Video: Só help AVBOB kliënte in pandemietyd

(Foto: Unsplash)

Die begrafnisondernemersgroep AVBOB het op nasionale vlak 145% meer begrafnisse in Januarie uitgevoer tydens die piek van die tweede golf van die Covid-19-pandemie in vergelyking met Januarie verlede jaar.

Verder was dit ook 41% meer begrafnisse as in Julie verlede jaar toe die pandemie plaaslik die piek van die eerste golf bereik het.

Pieter van der Westhuizen, AVBOB se Hoofbestuurder: Begrafnisdiens, sê dit het ʼn ingrypende impak op die groep se dagtake sedert April verlede jaar gehad.

Hy het in ʼn video-onderhoud met Maroela Media gesê die manier waarop begrafnisse waargeneem word, moes in ʼn stadium bykans elke drie weke verander om by nuwe regulasies weens Covid-19 aan te pas.

“Nie net moes AVBOB onmiddellik meer mense aanstel en oplei nie, maar ons het vragskeephouers in verkoelde bergingsgeriewe omskep. Ons het selfs by sommige takke motorhuise in dié soort geriewe verander met die tweede golf van Covid-19-gevalle in Januarie,” verduidelik hy.

Die dood van ʼn geliefde is ʼn moeilike en hartseer tyd in enige familie se lewe, selfs onder die beste omstandighede. Van der Westhuizen sê te midde van streng regeringsprotokolle en regulasies om die verspreiding van die virus te help bekamp, moes AVBOB ook nog maniere vind om die beste diens aan hulle kliënte in die tyd te bied.

“Ons kan ongelukkig nie mense se versoeke toestaan om hulle geliefdes te was of aantrek nie en dit was dikwels moeilik om die kultuurverandering oor te dra. Daar kon ook nie meer soveel geliefdes by die ondernemer of begrafnis self wees om afskeid te neem nie en terwyl kerke in die strenger inperkingstyd gesluit was, het ons selfs lodges genader om ʼn plek te verskaf vir die samekoms na ʼn diens.”

In die moeilike tyd het AVBOB ook die finansiële impak van die pandemie versag deur gratis dienste ten bedrae van R260 miljoen, van Julie verlede jaar tot Januarie vanjaar, aan polishouers te verskaf.

“Dit het ʼn gratis kis ingesluit, asook die reël en uitvoer van die begrafnis, gratis vervoer van die oorledene binne ons landsgrense. Ons het ook R2 500 se kontant aan polishouers verskaf wat hulle kon gebruik vir uitgawes wat vir die begrafnis aangegaan word.

AVBOB het ook ʼn verdere R12 miljoen gespandeer aan persoonlike beskermende toerusting, wat ons gratis aan ons kliënte verskaf het met elke begrafnis.

“Dit is ʼn voordeel wat tot einde Maart beskikbaar is. Sou die pandemie voortduur, sal ons dit waarskynlik vir ʼn langer periode verskaf.”

  • Lesers wat belangstel in meer inligting oor AVBOB se begrafnisdienste en voordele kan enige AVBOB-kantoor of AVBOB se webwerf besoek, of die inbelsentrum by 0861 28 26 21 skakel.

Kyk die video van die onderhoud hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.