Kreatiewe idees om jou slimfoon-apps te orden

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Vir die meeste van ons is ʼn selfoon nie net meer ʼn telefoon wat vir oproepe gebruik word nie. Dit is nou ook ʼn toestel waarop jy musiek luister en na reekse op stromingsplatforms kyk, aanlyn inkopies en navorsing op die internet kan doen en, vir sommige, ook ʼn digitale dagboek. Trouens, die kans is groot dat jy hierdie artikel op jou selfoon lees.

As jy ook soms oorweldig voel met die hoeveelheid apps op jou foon of die tyd wat dit neem om iets op te spoor, oorweeg dan ʼn behoorlike skoonmaaksessie vir jou slimfoon: om van onnodige apps ontslae te raak, maar veral om dit wat jy wel gebruik op ʼn slim manier te orden.

Hier is ʼn paar kreatiewe idees om jou slimfoon-apps te herrangskik:

Eksperimenteer met tuisskerms

Een van die wonderlike dinge aan ʼn slimfoon is die aanpasbaarheid van jou tuisskerm. As jy nie omgee om tussen tuisskerms te beweeg nie, kan jy verskeie tuisskerms skep en dan is dit ook nie nodig om jou apps in vouers te bêre nie. As jy ʼn eenvoudiger benadering verkies kan jy al jou apps op een skerm en in vouers rangskik.

Alfabeties

Mense wat ʼn A-tot-Z-benadering verkies kan dit dalk oorweeg om apps alfabeties te orden. As jy nie vouers gebruik nie is dit maklik om die apps in jou foon se verstellings (settings) alfabeties te sorteer. Of jy kan ʼn vouer vir elke alfabetletter skep en só jou apps rangskik.

Emoji-vouers

Teks is nie die enigste opsie wanneer jy vouers benoem nie. Het jy al daaraan gedink om emoji’s hiervoor te gebruik? Jy kan byvoorbeeld musieknote vir apps soos Spotify en Shizaam gebruik of geldnoot vir aanlyn bankdienste.

As jy nie wil hê dat die emoji alleen moet staan ​​nie, is ʼn alternatief om emoji’s met woorde te meng. Die moontlikhede hier is eindeloos.

Hoe jy jou foon vashou

Dink vir ʼn oomblik aan hoe jy jou foon vashou en oorweeg dit om jou tuisskerm hiervolgens te rangskik. Dit is ʼn vreemde manier om só aan die organisering van jou tuisskerm te dink. As jy meer geneig is om met een hand te werk, wil jy die apps wat jy die meeste gebruik, binne bereik van jou dominante duim hê.

Kleure

As jy visueel ingestel is, kan jy jou vouers volgens kleure benoem. Ons weet almal dat Pinterest en YouTube hoofsaaklik ʼn wit ikoon het en dat Facebook grotendeels blou is. Sodoende kan ons Facebook langs Twitter voeg.

Die visuele elemente van ʼn app-ikoon is spesifiek ontwerp om maklik geïdentifiseer te word. Jou gedagtes assosieer kleure baie vinniger as swart-wit naamplaatjies, en kleure kan jou help om vinniger op jou foon te navigeer.

Temas

Vouers kan vir party mense te ingewikkeld wees, dan kan ʼn tematiese benadering gevolg word. Met die tema-ry-metode word verwante apps bymekaar geplaas: elke ry apps op die skerm verteenwoordig ʼn tema soos dagbeplanning wat dan kalenders, taaklyste of kennisgewings (reminders) bevat. Deur soortgelyke programme te groepeer kan jy maklik identifiseer na watter ry jy moet navigeer.

Werkwoordgebaseerde vouers

Waarvoor gebruik jy jou foon die meeste? Kyk jy na YouTube-video’s? Luister jy na musiek? Lees jy daagliks nuus? As jy vouers met werk- of aksiewoorde soos “Soek”, “Luister”, “Koop”, “Deel”, “Fotografie”, navigeer of lees, benoem, kan jy baie vinniger na die app spring waarna jy soek.

Bronne: Lifehack, The Verge, Mashable

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.