Kry jou grasperk gereed vir die somer

(Foto: Unsplash)

Het jy al ooit na ʼn skilderagtige groen grasperk op die glansende voorblad van ʼn tuintydskrif gestaar en gevoel dat dit vir jou onbereikbaar is?

Met die regte raad en geskikte toerusting, kan jy nou jou droomgrasperk ʼn werklikheid maak.

Stuart Williams, uitvoerende hoof van Rolux, deel kundige wenke oor hoe jou grasperk versorg moet word sodat dit reg is vir die somer. Rolux is ʼn eg Suid-Afrikaanse maatskappy wat tuinmaakgereedskap vervaardig.

“Met die somer om die draai, is dit nou die ideale tyd om met die regte versorgingsprogram vir jou grasperk af te skop.”

Hier is wat die kenners doen om elke somer ’n groen tapyt te verseker:

Weg met die oud, in met die nuut

Dooie materiaal, soos ou gras en blare, op jou grasperk verhoed dat voldoende water, lug en voedingstowwe by die wortels uitkom. Daarom is dit belangrik om vroeg in die somer ou, dooie gras met ’n sterk hark te verwyder om plek vir nuwe groei te maak.

Hierdie raad is slegs van toepassing op kikoejoe (kikuyu) en kinodont (cynodon), wat lopers het en nie immergroen gras wat goed in skadu aard nie.

(Foto: Unsplash)

Stap 1: Maak al die dooie gras los met ʼn hark of grasbladbreker. Om ʼn grasbladbreker te huur is dikwels die doeltreffendste en goedkoopste oplossing.

Stap 2: Sny jou grasperk met die laagste verstelling van jou grassnyer. Die Rolux Magnum X‑grassnyer het verskeie verstellings om die beste uit jou grasperk te haal.

Stap 3: Verwyder die afsnysels met jou hark en voeg dit by jou komposhoop.

Laat jou grasperk asem haal

Ventilasie sorg dat lug by die graswortels uitkom. Dit vergemaklik die dreineringsproses en stel al die minerale en voedingstowwe beskikbaar wat nodig is vir welige groei van die gras. Dit verminder ook grondkompressie en verhoog die waterhouvermoë van die grond. Die Rolux se 500 mm‑grasperkbelugter is perfek vir hierdie taak en gaan vinnig nuwe lewe in jou grasperk blaas.

Stap 1: Gebruik ʼn grasperkbelugter om jou grasperk te ventileer. As die grond kompak is, moet jy mildelik natmaak voordat jy die grasperkbelugter gebruik.

(Foto: Pexels)

Gebruik grondverryker vir gesonde gras

Dien ’n mengsel van tuingrond en ’n grondverryker soos kompos toe. Die lente en vroeë somer is die ideale tyd vir die toediening hiervan. Dit verbeter die gehalte van die grond, maak onegalige stukke gelyk en stimuleer die gras om nuwe lote te produseer. Afhangend van die soort grasperk, is die algemene aanbeveling ’n laagbedekking van 1,5 cm. Let daarop dat buffelsgras, LM en alle winterseisoengrasperke nie grondverrykers (lawn dressing) nodig het nie.

Stap 1: Plaas klein hoeveelhede van die grondverryker op jou grasperk, en meer daarvan op dooie en ongelyke dele.

Stap 2: Versprei die grondverryker eweredig oor jou grasperk en skep ’n gelyke oppervlak. Jy kan ’n gladde roller soos Rolux se 500 mm gebruik as jou grasperk baie ongelyk is, maar moet dit nie oordoen nie; dit kan die grond kompakteer en groei verhinder.

Hou jou gras gevoed

Grasperke het voeding en water nodig, asook heelwat aandag om op hul beste te lyk. ’n Goeie soort kunsmis vir alle grassoorte is 5:1:5 (36). Dien hierdie kunsmis ten minste een keer elke drie maande gedurende die groeiseisoen toe teen ’n dosis van 60 g per vierkante meter. Andersins kan ʼn gespesialiseerde kunsmis gebruik word vir gevestigde grasperke. Hierdie kunsmis sal by jou plaaslike kwekery beskikbaar wees. Dit is belangrik dat jy jou grasperk natmaak na bemesting om te voorkom dat die grasperk brand.

Maai wat jy saai

Een van die beste maniere om jou grasperk prentjiemooi te kry, is om dit gereeld te sny – dit verdik jou grasperk en hou ongewenste onkruid weg. Ons is geneig om ons grasperk so kort moontlik te sny dat dit eers weer oor twee weke nodig is om die grassnyer uit te haal. Dit kan egter jou gras se droogteweerstand verminder asook die gehalte van jou gras verswak en beskadig. Stel die lemme van jou grassnyer sodat jy nie meer as ’n derde van die gras se lengte afsny nie – dit is veral belangrik vir die eerste sny na die koue winter.

Dit word as ‘n algemene reël beskou om kikoejoe op ’n hoogte van 4-6 cm te hou, fyner gras soos kinodont op 3-4 cm, en immergroen-gras op ’n hoogte van 6-7 cm.

(Foto: Unsplash)

Spandeer tyd in jou tuin hierdie somer en doen dit reg. Draf jou tuintake in ʼn japtrap kaf met die regte gereedskap. Rolux kan hier help met ʼn groot verskeidenheid petrol- en elektriese grassnyers, asook ʼn reeks tuintoerusting van ʼn hoë gehalte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Ekt wel n klein grasperkie siende ek maar in n kompleks bly, maar die gras is altyd groen.
Wat ek doen is, ek neem my tuinvurk en druk die penne in die gras en lig die grond so effe.
Na dit, vat ek engelse sout en strooi ligweg oor die gras (engelse sout maak jou groen plante “groener”)
Dan sit ek die sproeier aan vir so paar minuutjies.
Die bure vra my aldag hoe kry ek my grasperk so mooi, sommiges dink tot dis daardie “fake”gras…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.