KragDag: Innoverende ontwikkeling in die skoonmaakbedryf

Camperdown Health and Hygiene

Laurie Schlebusch (78) is die stigter van Camperdown Health and Hygiene, ’n baie suksesvolle onderneming wat spesialiseer in intensiewe skoonmaakdienste en -produkte. Die maatskappy vier tans sy 25ste bestaansjaar en doen steeds fluks sake in die sanitasiebedryf.

Hoewel Laurie trots en dankbaar is dat sy breinkind so goed doen en ook werk aan meer as 500 werknemers verskaf, is hy veral bly dat sy vrou, Mariëtte (76), met wie hy 55 jaar getroud is, saam met hom kon werk en sy passie deel – met hom aan die stuur en met Mariëtte in beheer van kantoorbestuur en finansies was die maatskappy van 1996 af in baie goeie hande. “Ons het ʼn goeie besigheids- en werksverhouding en deel dieselfde belangstellings. Mariëtte was my studenteliefde en sy was ook voorheen saam met my in die onderwys. Ons het ook etlike jare geboer en het ’n suksesvolle eiendomsbesigheid bedryf. Saam het ons groot hoogtes bereik. Ons is ʼn baie gehegte familie en deel dieselfde belangstellings en ideale met ons vier kinders, Riëtte, Louw, Carina en Johan. ”

Laurie en Mariëtte Schlebusch in ontspanne luim saam met hulle kinders – agter v.l.n.r. Riette, Louw, Carina en Johan.

Riëtte Holzapfel, die egpaar se oudste dogter, het ʼn aantal jare gelede die leisels by haar pa oorgeneem as besturende direkteur, en sedertdien gaan die maatskappy net van krag tot krag. Louw, hulle oudste seun, woon al vir 23 jaar in die VSA waar hy Camperdown Health and Hygiene internasionaal bedryf en ook met eiendomsontwikkeling besig is. Carina Schlebusch, hulle jongste dogter, bestuur die Camperdown-tak in Noordwes en doen besigheid met al die groot myngroepe. Johan, hulle jongste, besit al sedert 2001 sy eie skoonmaakbedryf in Rustenburg en geniet sy ouers se volle ondersteuning. Die Schlebusche het elf kleinkinders waarvan twee aktief betrokke is by die maatskappy.

Laurie en Mariëtte onthou dat Camperdown Health and Hygiene se beginjare maar moeilike jare was met dié dat Riëtte vir ’n ruk lank in Kanada woonagtig was en Louw ook in 1998 na die buiteland verhuis het. Die egpaar is deur finansiële uitdagings in die gesig gestaar en boonop was die kompetisie in die mark sterk. Hulle het egter volhard en met harde, eerlike werk en ysere deursettingsvermoë daarin geslaag om die struikelblokke te oorwin en die maatskappy tot een van die grootste en mees gerekende name in die plaaslike skoonmaakbedryf uit te bou met takke in Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Riëtte is oortuig dat haar pa se sukses daaraan toegeskryf kan word dat hy ’n gedissiplineerde, hardwerkende en beginselvaste persoon is en dat hy ook hierdie kwaliteite in haar en haar sibbe ingebou het. “Jy weet altyd waar jy met hom staan en wat hy verwag.” Hy is ’n volhardende en gedrewe persoon en danksy hom is Camperdown Health and Hygiene se leuse – persoonlike en flinke diens wat niks té gering ag nie – soos ’n vlagpaal bo water in hierdie tye waar dienslewering in ons land op so baie gebiede te kort skiet. Haar ma het ook bankvas agter haar pa gestaan, sy arms hoog gehou en gesorg dat dinge seepglad verloop.

Mariëtte is veral trots daarop dat Camperdown Health and Hygiene ʼn toegewyde en deeglik opgeleide personeelkorps het waarvan die meeste al vir jare saam met hulle werk. Trouens, van hulle personeellede werk al sedert die ontstaan van die maatskappy saam met hulle – dit is deels waarom die maatskappy so uitstekend vaar, want die personeel is soos familie wat ywerig hande vat om saam die ekstra myl te loop. Dié familiebesigheid, wat geregistreer is by SAPCA, NCCA en SESSA, lê die bestuur na aan die hart, en net soos elke personeellid vir hulle belangrik is, is elke kliënt en klant hoog op hulle prioriteitslys.

