Vier ’n kreatiewe Kersfees

Die reuse-dobbelsteen is ideaal vir buitespeletjies. (Foto: Verskaf)

Kersfees bly ’n tyd van gee en bederf en vir sommiges is dit uitdagend om in hierdie tyd hul families te bederf.

Maroela Media het ’n paar kreatiewe maniere uitgedink om 2022 se Kersfees steeds spesiaal te maak sonder om geld te bestee:

Die reus se dobbelsteen

Dit ideaal vir buitespeletjies. Geskik vir groot en klein.

Jy benodig:

  • ’n Kubus houtblok waarvan al die kante ewe groot is (ons het 8 cm x 8 cm afvalhout vir die kubusse gebruik)
  • Ronde plakkers
  • Skuurpapier

So maak mens:

  • Skuur al die kante van die houtblok tot die oppervlaktes glad en egalig is.
  • Vee enige stof af met ’n klam lappie.
  • Plak nou die ronde plakkers op elke kant van die houtkubusblok. Begin by 1 en gaan so voort tot by 6. (Indien jy nie ronde plakkers het nie, kan die kolle op die kubus geteken word met ’n permanente merkpen.)

Idee vir buite spel:

  • Enige aantal spelers kan speel.
  • Elke speler kry 5 beurte om die dobbelsteen te rol.
  • Die punte word ná elke rol opgetel en die speler met die hoogste punte is die wenner.

Sneeubol

Maak een om hierdie Kersfees vir altyd te onthou. Geskik vir seuns en meisies van alle ouderdomme.

Maak ‘n sneeubol (snow globe) om hierdie Kersfees vir altyd te onthou. (Foto: Verskaf)

Jy benodig:

  • ’n Glas- of plastiekbottel met ’n skroefdeksel.
  • Gedistilleerde water
  • Gliserien
  • Blinkers
  • Klein dekorstukke of speelgoed (verkieslik van plastiek of iets wat waterbestand is).

So maak mens:

  • Plak die dekorstukke of speelgoed aan die binnekant van die skroefdeksel vas met ’n sterk gom of gomgeweer
  • Vul die glas- of plastiekbottel halfvol met gedistilleerde water en 2 teelepels gliserien. Roer goed.
  • Die gliserien sal die water se digtheid verander om sodoende te verhoed dat die blinkers nie
    te vinnig afsak nie.
  • Gooi die blinkers by die watermengsel en roer weer goed deur.
  • Vul die bottel verder (so vol as moontlik) met gedistilleerde water.
  • Roer die mengsel weer goed deur.
  • Skroef nou die deksel op die glasbottel en skud goed. Maak seker die deksel is goed
    vasgeskroef, want die bottel gaan onderstebo staan.
  • Versier die sneeubol met ’n bypassende strik of lint of volgens smaak.

Maansand

Dit staan ook bekend as moon sand en is kindervriendelike (nie giftig) speelsand wat jy sommer vinnig self kan maak. Geskik vir kinders van alle ouderdomme.

Hierdie speelsand kan vir ’n paar weke in die lugdigte houer gebêre word tot dit begin uitdroog. (Foto: Verskaf)

Jy benodig:

  • 8 koppies koekmeelblom
  • 1 koppie kookolie
  • Emmertjie om speelsand in te verpak
  • Strandspeelgoed of houertjies (opsioneel)

So maak mens:

  • Gooi koekmeel in ’n groot houer en maak ’n holte in die middel.
  • Voeg die kookolie in die holte en meng die mengsel goed deur met ’n hand klitser.
  • Gebruik nou jou hande om die mengsel verder goed te meng tot ’n sagte sandtekstuur.
  • Maak seker dat die mengsel egalig gemeng is en die sand vaskleef indien dit saamgepers word.
  • Verpak die sand in ’n lugdigte emmer met strandspeelgoed.
  • Hierdie speelsand kan vir ’n paar weke in die lugdigte houer gebêre word tot dit begin uitdroog.

Badbomme

Hierdie resep lewer ongeveer 5 groterige badbomme. (Foto: Verskaf)

Jy benodig

  • 1 koppie koeksoda
  • ½ koppie sitroensuur
  • ½ koppie Engelse sout
  • ½ koppie meelblom
  • Koskleursel (poeier of jel)
  • 2 ½ teelepels klapperolie
  • 1 teelepel water
  • 15 druppels essensiële olie
  • Badbomvorm of enige silikoonvorm (ons het ou Kersfees balle gebruik)

So maak jy:

  • In ’n medium bak, meng al die droë bestanddele goed saam.
  • In ’n aparte klein bakkie, meng al die nat bestanddele saam.
  • Voeg nou die nat bestanddele stadig en teelepel vir teelepel by die droë bestanddele terwyl vinnig met ’n handmenger geklits word. Wees versigtig om die nat bestanddele nie te vinnig by te gooi nie, anders sal die mengsel begin bruis.
  • Sodra die mengsel soos nat sand lyk en voel, is dit gereed om in die vorms saamgepers te word.
  • Los dit vir ’n minuut in die vorms en haal of druk die badbomme stadig en versigtig uit.
  • Laat dit eenkant staan om goed droog te word.
  • Ná 24 uur sal die badbomme gereed wees om verpak te word in ’n sellofaansakkie of mooi boksie.
  • Hierdie resep lewer ongeveer 5 groterige badbomme.

Geskenkbewys

Maroela Media het reeds die geskenkbewyse ontwerp, wat jy sommer gratis hier kan aflaai!

  • Druk ons geskenkbewyse uit en skryf jou eie unieke geskenkwaarde op elke bewys. Wees kreatief en dink aan dinge wat die ontvanger kan bederf.
  • Knip die geskenkbewyse uit en verpak dit in ’n mooi boksie of koevert.

Wees kreatief en dink aan dinge wat die ontvanger kan bederf. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.