Hulle smee bose planne en kom ooreen om strikke te stel. Hulle dink niemand sien hulle nie. Dan tref God hulle met ‘n pyl, en meteens is hulle daarmee heen. – Psalm 64:6, 8
God sien alles, daar is nie ʼn gedagte, optrede, voorneme of ingesteldheid waarvan Hy nie weet nie. Dis darem dom om te dink dat die Here ons nie sien wanneer ons ander afknou, seermaak, verkleineer of minderwaardig laat voel nie.
Die wêreld is vol ongeregtigheid. Ek luister soos jy na die nuus en wonder dikwels of mense wat ander voor die voet doodmaak, despote in baie lande wat minderhede onderdruk, volksmoorde uitvoer, kinders en vroue verkrag, van ander steel soos dikwels met allerlei skemas gebeur… (veral weerlose ou mense), nie dink aan die dag van afrekening nie.
Die Bybel sê dit is bestem vir almal om te sterf en dan kom die oordeel (Hebreërs 9:27). Daar kom ʼn dag dat die boeke geopen sal word en elkeen sal ontvang wat hom toekom, afhangend van die aard van die lewe wat geleef is.
Ek sidder as ek dink aan die moderne Isebels wat die gelowiges doodmaak soos in Agab se dae (1 Konings 18).
Ek wil dit van die bergtoppe uitbasuin, daar kom ʼn dag van afrekening, bekeer julle en maak reg!
- Skakel Drienie by 011 6652017 of besoek die webwerf www.toekomsvenster.co.za asook www.toekomsvenster.bybelmedia.org.za vir inligting oor ʼn verskeidenheid stiltetydhandleidings, ʼn kleingroep-DVD asook preeksketse vir leraars en gemeentes.
Hoekom is die dagstukkies nie elke dag op datum beskikbaar nie?
Dagsê Suzie,
Dankie vir jou navraag. Die Toekomsvenster-dagboek is só geskryf dat dit vyf dagstukkies per week bevat, dus een vir elke weeksdag. Die stukkies word dus elke weeksdag op Maroela Media gepubliseer.
Groetnis
Landi nms Maroela Media