Terrarium – die geslote ekostelsel wat die tuin na binnebring

Hier is jou stap-vir-stap aanwysings om jou eie terrarium te bou. (Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Terrariums word beskou as aantreklike lewendige versierings. Dit is ’n miniaturr tuintjie in ’n glashouer, omring deur ’n vogtige omgewing wat bevorderlik is vir die groei van ’n wye verskeidenheid plante. Vog verdamp uit die plantblare, loop af teen die terrariumhouer se kante en terug na die grond, wat ’n voedende siklus skep.

Terrariums het min onderhoud nodig, is prakties en dekoratief. Dit is ook ideal vir mense wat nie tyd of plek het vir ’n groot tuin nie. Plaas dit binnenshuis of op die stoep.

Dit kan ook ’n mooi geskenk of lekker aanknopingspunt vir gesprekke wees as jy weer gaste ontvang. ’n Terrarium bring die tuin na binne en voeg by enige vertrek ’n bietjie vrede en rustigheid.

(Foto: Verskaf.)

Soek in jou huis en tuin vir al jou benodighede: 

  • Glashouer – byvoorbeeld ’n visbak of waterbeker maar vir die projek het ons ’n leë, skoon koffieglashouer gebruik;
  • Potgrond – ons het ons eie gebruik;
  • Filtersand – oortollige sand van die swembadpomp;
  • Verskeie soorte klippies – uit die tuin gehaal;
  • Mos – in die tuin gekry;
  • Gebrande houtskool – ons het die boonste lagie verwyder, want ons het nie die regte geaktiveerde houtskool nie (geaktiveerde houtskool is houtskool wat met suurstof behandel is);
  • Plante – uit ons tuin;
  • Versiering – uit die studio; en
  • Eetstokkies of ’n lepel (opsioneel vir wanneer die opening te klein is om jou hand daarin te steek).

Omrede die terrarium in die afsonderingstydperk gemaak is, moes ons gebruikmaak van wat ons het, maar wanneer jy plante gaan koop, hou die volgende ingedagte:

  • Kies plantjies wat klein genoeg is vir jou glaspot. Jou terrarium moenie oorvol voorkom nie.
  • Klassieke plante wat in ’n terrarium gebruik word, sluit in (maar is beslis nie beperk tot) varings, mosse, vetplante, lugplante en kaktusse.

So maak mens:

1. Doen al jou voorbereiding. Maak die glashouer en deksel skoon met ’n mengsel van twee dele asyn en een deel water. Spoel die houer goed en laat dit droog word.

2. Sit al jou benodighede byderhand neer.

(Foto: Verskaf.)

3. Neem jou skoon glashouer en plaas die klippies onderin – dit dien as dreinering vir jou plante.

(Foto: Verskaf.)

4. Voeg ’n lagie fyngemaalde houtskool oor – dit help om water vars te hou.

(Foto: Verskaf.)

5. Voeg nou jou laag potgrond by – genoeg sodat jou plante se wortels maklik daarin kan groei.

(Foto: Verskaf.)

6. Sit jou plante versigtig in en rangskik soos jy wil.

(Foto: Verskaf.)

7. Ons het ’n laag wit filtersand bygevoeg by vir ’n mooi effek.

(Foto: Verskaf.)

8. Laastens, voeg ’n moslaag by wat dien as ’n grondbedekker en om jou terrarium vogtig te hou.

(Foto: Verskaf.)

9. Voordat jy die deksel opsit, gee jou terrarium ’n eie karakter deur ’n klein ornament volgens jou eie keuse by te sit. Ons het ’n miniatuur kleihasie en -eendjie bygevoeg.

(Foto: Verskaf.)

10. Neem ’n spuitbottel vul dit met water en maak jou plante sowel as jou mos goed nat. Neem ’n servet en vee die glas aan die binne kant skoon. Plaas nou die deksel op indien nodig en verlustig jou in jou eie terrarium.

(Foto: Verskaf.)

 

Wenke:

Die sukses van jou terrarium is versorging waarvan water en sonlig die belangrikste elemente is.

Plaas jou terrarium binneshuis of op jou stoep op ’n plek waar dit koel is en genoeg indirekte sonlig sal ontvang.

As jy ’n beginner is om ’n terrarium te skep, kies iets eenvoudig en bekostigbaar om te kweek

Gee minimum water elke twee weke en gebruik die spuitbottel.

Jy kan ’n oop of ’n toe terrarium maak, die besluit is jou eie. Maar ons stel voor indien jy kaktusplante gebruik om ’n oop terrarium te gebruik.

Die deksel verseker hoë vlakke van humiditeit, en moet af en toe opgelig word om die plante vars lug te gee dus verwyder die deksel vir ’n paar uur elke keer as jy kondensering op die kant van die glas waarneem.

  • Momberg is bygestaan deur Danell Smit met die samestelling van hierdie projek.
  • Besoek Cay Momberg se Facebook-blad vir nog oulike handwerkprojekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.