Gedagte vir die dag: ’n Atmosfeer van gebed

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid met smeking, voorbidding en danksegging. Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe. (1 Timoteus 2:1-2)

Hoe bid ’n mens vir alle mense? As jy net die name van jou familie en vriende neerskryf, sal jy al klaar ’n lywige gebedslys hê. Paulus skryf dat ons in ons gebede “vir alle mense” net drie dinge hoef te doen: smeking, voorbidding en danksegging. ’n Engelse Bybelvertaling stel dit duideliker: “Ask God to help them; intercede on their behalf; and give thanks for them.” Ons moet God dus ernstig vra om hulle te help, ons moet vir hulle intree (voorbidding doen), en ons moet God dank vir hulle. Of dit nou jou beste vriend, ’n blote kennis, of jou land se regeringshoof is; jy kan vir almal op dieselfde manier bid: Vra dat God se hand hulle lewe rig.

Jy voel dalk dat jy nie veel kan doen nie. Jou vriend woon miskien baie ver of is vasgevang in ’n probleem waaraan jy niks kan doen nie. Jy voel dalk dat jy nie weet wat in jou kennisse se lewe aangaan nie, hoe kan jy dan vir hulle intree? Jy besef ook dat jy waarskynlik nooit die geleentheid sal hê om persoonlik met dié wat regeer te praat nie. Dit is dalk so. Maar jy kan vir hulle bid.

Die punt is nie dat jy elke dag deur lang lyste name moet bid nie. Wees net oop vir die Heilige Gees se leiding. As jy aan iemand spesifieks dink, vra God daar en dan om dié persoon te help. God sal die saak self verder voer.

Wie het vandag deur God se toedoen in jou gedagtes opgekom? Doen voorbidding vir dié persoon. Vra God om hom of haar te help. En dank God vir dié spesifieke persoon.

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Ons weet nie altyd hoe ons moet bid nie maar in Rom 8:26 …die Gees staan ons ook in ons swakheid by, ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gese word nie…God self weet die bedoeling van van die Gees is….Amen…dankie Heer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.