jý vir die persoon of die persoon vir jóú.
  • Wees waaksaam as die persoon dit vermy om jou persoonlik, dus in lewende lywe, te ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.