Wanneer ’n vierpotige se krap meer as net ’n jeuk is

Foto ter illustrasie. (Foto:
Marliese Streefland/Unsplash)

Wanneer Wagter, Basjan of Rex in jou huis aanhoudend aan die krap is, mag dit dalk vir groot kommer en frustrasie vir die res van die huishouding sorg.

Honde wat sonder ophou hulself krap, is ’n algemene verskynsel en word deur talle vel- en ander kwessies veroorsaak. Maroela Media het by dr. Vicky Louw, ’n veearts by Noag Dierekliniek in die ooste van Pretoria, aangeklop om vas te stel waarom honde hulself krap en wat eienaars te doen staan.

“Honde krap om verskeie redes, maar meestal is dit omdat die vel jeuk. Eksterne parasiete soos vlooie en bosluise is van die oorsake daarvan,” het Louw gesê.

“Dit kan ook ’n simptoom van omgewing- of kosverwante allergieë wees. ’n Oorinfeksie is ook ’n baie algemene rede vir ’n hond wat homself in die nek en gesig krap.”

Louw benadruk dat eienaars liefs hul honde veearts toe moet neem wanneer die gekrap bloot net nie wil ophou nie.

Sy verduidelik dat die gedrag dikwels vererger weens ’n “krap-jeuk-siklus”.

“Die hond krap, want dit jeuk, daar word inflammasie veroorsaak wat gewoonlik net die jeuk vererger. As die hond aanhou krap, word veltrauma veroorsaak en dit lei nou weer tot komplikasies soos sekondêre infeksie.”

Louw glo dus dat ’n besoek aan ’n veearts nodig is nog voordat dit tot by die punt van velskade kom. Die veearts sal dan aandui wat die oorsaak van die jeukery is en wat die kort- of langtermynbehandeling daarvan behoort te wees.

“Vir sekere toestande moet mens saam met jou veearts ’n langtermyn-behandelingsplan saamstel. Dit sluit gewoonlik onder meer velaanvullings, dieetaanpassings, medisinale sjampoe en kroniese velmedikasie in.”

Soms kan die aanhoudende gekrap ’n teken van angs wees. Louw sê dit is moontlik weens skeidingsangs, of angs wat veroorsaak word deur vrees vir iets of iemand. Ouer honde kan ook weens kognitiewe agteruitgang tekens van angs begin toon.

“Dit is belangrik om dan saam met jou veearts én troeteldier-gedragskonsultant te werk om die probleem te identifiseer en reg te behandel.”

Ander tekens dat jou hond dalk aan angs ly, is wanneer hulle hyg, kwyl, bewe, rusteloos of aggressief is.

Veilige stappe om te doen wanneer ’n veeartsbesoek nie moontlik is nie:

  1. Behandel teen eksterne parasiete, selfs al kan jy hulle nie sien nie. Daar is ’n moontlikheid dat hulle die oorsaak van die jeukery is.
  2. Hark ’n sjampoe wat geformuleer is vir sensitiewe hondevelle tydens badtyd nader om die omgewingsallergene af te was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.