Verbruikersake: Oppas vir dié skelmstreke wat jou finansieel kan verwoes

Dief

(Foto: Towfiqu/Unsplash

Bedrog en ander skelmstreke neem toe teen ʼn onrusbarende tempo en verbruikers moet verseker dat hulle altyd waaksaam is om te voorkom dat hulle bedrieg en beroof word. Verbruikers word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ou en nuwe skelmstreke wat swendelaars kan gebruik om hulle van hul swaarverdiende geld en private inligting te beroof. Ina Opperman gee raad.

Volgens die Suider-Afrikaanse Voorkomingsdiens (SAFPS) het bedrog en verwante skelmstreke in 2021 met 337% toegeneem en kripto- en Ponzi-skemas het Suid-Afrikaners meer as R54 miljard uit die sak gejaag.

Al is daar talle tegnologiese maatreëls wat ontwerp is om jou teen swendelaars te beskerm, raak bedrieërs se metodes om jou te bedrieg ook al slimmer, sê Momentum Metropolitan se Cyber Security Team (kubersekuriteitspan).

“Swendelaars het byvoorbeeld oor die feestyd voordeel getrek uit seisoenale uitgawes met valse aanlyn winkels, spookhotelbesprekings en valse aflewerings.

“Ons hoop nie jy is gevang nie, maar ons wil tog alle verbruikers herinner om aan te hou om versigtig te wees. Skelms is goed daarmee om hul skelmstreke, soos uitvissings-e-posse of boodskappe te gebruik om mense te mislei om finansiële en sensitiewe persoonlike inligting bekend te maak. Die impak strek gevolglik veel verder as finansiële verlies, aangesien dit ʼn ongelukkige en traumatiese ervaring is.”

Die Momentum Metropolitan Cyber Security Team het bevind dat swendelaars skelm en opportunistiese misdadigers is wat altyd voordeel trek uit verbruikers gedurende besige tye, soos die feesseisoen, Valentynsdag, terug-skool-toe, vroeg in die jaar of wanneer verbruikers werk soek.

“Om skepties te wees kan help om jou veilig te hou. Jy moet aanhou om alles te bevraagteken en altyd dubbel seker maak, veral wanneer ʼn situasie te goed voel om waar te wees.”

Wees waaksaam en bewus met hierdie wenke

Om jouself teen bedrog en swendelary te beskerm, vereis waaksaamheid en bewustheid. Die Momentum Metropolitan Cyber Security Team gee hierdie wenke om jou te help om veilig te bly:

  • Leer om algemene bedrog- en bedrogspultaktieke te herken om jouself aanlyn te beskerm: Die media, verbruikerswaghondgroepe, soos die Finansiële Sektor Gedragsowerheid (FSCA), en maatskappye soos Momentum Metropolitan herinner verbruikers voortdurend om waaksaam te wees.
  • Verifieer inligting: Verifieer altyd of mense of maatskappye wat toegang tot jou persoonlike inligting of jou geld versoek, wel bestaan. Kontak eerder die maatskappy direk om te kyk wie dit werklik is.
  • Beveilig jou toestelle: Gebruik sterk, unieke wagwoorde (of selfs beter, wagfrases) en hou jou toestelle en sagteware op datum om kwesbaarheid te verminder. Wagwoord123 is nie ʼn goeie wagwoord nie!
  • Wees skepties: Bevraagteken alle ongevraagde aanbiedinge, versoeke of transaksies wat te goed lyk om waar te wees en doen jou navorsing.
  • Doen navorsing oor ondernemings: Voordat jy aanlyn koop of belê, moet jy die geloofwaardigheid van die onderneming ondersoek. Soek aanlyn of op betroubare beoordelingsplatforms vir klagtes of komplimente oor ʼn maatskappy.
  • Monitor jou bankstate: Gaan gereeld jou finansiële state en kredietverslae na vir enige ongewone of ongemagtigde transaksies.
  • Bly veilig op sosiale media: Wees versigtig om vriendskapsversoeke van vreemdelinge te aanvaar, vermy vrae wat gebruik kan word om jou rekening te kraak, of oproepe waar die oproeper persoonlike vrae vra en rapporteer altyd twyfelagtige aktiwiteite. Die meeste kanale, soos Facebook, het ʼn verslagdoeningsopsie.
  • Soek veilig werk: Doen navorsing oor potensiële werkgewers en wees bedag op onrealistiese poste. Jy moet nooit voornemende werkgewers by private wonings of woonstelle ontmoet nie. Kies eerder openbare plekke soos hul kantore of ʼn koffiewinkel. As hulle sê dat hul vir jou reiskoste sal betaal, maak seker dat hulle vooraf betaal.

Hoe lyk ʼn bedrogspul?

Die Momentum Metropolitan Cyber Security Team sê om jouself teen swendelary te beskerm, moet jy bewus wees van hoe ʼn bedrogspul kan lyk. Hoewel swendelary soms moeilik raakgesien kan word weens swendelaars se gevorderde vaardighede, is daar rooi vlae waarvoor Suid-Afrikaners op die uitkyk kan wees. Dit sluit in:

  • ʼn Aanbod vir ʼn ongelooflike manier om geld te verdien of te spaar, teen baie hoër rentekoerse as banke, met druk om vinnig op te tree sodat jy dit nie misloop nie.
  • Iemand wat jy nog nooit ontmoet het nie, vra jou vir hulp of geld, dikwels deur vir jou hartverskeurende stories te vertel sonder werklike bewys van nood.
  • ʼn Boodskap bevat skakels of aanhangsels wat jy moet oopmaak waar jy gevra word om sekere persoonlike besonderhede in te tik. Dit stel die swendelaars in staat om jou na ʼn vals webwerf te stuur of jou inligting te steel. Verifieer altyd die egtheid van die webwerf self by die onderneming.
  • Wanneer jy koop of belê, word jy gevra om op ongewone maniere te betaal, soos met Bitcoin of ʼn voorafgelaaide debietkaart of in iemand se private bankrekening. Onthou betroubare maatskappye sal nooit hiervoor vra of deposito’s in persoonlike bankrekeninge toelaat nie.
  • Jy word aangemoedig om ʼn nuwe bankrekening oop te maak om betaling aan jou te vergemaklik of om te betaal vir iets wat jy gekoop het.

“As jy verstaan watter gevolge dit vir jou en jou finansies kan hê om swendelaars in jou lewe (en bankrekening) in te laat, en hoe verleidelik en gesofistikeerd dit kan wees, is jy beter toegerus om jou eie kuberveiligheidsmaatreëls ʼn hupstoot te gee,” sê die span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.