Augustus se doendinge in die tuin

In Augustus is dit tuin om aandag te gee aan jou grasperk. (Foto: Petar Tonchef/Unsplash)

Sommige streke in Suid-Afrika is nog ellendig koud, winderig en droog in Augustus terwyl ander weer koud, nat en nog donker is as jy wakker word, maar hou moed, die winter sal binnekort iets van die verlede wees.

Augustus is nie een van tuiniers se gunstelingmaande nie, maar die belofte van lente is reeds in die lug, veral met die soet geur van jasmyn.

Jasmyn (Foto: Min Aung Khant/Pexels)

As jy nou hierdie gewone, maar noodsaaklike take in jou tuin aanpak, sal jy later tyd hê om heerlik in jou tuin te plant en speel.

Trek onkruid uit: Verwyder al die onkruid in jou tuin tot by die laaste saailing wat tussen die krake van die plaveisel opskiet, en verryk jou grond vir planttyd deur ruim hoeveelhede kompos by nuwe en aangeplante beddings te voeg. Moenie dit inspit nie, want dit sal net nuwe onkruid aanmoedig om te ontkiem. Los dit sommer net bo-op jou bedding.

Gee grasperke hul eerste lente-behandeling: Verwyder die ou, dooie mat van gras met ʼn hark. Steek dit met ʼn tuinvurk sodat lug, kos en water die wortelstelsel kan bereik. Voed jou grasperk met kunsmis, en laastens kan jy die gras se oppervlak gelyk maak en met ʼn organiese kombers van grasperkbemesting bedek. Let op dat hierdie behandeling slegs op die hardloper-tipe grasperke soos Kikuyu  en die taaier Cynodon-grasse toegepas kan word. Hierdie soort behandeling, wat in Engels as scarifying bekendstaan, werk nie op grasperke wat uit Kentucky Blue, klossietipe meerjarige grasse of gemengde mengsels soos All Season’s Evergreen of Shade Over bestaan  nie.

Gauteng:

(Foto: Susana Maro/Pexels)

Dien kunsmis met ‘n hoë kaliuminhoud toe op jou bolle wat reeds geblom het. Dit sal die ontwikkeling van volgende jaar se embrioblom in die bol veroorsaak. Moenie hul sterwende blare afsny nie, aangesien hulle steeds die bol voed. Verdeel klompe oorgroeide, meerjarige plante, en herplant dit met kompos en voer met 3:1:5 kunsmis. Soos die weer opwarm, sny fuchsias met ’n derde af, dek met ʼn laag kompos en voer met ’n hoë-stikstof kunsmis om nuwe groei aan te moedig. Plaas potplante uit in ’n pot een grootte groter. Begin teen die einde van Augustus die groeiende punte van lote uitknyp sodra hulle twee pare blare ontwikkel, want dit sal lei tot ʼn digter, meer blomryke plant. Krismisrose kan nou gesnoei word en jy kan hulle teen einde Augustus begin voer. Vir intense blou blomme, sprinkel 25 g aluminiumsulfaat rondom die wortelsone van die bos en gee goed water.

Perskes, appelkose, pruime, nektariens, appels en pere gaan hierdie maand blom. Voer met 3:1:5, laat 100 g toe vir jong bome en 200 g vir meer volwasse bome. Gee ’n dosis Epson-soute aan enige sitrusbome met vergelende blare, saam met ’n algemene voer. Voer ook pynappels, papaja, grenadellas, vye, mango’s en aarbeie met 3:1:5 korrelkunsmis. Saad van Kaapse kruisbessies kan nou gesaai en aspersieskrone geplant word.

Saai boontjies en ‘n ry of twee wortels. Preie, beet, radyse en raap kan ook in die laaste deel van Augustus gesaai word. Wanneer die hoofblomkop van broccoli geoes is, voer die plante met ‘n hoë-stikstofvoedsel om die produksie van sekondêre lote te bevorder.

KwaZulu-Natal:

Steggies van begonias, coleus, salvias en impatiëns sal vinnig wortelskiet soos die weer opwarm. Verdeel en herplant kannas en sierpiesanagbome (heliconia). Bougainvilleas kan gesnoei en met 2:3:4 korrelkunsmis gevoer word. Bome moet netjies en, indien onooglik, redelik swaar gesnoei word om voorsiening te maak vir nuwe groei. Gee water en voer met 2:3:2 totdat hulle weer goed begin lyk – hulle het deur ‘n baie koue winter swaargekry.

