Skep ’n groener wêreld met ’n minituin

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Die woord “vignet” is van Franse afkoms “Vignette” wat ‘n kort literêre skets beteken, of ‘n tegniek wat op foto’s toegepas word. Maar in dekor is ‘n vignet ‘n klein groepie voorwerpe wat saam gegroepeer word deur ’n verskeidenheid hoogtes, teksture, kleure en vorms om diepte en ’n aangename fokuspunt te skep wat ’n gemeenskaplike tema het om ’n storie te vertel. Ek hou van dekoratiewe vignet, want dit is ‘n bekostigbare manier om sjarme, karakter en lewe in enige ruimte, en veral in minituine, te bring.

In hierdie projek gaan ons jou wys hoe om deur die groepering van klein plante, miniatuurmeubels, voëls en dierefigure die gebruik van dekoratiewe vignet toe te pas.

Belangrik om te onthou wanneer jy begin, is dat die grootte van die bykomstighede die skaal bepaal en nie die plante nie en dat al die plante in die houer dieselfde lig- en waterbehoeftes moet hê om die beste sukses te behaal.

Jy benodig:

  • ’n Verskeidenheid klein kaktusse, vetplante en boompies;
  • 1 x groot blombak gevul met goeie tuinmengsel wat geskik is vir vetplante en kaktusse en die nodige klippe vir dreinering;
  • Ekstra wit klippies vir ’n paadjie;
  • Oorskiet mosaïekteëltjies om ’n mosaïekplaveisel te skep;
  • Bisque-ornamente vir jou miniatuurtuintjie – verkrygbaar by Glacermo;
  • Verf en kleurlose vernis om die ornamente mee te verf en te seël;
  • Oorskiet materiaal, garing, naald en skêr om die kussings te maak;
  • Materiaal of papier vir vlaggies – opsioneel;
  • Tou en sosatiestokkies/hout vir die vlaggies – opsioneel;
  • Riviersand;
  • Spuitbottel met water; en
  • Pen en papier om die tuinuitleg te skets.

So maak jy:

1. Sit al jou benodighede byderhand. Vul jou gekose pot met klippe vir dreinering en die regte potsand. Kies plantjies wat klein genoeg is vir jou minituin. Volg die riglyne op jou papier uitleg

(Foto: Verskaf.)

2. Begin altyd met ’n fokuspunt – dit sal jou ontwerp bepaal. As fokuspunt het ek die tuinhekkie en muur geplaas eerste geplaas. Daarna die wit klippies as ’n tipe verlenging in die vorm van ’n paadjie wat dwarsoor die oppervlakte strek.

(Foto: Verskaf.)

3. Die volgende stap was om ’n randsteen met lang teëltjies te vorm vir afronding van die mosaïekplaveisel. As die randsteen goed in sy plek is, neem die riviersand en vul die gedeelte wat jy wil plavei op met die sand. Druk dit stewig vas.

(Foto: Verskaf.)

4. Neem die mosaïekteëltjies en lê jou plaveisel deur die teëltjies netjies en versigtig in die grond teenaan mekaar te druk. Gebruik nou die spuitbottel en spuit die teëltjies en grond ’n klein bietjie nat. Laat staan om droog te word. Vee die teëltjies skoon.

(Foto: Verskaf.)

5. Nou is dit tyd om jou hande vuil te maak en die plantjies te plant.

(Foto: Verskaf.)

6. Voeg ’n persoonlike aanslag by jou minituin deur met verf kleur te gee aan jou miniatuur keramiek Bisque-ornamente. Laat die verf goed droogword en vernis die ornamente om dit te beskerm. Maak vir jou klein strooikussings deur oorskiet materiaal te gebruik.

(Foto: Verskaf.)

7. Volgens my moet elke tuin ten minste ’n uil, ’n kat en ’n waterbak vir voëls hê.

(Foto: Verskaf.)

8. Moenie toelaat dat jou minituin-vignet altyd dieselfde lyk nie. Hou dit opwindend en vars en verras jou kuiergaste elke keer met ’n nuwe minituin-vignet deur net die miniatuurmeubels, voëls, dierefigure en fokuspunt te verander om verskillende temas voor te stel en sodoende ’n nuwe storie uit te beeld.

(Foto: Verskaf.)

Al wat nou oorbly, is om die perfekte plek te vind vir jou minituin waar jy dit in verwondering kan aanskou en jou handewerk kan waardeer.

Wenke:

As dit kom by natmaak, vra hierdie plante regtig nie veel nie – net een keer elke week, na gelang van die weer/klimaat. As jy in ‘n warmer klimaat leef, maak dit elke week nat, maar gedurende koue dae kan hulle langer sonder water bly.

Minituine kan binne of buite gehou word, na gelang van die plante.

Hou in gedagte dat die bykomstighede op dieselfde skaal moet wees, want dit is die realisme wat die toneel betowerend en magies maak.Die verskil tussen ’n minituin en ’n feetjietuin’n Minituin is letterlik ’n lewende tuin in miniatuur. Die fokus is daarop om die tuin op klein skaal te skep en te laat groei.Feetjietuine is nie so rigied in ontwerp en omvang nie, en die fokus val gewoonlik op bykomstighede en die feetjies, en plante is soms ’n bysaak.

(Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.