Maak jou eie aalwyn-en-kaneel-klei

Maak jou eie speelklei. (Foto: Life is a Garden)

Met net drie eenvoudige bestanddele kan jy en jou kinders julle eie speelklei met aalwynsap maak.

Hierdie maklike mengsel ruik heerlik, is strelend vir die vel, glad nie giftig nie en beskik oor teen-swam en -bakteriese eienskappe.

Boonop beloof dit pret van die maak tot die speel, en as jy klaar gespeel het kan jy dit net op die komposhoop gaan gooi.

Hier is Life is a Garden se eie oorspronklike aalwyn-en-kaneel-speelkleiresep:

Benodighede:

Aalwynsap uit die tuin geoes. (Foto: Life is a Garden)

  • 2 tot 3 eetlepels geoesde aalwynsap uit die tuin. Onthou om ʼn skoon, skerp mes te gebruik wanneer jy met blare werk en kyk uit vir daardie skerp aalwyndorings.
  • ½ teelepel (of meer as jy wil) organiese, fyngemaalde kaneel
  • mielieblom (Maizena)
  • ʼn mengbak en lepel

Metode:

Mielieblom (Foto: Life is a Garden)

  1. Voeg die aalwynsap in die mengbak. Dit is nie ʼn probleem om ʼn paar stukkies van die aalwynvleis te hê nie, want dit sal net nog ʼn interessante en prettige voelervaring by die klei voeg.
  2. Voeg die kaneel met twee eetlepels mielieblom in die bak. Meng alles goed deur.
  3. Span jou skattingsvaardighede in om te bepaal of my meer sap of mielieblom moet byvoeg. Hierdie proses is deel van die pret; dit is kwessie van ʼn bietjie meer, ʼn bietjie meer – ag, perfek!
  4. Nou vir die meeste pret: Kry die kinders om die klei te knie en werk dit deur tot julle die verlangde rekbaarheid het. Jou klei moet sag en sappig wees met ʼn pragtige aardse kleur wat al die sintuie wakker maak. Kan jy dit ruik?

Wenk:

‘n Halwe teelepel fyngemaalde organiese kaneel sal die nodige geur aan jou speelklei verskaf. (Foto: Life is a Garden)

Sodra die speelklei gereed is kan jy speelgoed in die klei wegsteek om die speeltyd vir die jongspan te rek en beide die linker- en regterbrein te stimuleer. Ouer kinders kan geblinddoek word om te sien met watter eienaardighede hulle vorendag kom as hulle met die klei werk terwyl hulle nie kan sien nie.

Onthou as die klei hard raak kan jy net ʼn bietjie water daarop spat om dit sag te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.