Begin om jou grasperk vir die somer voor te berei. Berea- of Durban-gras moet net soos normaal gesny word (nie gekerf nie) wanneer die lentebehandeling begin word. As jou grasperk nie onder stres verkeer nie en redelik goed lyk, is ’n goeie behandeling gevolg met ’n dosis organiese kunsmis en water goed genoeg. As die grasperk ʼn bietjie sleg lyk, spit dit, bemes, gee goed water en voeg ‘n goeie gehalte grasperkbedekking by. Moenie jou grasperk te kort sny nie: verhoog die hoogte van die grassnyerlemme tot ongeveer 7 cm in die skaduwee en 3-4 cm in die son. Langer gras sal die wortels beskerm en vogverdamping uit die grond verminder.

Maak klein saailinge van Oosterse groente en vinnig-tot-volwasse groente. Saai saad van eiervrugte en blaarslaai in saadbakkies. Plant patats uit. Saai saad van boontjies, komkommers, babamurgpampoentjies, blomskorsies en stampmielies. Saai ’n laaste oes wortels.

(Foto: Sandie Clarke/Unsplash)

Oos-Kaap:

As jy in die Oos-Kaap bly is dit nou tyd om tamaties te plant. (Fto: Cottonbro Studio/Pexels)

Jy kan steeds petunias, lobelias, begonias, krisante en heuningblommetjies (lobularia of alyssum) plant. Die winter- en vroeë lentebeddingplante soos altviole en gesiggies, asook primulas, is steeds in volkleur beskikbaar en kan steeds (verkieslik in kolle skaduwee) geplant word. Leeubekkies (snapdragons) is ook steeds in die rondte en is die perfekte gapingvuller vir Augustus.

Kyk uit vir onkruid en gebruik ’n selektiewe onkruiddoder op grasperke. Vra asseblief raad voordat jy hierdie produkte koop en vertel jou plaaslike kwekery waar jy beplan om die aanbevole produk te gebruik. Om iets soos Round Up, wat op die grasperk gebruik word, net orals in die tuin te spuit sal byvoorbeeld katastrofies wees.

Ja, dit is tyd om al die madeliefies te plant. Madeira-magrietjies (Argyranthemum), gousblomme (arctotis) en die Afrika-madeliefie (osteospermum) is volop.

Groente en kruie om nou te plant: tiemie, pietersielie, basiliekruid, koljander, roket, spinasie, tamaties, beet, wortels, broccoli, okra en  bone.

Vrystaat:

Augustus is die maand van ʼn nuwe begin ná ʼn lang en koue winter. Teen die middel van die maand moet dooie en gerypte blare verwyder word sodat nuwes kan ontwikkel. Doen dit egter eers wanneer jy seker is alle gevaar vir ryp is verby, want die beskadigde blare help om die jong uitgroeisels te beskerm. Onthou dat Augustus jou laaste kans is om rose te snoei.

Vrugtebome soos perske, appelkoos en pruime is goeie keuses as bladwisselende bome, veral vir klein tuine. Dit is ʼn ‘vrugbare’ keuse, aangesien jy skadu van ʼn relatief klein boompie kry, asook heerlike vrugte. Ander klein blomboompies wat van koue hou, is Japannese blomkersie (Prunus serrulata) en die pers Japanse blomappel (Malus purpurea) en Japanse blomappel (Malus floribunda).

Somerbolle soos gladioli, dahlias en amarillis is teen die einde van Augustus beskikbaar, so begin beplan waar jy dit gaan plant.

Alle kruie kan teen die einde van Augustus geplant word, maar somergroente soos tamaties, boontjies, groenrissie en eiervrugte is baie vatbaar vir ryp. Begin dié wat jy kan saai in saadbakke op ’n beskermde plek, maar plant die saailinge eers teen die tweede helfte van September in die tuin uit.

Wes-Kaap:

Kyk gerus uit vir die helder en pragtige speldekussings (Leucospermum) en plant jou eie in die tuin aan. (Foto: Olya Hrytovich/Pexels)

Daar is baie plante wat blom in hierdie maand en dit is veral die taai plantjies wat wind, koue aande ʼn skielike styging in temperatuur gedurende die dag kan weerstaan. Kyk gerus uit vir die helder en pragtige speldekussings (Leucospermum) en plant jou eie in die tuin aan. Sommige eksotiese produkte lyk goed op die oomblik, en as jy Geraldton wax of Chamaelaucium in jou tuin het, pluk jy waarskynlik ook blomme per emmer vol.

Kaapse of Afrika madeliefies (osteospermum) is maklik om te groei en is beskikbaar in ’n groot verskeidenheid lewendige kleure en teksture. Hulle is uitstekende potplante en ideaal om in massas te plant.

Groente om nou te plant: Beet, wortels, blaarslaai, spinasie, bone, kool en groenrissies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.