Drie kure uit jou tuin wat griep, verkoue kan vasvat

Oes ʼn handvol pepermentblare en stoom jouself daarmee. (Foto: Life is a Garden)

Geen tuisapteek is heeltemal volledig sonder hierdie kruiemedisyne uit jou eie tuin nie. Maak dit self en trap jou gesin se griep- en verkouesimptome hierdie winter sommer ekstra vinnig vas.

Pepermentstoom

Oes ʼn handvol pepermentblare en plaas dit dan in ʼn groot pot gekookte water. Plaas jou gesig oor die pot, gooi ʼn handdoek oor jou gesig en borskas en asem die stoom uit die pot in. Jy kan ook ander kruisementvariëteite soos groen- (spearmint), appel- of pynappelment by die stoompot voeg.

Hierdie boereraat is ideaal om jou sinusse oop te maak en klaar te speel met slym. Wees net versigtig om nie te brand met die warm water of stoom nie.

Ander ander kruisementvariëteite soos appelment kan ook by die stoompot gevoeg word. (Foto: Life is a Garden)

Jy kan na die stoomsessie ook kappertjieblare (nasturtium) kou om ʼn seer keel te help kalmeer.

Heuning-en-uie-stroop

Heuning-en-uie-stroop (Foto: Life is a Garden)

Kap ʼn ui fyn en plaas dan die stukke in ʼn glaspiering. Voeg goeie gehalte heuning by die ui sodat dit heeltemal bedek word in die piering.

Neem een eetlepel daarvan drie keer per dag om jou verkoue te behandel. Vir liggaamspyne kan jy ʼn teelepel organiese borrie by die mengsel voeg om inflammasie te verminder.

Tonikumtee

Maak jou eie tonikumtee met bestanddele uit die tuin. (Foto: Life is a Garden)

Week ʼn bietjie geoesde gemmer, kruisement en suurlemoen saam met ʼn paar sakkies rooibosteeblare in warm water. Onthou, die water moet nie kokend wees nie, want jy wil net die goeie goed onttrek en nie die plante verbrand nie.

Laat die tonikum vir ten minste ʼn uur trek en gooi dan ʼn halwe koppie daarvan in ʼn beker. Voeg ʼn bietjie heuning by en drink vir respiratoriese beklemming. Hou aan om vars kruie by te werk en jou tonikum te versterk so lank as wat dit nodig is.

Het jy geweet?

Sommige onkruid het ook medisinale waardes: Paardebloem (Taraxacum officinale), brandnetel (Urtica urens), muurkruid (chickweed of Stellaria media), wilde knoffel (Tulbachia violacea) en wilde suring (Oxalis pescaprae) kan ingespan word om verskillende kwale te help genees. Onthou om jou eie navorsing te doen oor hoe om dit die beste aan te wend en in watter hoeveelhede dit gebruik moet word.

Besoek sommer vandag nog jou naaste Life is a Garden-kwekery om plante aan te skaf vir jou tuisapteek of vind jou naaste kwekery deur www.lifeisagarden.co.za te besoek.

  • Life is a Garden verskaf inligting oor voordelige plante en dit moet nie as farmaseutiese advies beskou word nie. Hierdie inhoud word gedeel ter bevordering vir die liefde van ons natuurlike wêreld en is nie bedoel om as ʼn mediese voorskrif gebruik te word nie. Besoek ʼn dokter indien jou simptome vererger of voortduur.

Muurkruid (chickweed of Stellaria media). (Foto: Life is a Garden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.