Vier jou vierpotige vriend op Valentynsdag

(Foto: Chewy/Unsplash)

In die maand van liefde is die fokus gewoonlik hoofsaaklik op romantiese verhoudings, maar dit is lankal nie meer ongewoon om op dié dag ʼn huldeblyk van dankbaarheid te betoon aan al die verskillende vorm van liefde wat ons omring nie nie.

“Moenie vergeet van die ongelooflike band wat jy met jou troeteldier het nie; of dit nou honde of katte is, ons troeteldiere bied ons onvoorwaardelike liefde, emosionele ondersteuning en ʼn unieke soort geselskap,” sê Marycke Ackhurst, Hill’s Pet Nutrition se eie troeteldiergedragkenner.

Marycke plaas die kollig op hoe ons troeteldiere elke dag ʼn bydrae maak tot ons emosionele welstand en deel ook ʼn paar wenke om ons liefde vir hulle te koester.

Liefde sonder voorbehoud

Een van die merkwaardigste aspekte van troeteldiergeselskap is die onvoorwaardelike liefde wat hulle bied. Troeteldiere oordeel nie, koester nie ʼn wrok of eis perfeksie nie. Hul liefde is suiwer, aanvaardend en onwrikbaar, wat ʼn bron van vertroosting en gerusstelling aan troeteldiereienaars bied.

Stresvermindering

Talle studies toon dat interaksie met troeteldiere spanningsvlakke aansienlik kan verminder. Dit is daardie interaksie met jou hond of kat wat oksitosien, die liefdeshormoon, vrylaat wat gevoelens van geluk bevorder en stres verminder.

Fisieke aktiwiteit en welstand

Goeie troeteldiereienaarskap beteken daaglikse staptogte en speeltyd. Dit bevoordeel nie net hul gesondheid nie, maar bevorder ook fisieke welstand vir troeteldierouers. Katte hou ook van ʼn bietjie oefening – gewoonlik vermom as kort speelsessie – van om ʼn speelgoedmuis te jaag tot om ʼn klimpaal te bespring. Om met jou troeteldier aan aktiwiteite deel te neem, hou hulle nie net aktief nie, maar dra ook by tot jou eie fiksheid en algemene gesondheid.

Geselskap vir geestesgesondheid

Troeteldiere kan van onskatbare waarde wees vir diegene wat eensaamheid moet trotseer of met geestesgesondheidsuitdagings sukkel. Die teenwoordigheid van ʼn lojale troeteldier kan ʼn gevoel van doelgerigtheid gee, gevoelens van isolasie verminder en vertroosting bied tydens moeilike tye.

Altyd daar om te luister

Soms het ons net ʼn goeie oor nodig wat sal luister sonder om te veroordeel. Troeteldiere is natuurlik uitstekende luisteraars. Deel jou gedagtes, bekommernisse en vreugdes met hulle. Hulle reageer dalk nie met woorde nie, maar hul aandagtige teenwoordigheid kan ongelooflik terapeuties wees.

Roetine en struktuur

Troeteldiere floreer op roetine, en om ʼn troeteldier te hê, bring dikwels ʼn gevoel van struktuur in ons lewe. Daaglikse staptogte, voer- en speeltyd skep ʼn voorspelbare roetine wat stabiliteit en ʼn gevoel van betekenis vir elkeen in die gesin kan gee.

Leer uit hul teenwoordigheid

Troeteldiere leer ons waardevolle lewenslesse, soos om in die nou te leef en vreugde in eenvoud te vind. Neem ʼn oomblik om jou troeteldier se sorgvrye houding waar te neem en laat hul lewenslus jou inspireer.

Skep spesiale oomblikke

Wy gehaltetyd aan jou band met jou troeteldier. Of dit nou deur speel, versorging of bloot rustyd op die rusbank is, hierdie gedeelde oomblikke versterk die emosionele verbintenis tussen julle twee.

Vier liefde elke dag

Niemand gaan kla as hulle ʼn boks sjokolade of ʼn bos rooi rose op Valentynsdag kry nie, maar ons almal weet ons geliefdes verdien om elke dag gevier te word. Dieselfde geld natuurlik ook vir ons troeteldiere. Om toe te kyk hoe ons troeteldiere hul kos geniet deur dit op ʼn nuwe manier te verskaf, bring vreugde en geluk vir ons. Probeer om ʼn snuffelmat vir kosbrokkies te gebruik of prop ʼn speelding vol nat kos. Dit rek nie net hul eettyd nie, maar is verrykend vir troeteldiere wat hul breinkrag opnuut moet inspan om hul eetgoed te kry. Ander klein gebare soos ʼn nuwe speelding, ekstra speeltyd of ʼn knus kombers kan jou waardering wys vir die vreugde en liefde wat jou troeteldier in jou lewe gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

regtig…van groeps druk om vir jou mens maat te bederf of Valentynsdag tot… nou vir jou troetel dier? Wat word van die wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.