Laurie onthou: “Hier aan die begin moes ek soms my span van vier met my persoonlike voertuig en sleepwa na kliënte vervoer. ʼn Oudskolier wou op ʼn keer by my weet: ‘Wat doen Meneer nou hier?’ Ek het besem in die hand geantwoord dat ek nou toilette skrop. Die bynaam van Mr. Min het spoedig om my nek gehang.”

Camperdown Health and Hygiene

Mariëtte reken dat Camperdown Health and Hygiene so suksesvol is omdat die maatskappy ten alle tye daarna streef om doelgemaakte kwaliteitdiens teen bekostigbare pryse aan te bied. Hulle verskaf ’n wye reeks professionele skoonmaakdienste en -produkte in die volgende sektore: kommersieel, landbou, korporatief, industrieel, mynbou, vervaardiging, handel, gesondheid, opvoeding, outomobiel en ook residensieel. Dan spesialiseer hulle ook in chemiese diepskoonmaak, “groen” chemikalieë, ondergrondse en bogrondse sanitasie, plaagbeheer en die skoonmaak, installering en instandhouding van sonpanele. Die maatskappy probeer om altyd aan die voorpunt van innoverende ontwikkelinge in die skoonmaakbedryf te wees. Só het hulle dan ook in 2015 hulle eie opvoubare toilet ontwikkel wat tans algemeen in die mynbou-, konstruksie- en landboubedryf gebruik word.

Laurie vertel trots dat Camperdown Health and Hygiene vanjaar hulle eie septiese tenk-afdeling tot stand gebring het. Weens die tekort aan skoon water in Suid-Afrika, veral in die landelike gebiede, het die inisiatief ten doel om mense bewus te maak van die voordele van ’n septiese tenksisteem. Die maatskappy het dus die geleentheid aangegryp om in samewerking met Mastee (PTY) Ltd na gemeenskappe uit te reik om hulle meer te leer oor die gebruik van septiese tenks.

Camperdown Health and Hygiene

“Camperdown Health and Hygiene het al groot sukses bereik in die volhoubare-energiebedryf, veral wat die skoonmaak van sonpanele aanbetref,” aldus Riëtte. Tot voordeel van hulle kliënte landwyd, sluit hul dienste nou ook die installering en instandhouding van sonpanele in. “Die huidige energiekrisis in ons land noop mense om hulle al meer na sonpanele te wend as alternatiewe kragbron. Ons het dus seker gemaak dat ons die nuutste tegnologie teen ’n bekostigbare prys beskikbaar stel.”

Wanneer dit kom by die omgewing, voel die maatskappy baie sterk daaroor dat hulle verantwoordelik en verantwoordbaar handel. Hulle maak dus gebruik van omgewingsvriendelike produkte. Plaagbeheer is hulle forte – maak nie saak of die krioelende insekte of goggas nou op die grootste plase, nywerhede of selfs in die kleinste huise is nie. Boonop word hulle konsultante opgelei om altyd waardevolle, insiggewende en veilige advies te gee, want vir dié maatskappy kom veiligheid altyd eerste.

Natuurlik het die Covid-19-pandemie ook aan Camperdown Health and Hygiene eise gestel, maar getrou aan hulle aard – dié van ’n skoonmaakmaatskappy met ’n sosiale gewete – het hulle byvoorbeeld in Julie 2021 toe die infeksiekoers so hoog was, besluit om hul mis- (fogging) en ontsmettingsprodukte teen kosprys aan te bied – ’n gebaar van omgee wat wyd verwelkom en beslis waardeer is.

Die Schlebusch-egpaar en hulle kinders kyk vandag terug op 25 jaar se genadejare wat die maatskappy aanbetref. Hulle glo dat eerlikheid en voortgesette kwaliteit dienslewering tesame met die voorneme om elke kliënt of klant se behoeftes individueel aan te spreek, sal verseker dat Camperdown Hygiene and Health ook die volgende 25 jaar (en langer) sal aanhou om ’n verskil te maak en ’n leier in die sanitasiebedryf te wees.

Besoek Camperdown Health and Hygiene se webtuiste vandag en vergewis jou van die puik skoonmaakdienste en -produkte wat hierdie familieonderneming wat BBBEE Vlak 2 gesertifiseer is, bied.

Besoek die webwerf: https://camperdown.co.za/
Stuur ʼn e-pos: [email protected]
Skakel 011 914 3020

Besoek Camperdown Health and Hygiene vanjaar van 14 tot 16 Oktober tydens KragDag by die Diamantvallei Landgoed in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria. Besoek www.kragdag.co.za vir meer besonderhede oor alles wat jy vanjaar by die ekspo kan verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.