Apple Pay nou ook in SA beskikbaar

Foto ter illustrasie. (Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

Kliënte van Absa, Discovery Bank en Nedbank kan nou Apple Pay vir transaksies by betaalpunte gebruik.

Apple Pay, wat soortgelyk aan Samsung Pay is, is nou uiteindelik ook plaaslik beskikbaar nadat dit byna sewe jaar gelede in die VSA bekendgestel is. Huawei Pay het ook onlangs sy eie Huawei Pay bekendgestel.

Die produk stel gebruikers in staat om ʼn bankkaart te laai en ʼn Apple-toestel, soos ʼn iPhone of Apple Watch-slimhorolosie, te gebruik om kontakloos by deelnemende betaalpunte te betaal.

Absa, Discovery Bank en Nedbank het vroeër die week hul kliënte in kennis gestel van die produk. Die banke glo dit is ʼn nog veiliger en meer higiëniese manier om transaksies te doen, veral nou ten tyde van die Covid-19-pandemie.

Daar was die afgelope paar maande verskillende aanduidings dat die diens na Suid-Afrikaanse banke sou kom. Absa het aangedui hulle het ʼn 200% toename in kontaklose transakies vir die jaar gehad, terwyl e-handel ook verdubbel het.

Talle Twitter-gebruikers het Dinsdag gespog dat hulle daarin geslaag het om hul bankkaarte op die Apple Wallet te laai en reeds suksesvol met die diens betalings gedoen het.

Kliënte van FNB en Standard Bank sal egter nog ʼn rukkie lank moet wag voordat hulle van die diens gebruik kan maak. FNB het wel bevestig dat hy tans besig is om saam met Apple te werk om die Apple Pay diens binnekort aan sy digitale kliënte te bied. Standard Bank het op sy beurt gesê hy is in die proses om saam met nuwe betalingsdiensverskaffers te werk om aanlyn en kontaklose betalingstelsels vir die bank se kliënte te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.