Gedagte vir die dag: Gewoontewoorde

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …” (Romeine 12:2)

“Die Here is my herder” is een van daardie frases wat ek al tot vervelens toe moes aanhoor. Dis seker nie reg om te sê dat ’n Bybelvers jou verveel nie. Maar hier hét ek nou …

Die waarheid is dat ek my dikwels betrap dat my brein sommer ’n eie koers kies wanneer ek sulke oorbekende woorde hoor.

En wanneer my kop eers begin dwaal, volg my hart en my gees kort op sy hakke. Dit het dus tot gevolg dat “die Here is my herder” nêrens meer vatplek in my binneste kry nie en dus sommer verbyglip. Dit gaan spreekwoordelik by die een oor in en by die ander een uit.

Psalm 23:1 is egter nie die enigste teks wat só met my maak nie. Daar is ook “(e)k is tot alles in staat …” En: “Die Here laat alles ten goede meewerk …”

Ook tafelgebede wat gemompel word, geykte woorde op een toonhoogte, gaan by my verby.

In Romeine 12 se eerste verse moedig Paulus die gelowiges aan om hulle as lewende en heilige offers aan God te gee. Dan voeg hy by: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …” (Rom 12:2).

In ’n omgewing waar daar daagliks ’n magdom inligting en visuele geraas na ons oë en ore toe kom, is dit maklik om Godswoorde saam met die nimmereindigende kennisaanbod deur ons kop te laat vloei. Ons hoef nie ’n tweede keer daaroor te dink nie.

Selfs ook wanneer ons stil word by God, hou die woorde nie op nie. Ons raak nie sommer van dwanggedagtes ontslae nie. Daar is kos wat moet klaarkom; daar was ’n kollega se snedige opmerkings; ’n begroting wat nie klop nie; ’n vriendin wat krapperig is met my.

Paulus help ons met die herinnering dat God ons denke nuut maak.

En wanneer Hy vernuwe, werk dit soos met sy genade: Keer op keer gee Hy dit. God maak weer en weer nuut, en ons kan bewustelik daarby betrokke wees.

Hoe? Deur dankbaar te wees. Dankbaarheid help ons om te fokus. Dit sal beteken dat ons bepaalde woorde en gedagtes, en, ja, ook daardie oorgebruikte frases ’n ruk lank in ons bewussyn kan laat vertoef. Dit selfs daar te hóú, totdat die Heilige Gees ons help om die diepte en die rykdom van dié woorde opnuut te herken en asof van nuuts af te beleef.

Dankbaarheid verander die ratte in my brein. My hart en my gees reageer daarop, en die gevolg is dat ek vernuwe word om God se waarheid werklik te hoor. Dis dankbaarheid wat my met gespitste ore en ’n ontvanklike hart laat luister wanneer iemand sê: “Die Here is my herder.”

Here, dankie dat U my telkens nuut maak. Dat u my gedagtes deur u Woord verander.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agter die skerms..... ·

Dankie my God dat U my gedagtes elke dag vernuwe. U is my lewendige God. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.