Dís hoekom woef en baas dalk nie ʼn kooi moet deel nie

Argieffoto. (Foto: Brooke Cagle/Unsplash)

Daar is min dinge wat so lekker saam in ʼn bed kan broei as ʼn ou vierpotige slaapmaat, maar kenners meen daar is verskeie redes waarom woef en sy baas dalk elkeen sy eie kooi moet hê.

Allergieë en infeksies

Baie troeteldiereienaars dink sigbare troeteldierhare is die enigste rede vir allergieë, maar sommige allergieë word egter veroorsaak deur allergene wat in troeteldierskilfers voorkom.

Sekere honderasse se hare én vel het mikro-organismes wat allergieë en selfs infeksies by mense veroorsaak. As jy ʼn neiging het tot allergieë of as jy vatbaar is vir infeksies, kan die nabyheid van ʼn hond in jou bed hierdie toestande vererger.

Higiëne

(Foto: Undine Tackman/Unsplash)

Terwyl ons honde ook deel van die gesin is, het hulle egter nie dieselfde standaarde van higiëne as mense nie.

Hulle kan maklik in stof baljaar, in vullis rondsnuffel en hulself met daardie kiembelaaide monde skoonlek wat op die einde van die dag in jou bed beland.

Luidens die stofsuiervervaardiger Dyson se jaarlikse Global Dust Study-verslag wat die skoonmaakgewoontes van mense van regoor die wêreld toets, is mense minder bewus van stof en die gesondheidsimplikasies wat dit kan hê veral wanneer dit by troeteldiere kom.

Die studie het bevind dat drie uit elke vier troeteldiereienaars wêreldwyd onbewus is daarvan dat stuifmeel op hul troeteldiere kan woon, terwyl sewe uit elke tien eienaars nie bewus is dat virusse en mietontlasting op hul troeteldiere kan broei nie.

Terwyl byna die helfte van troeteldiereienaars hul vierpotiges minstens een keer per week tuis versorg, doen hul dit dikwels slegs met ʼn kam – wat beteken dat daardie mikroskopiese deeltjies wat op hul troeteldiere voorkom moontlik in die huis kan versprei.

Swak gedrag

(Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

Matt Beisner, hondekenner en aanbieder van die National Geographic-televisieprogram, Dog Impossible, beveel aan dat veral aangenome honde van die begin af ʼn gemaklike slaapplek buite jou bed gegee word.

Volgens Beisner kan veral honde met swak gedragsprobleme maklik die verkeerde idee kry oor wie die baas is wanneer hy of sy in die bed toegelaat word. Dít kan tot impulsiwiteit en ongehoorsaamheid lei.

Onderbreekte slaap

(Foto: Andrew Neel/Pexels)

Verskeie studies dui daarop dat om ʼn hond in die bed te hê, die waarskynlikheid vir ʼn steurende nag verhoog, veral omdat honde nie soos mense geneig is om die hele nag deur te slaap nie.

Jy kan die volgende dag moeg wakker word en nie eers besef dat jou hond se herhaaldelike bewegings of blawwe die rede is waarom jy ʼn goeie nag se slaap kwyt is nie.

Bronne: The New York Post, Dyson.com, NBC LX Home.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miskruier ·

Vir kinders is saamslaap goed want dit wakker die immuunstelsel aan, maar tyd gespandeer met diere speel is seker net so goed.

Zollie ·

Jip. Niemand is nog dood van dierasies wat by mense slaap nie. My kat slaap elke aand in my arms onder die kombers. Tog te lekker.

Karoo ·

So lief soos wat ek vir my 4 voet kinders is, is ek BAIE liewer vir my Stal-Maat. Ek le veel eerder agter haar blad en vertoretel haar alleen in die privaat. Die 4 voet kinders kan op “uitnodiging” kom kuier tot ek hulle aanse totm hulle eie le plek, soos dit hoort. As jy enkel is, kan dinge dalk anders lyk.

SomeOne ·

hoe kry jy die stelling in die familie se koppe in, 3 honde saam in een bed, van groot tot klein is hul almal in een bed, nou is aldrie ook al oud en is vol skete, hul word dagga koekies gevoer om van die pyn te verlig, dan is hul nog tussen jou in geselskap op die sitkamer banke saam met eienaars, oe oe ee, nie vir my my, dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.