Verwelkom naaldekokers in jou somertuin

(Foto: Life is a garden)

Wanneer is die somer in volle swang? Sodra die naaldekokers verskyn en in jou tuin kom baljaar of ’n elegante dansie om ’n waterfokuspunt uitvoer. Hierdie lieflike insekte is gelukkig glad nie giftig nie en is eintlik skitterende plaagbestryders. Maar kom ons leer bietjie meer oor hierdie merkwaardige skepsels:

Waarom word hulle juis naaldekokers (dragonflies) genoem?

Sou mens die Engelse “dragonfly” vry vertaal, kan jy van ’n “draakvlieg” praat. Almal ken seker die legende van St. George en die draak – die dapper ridder wat teen ’n draak moes veg om ’n prinses te red. In die geveg is die draak gewond en die ridder se perd vervloek, wat hom toe in ’n reusagtige vlieënde insek verander het. En as mens die woord “dragonfly” na Romeens vertaal, beteken dit “die duiwel se perd”.

Daar was eenmaal selfs die bygeloof dat naaldekokers (Afrikaans vir dragonflies) kinders se monde kan toewerk – dalk met die “naalde” wat hulle uit hul “kokers” sou haal, wie weet? Naaldekokers het selfs die onverdiende reputasie gehad dat hulle “perdestekers” en “muilemoordenaars” sou wees. Gelukkig is dit nie waar nie.

’n Vlugtige, maar groot feesmaal

(Foto: Life is a garden)

Hierdie voortreflike plaagbestryders doen vir seker hul deel om die huisvlieg- en muskietbevolking in toom te hou as hulle hul “kos” met hul pootjies gryp en sommer so vlieg-vlieg verorber.

Terloops, naaldekokers is topvlieërs: hulle klap hul twee pare vlerke afsonderlik en kan teen ’n fenomenale spoed van sowat 72 km/h in enige rigting vlieg – op, af, links, regs, vorentoe of agtertoe – en selfs roerloos in die lug hang soos ’n helikopter. ʼn Mens kan nie dink dat naaldekokers hul vlerke slegs 30 keer per minuut klap terwyl ander insekte soos die huisvlieg hul vlerke ’n hele 1 000 keer per minuut moet klap nie. Geen wonder dat gewone insekte nie ’n kans teen hierdie ratse klein jagters staan nie – een naaldekoker verslind tussen 30 en 100 muskiete per dag, dus kan jy maar die insekdoder bêre.

Hoe lok jy naaldekokers na jou tuin?

(Foto: Life is a garden)

Naaldekokers het ’n bron van vars water nodig vir die wyfie om haar eiers in te lê. Dit doen sy deur haar onderlyf direk ná paring in die water te steek. Indien jy nie ’n swembad in jou tuin het nie, kan ’n waterfokuspunt of selfs ’n voëlbad net so goed werk.

Naaldekokers is onskadelik vir mense en byt of steek ook nie. Behalwe dat hulle sulke goeie insekjagters is, is hulle op hul beurt ook ’n baie belangrike voedselbron vir ander roofdiere soos voëls en visse. En net soos paddas, is die aanwesigheid van naaldekokers in jou tuin ’n goeie aanduider van die algemene welstand en balans van jou ekostelsel.

Daar is dus geen rede om hierdie besonderse spesie (wat reeds 300 miljoen jaar bestaan) uit jou tuin te jaag nie – hulle bring nie slegs die somer met hulle saam nie, maar kom na jou tuin om jóú te help. Al wat hulle in ruil vra, is genoeg vars water en miskien ’n bietjie meer bewondering van ons almal.

Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Lieflike klein wesentjies! Net wat die Skepper vir elke tuin wil hê.

Eend Bessinger ·

Niks grillerig hier nie! Soos spinnekoppe raak hul van die lastige muskiete en vlieë ontslae.

Pieter ·

Daarby kry jy ook die fyn waterjuffertjies of damselflies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.