Kripto: Só lyk kopers in SA en elders

Richard Ball van Luno. (Foto: Verskaf)

Die gemiddelde Suid-Afrikaanse kriptogeldkoper is ’n man, bestee sowat R450 aan sy eerste transaksie en hou dié digitale geld vir minstens agt maande in sy kuberbeursie. Dít is die bevinding van die kriptoplatform Luno, wat met bykans 10 miljoen kliënte in 40 lande spog.

Luno het die afgelope jaar meer as 3 miljoen nuwe kriptokliënte bygekry, met belangstelling uit Afrika wat noemenswaardig toegeneem het, sê Richard Ball, dié groep se hoofdatawetenskaplike. “Suid-Afrika is een van ons sterkste markte en verteenwoordig 43% van ons kliënte.”

Volgens Ball het Luno die grootste oplewing in belangstelling in Maleisië ervaar. Luno se kliënte hier verteenwoordig tans 14% van sy kliëntebasis, ’n toename van 8% vergeleke met ’n jaar gelede.

Só koop Suid-Afrikaners

“Die meeste kliënte begin met ’n relatief klein deposito. Die boonste 25% waag hul hand aan kripto ter waarde van minstens R1 500, terwyl die depositobedrag van die onderste 25% slegs sowat R90 is. Ofskoon dié syfers laag klink, wys dit dat Suid-Afrikaners verantwoordelik in kripto belê.”

Luno laat kliënte toe om kriptogeld vir so min soos R1 te koop in ooreenstemming met sy missie om wyer toegang te verseker en moedig mense aan om met kleiner deposito’s te begin terwyl hulle meer oor die digitale ekonomie leer.

Volgens Ball is die gewildste kriptomunte in Suid-Afrika Bitcoin, Ethereum en XRP, en kooptransaksies troef verkope verreweg. “Byna 80% van alle transaksies op Luno is mense wat in dié drie kubermunte belê.

(Foto: iStock)

“Die grootste toename in aanvraag tot dusver vanjaar is in XRP, waarvan die prys in ’n enkele week met 25% gestyg het. USDC, ’n digitale geldeenheid wat aan die Amerikaanse dollar gekoppel is, is ondanks sy status as bestendige munt onderaan Luno-kliënte se gewildheidsleer,” sê hy.

Plaaslike kopers is byna ’n spieëlbeeld van die wêreldwye prentjie. In ooreenstemming met die geslagsverdeling in tradisionele finansiële dienste, koop meer mans kripto in Suid-Afrika as vroue.

Suid-Afrikaanse kliënte hou hul kripto vir gemiddeld agt maande, wat baie langer is as twee jaar gelede, met die uitsondering van spekulante wat natuurlik baie meer aktief is, sê Ball. “Oor die algemeen wys ons syfers dat Suid-Afrikaners kripto toenemend as ’n langertermynbelegging beskou en dit nie noodwendig koop om vinnig geld te maak nie.”

Só lyk syfers wêreldwyd

Volgens Chainalysis se Global Crypto Adoption Index vir 2021 het die belegging in of aannaming van kripto sedert die derde kwartaal van 2019 met 2 300% toegeneem, met groei van meer as 881% net in die afgelope jaar.

Volgens sy top-20-indeks, wat saamgestel is deur 154 lande se belegging in kripto volgens sekere maatstawwe te meet, beklee Viëtnam, Indië en Pakistan die drie topposisies, gevolg deur Oekraïne, Kenia en Nigerië. Groot ekonomieë soos die VSA, China en Rusland beklee onderskeidelik die 8ste, 13de en 18de posisies. Suid-Afrika lê in die 16de plek.

Pleks van slegs transaksievolumes te meet, neem Chainalysis faktore soos internettoegang, die verdienste of rykdom van die gemiddelde persoon en die waarde van geld oor die algemeen binne die spesifieke land in berekening.

Ook volgens Finder se kriptobeleggingsindeks wat vroeër vanjaar bekendgestel is en die belegging in kriptogeld in 27 lande meet, beklee Viëtnam die boonste posisie wat kripto-eienaarskap betref (28,6%), gevolg deur Indië op 23,4% en Australië op 22,9%.

(Foto: iStock)

Suid-Afrika beklee op dié indeks die 21ste posisie met 11,3%, wat hoër is as die 10,5% van die VSA en 9,8% van Swede. Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Japan is van die lande met die laagste kripto-eienaarskap, met onderskeidelik 7,7%, 6,1% en 5,8%.

Volgens die Finder-indeks is Bitcoin die gewildste eenheid in Suid-Afrika (56%), gevolg deur Ethereum (31,5%) en Ripple (25,8%). Wêreldwyd kraai Bitcoin in Australië koning (72,7%), terwyl Singapoer met die hoogste eienaarskap van Ethereum spog (43,5%). Altesaam 31,6% van Dogecoin se beleggers is in die VSA, terwyl Solana (24,9%) en Ripple (31,5%) in Indonesië en Japan die gewildste is.

Ander interessante syfers uit Finder se verslag is die ouderdomsverspreiding van kriptobeleggers. Wêreldwyd is 56,1% van beleggers tussen 18 en 34 jaar oud. In Suid-Afrika val 48,7% van kriptobeleggers in dié ouderdomsgroep, teenoor 32% van kripto wat deur 35- tot 54-jariges gehou word. Sowat 19,3% van kriptobeleggers is ouer as 55 jaar.

Wêreldwyd is mans 2,8 keer meer geneig om in kripto te belê en teen Desember 2021 was 59% van kriptobeleggers mans teenoor 41% vroue. In Suid-Afrika kan die kriptokoek verdeel word tussen 62% mans en 38% vroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kwikkie12 ·

So Nov 2021 begin koop so 3x deposito’s betaal en gewag vir Bitcoin om honderduisend dollar vir 1 Bitcoin wat end Des 2021 voorspel is te bereik. Het ‘n derde van my geld al verloor al wat ek nou voor kan hoop is dat dit weer eendag opgaan maar twyfel of jy ryk word uit Bitcoin. Miskien kan Maroela ‘n artikel doen vir mense wat is die beste belegging om in Suid-Afrika te doen. Weet daar is ‘n risiko maar hoe word die eknonome so ryk hulle weet waar en hoe om te bele.

Leon ·

Ek twyfel of mens ooit ‘n kripto-geldeenheid regtig kan beskryf as ‘n “belegging”…dit is pure spekulasie, en genereer die waarde (soos bv ‘n maatskappy) op sy eie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.