Hou Valentynsdag-ruikers vars met dié vyf wenke

(Foto: Alsmeer/Verskaf)

Min dinge kan ʼn gewone dag opkikker soos ʼn bos vars blomme.

Met dié dat baie van ons moontlik op Valentynsdag deur iemand (of onsself) met ʼn bos rose bederf gaan word, is dit belangrik om te weet hoe om hulle so lank as moontlik vars te hou.

Ronnie Gross, eienaar van Alsmeer Blomme, ʼn groothandelaar met takke in die Kaap en Gauteng, wat vars en gedroogde blomme plaaslik en internasionaal verskaf, het vyf maklike wenke met Maroela Media gedeel wat sal verhoed dat jou vars Valentynsdag-ruikers vinnig verlep.

1. Gesnyde stele is gelukkige stele

Sny alle blomstele teen ’n hoek van 45 grade. Dit skep dit volgens Ronnie ʼn groter oppervlak waardeur die blomme water kan absorbeer en verhoed dat hulle plat teen die bodem van die vaas gaan lê.

Verwyder ook enige blare wat onder die waterlyn lê – hulle word maklik ʼn broeiplek vir bakterieë.

2. Hoe varser die water, hoe beter

Ronnie benadruk ook die belangrikheid van vars, skoon water om blomme gelukkig te hou. Vervang jou rangskikking se water minstens elke tweede dag, verkieslik met water wat kamertemperatuur is.

Maak seker dat daar ook genoeg water in die vaas is om die blomme se gewig te ondersteun.

3. Ietsie soets, suur of koper kan help

Nes mense, doen ʼn ou soetigheidjie blomme dikwels goed.

Voeg ʼn teelepel suiker vir elke twaalf stamme wat in jou rangskikking is by. Dit gee blomme die voedingstowwe wat hulle nodig het om aan te hou groei en ontwikkel.

Drie druppels bleikmiddel kan boonop ook by een teelepel suiker gevoeg word om te verhoed dat die water wasig word.

ʼn Kwart teelepel bleikmiddel per liter water sal volgens Ronnie ook vars gesnyde blomme langer laat hou omdat dit bakterieë wat moontlik in die vaas of pot kan opbou, doodmaak.

Ons almal kan doen met ʼn bietjie ekstra geld, selfs jou plante. Indien jy nie bleikmiddels in die huis het nie, kan kopermunte se suur ook help om bakterieë weg te hou.

4. ʼn Bietjie sproei laat blomme gloei

Sommige blomme baat by ’n ligte sproei vir ekstra bevogtiging. Dit help boonop om die lug om die plant ook te vogtig te hou, wat uitdroging kan verhoed – veral op warmer dae.

5. Verwyder dadelik dooie blare of blomme

Verwyder enige dooie blomme of blare van die rangskikking. Ronnie verduidelik dat dooie plante etileen vrylaat – ʼn hormoon wat die verlepping van die oorblywende blomme kan versnel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.