Hou grimering só vars op snikhete somersdae

Argieffoto. (Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

Die hittegolf wat tans in groot dele van die noorde van die land heers, kan konsternasie veroorsaak met weggesmelte onderlaag, gesmeerde oogomlyner en taai lipstiffie.

Maar grimeerkenners meen dié snikhete dae hoef nie noodwendig ʼn mooi gegrimeerde gesig te kelder nie.

Volg hierdie stappe om te verseker jou grimering lyk altyd vars terwyl jy die hitte trotseer.

Gebruik olievrye vogroom

Die manier waarop jy jou vel versorg, is net so belangrik soos die grimering wat jy daarop aanwend en ʼn goeie vogroom is nodig om die vel vir grimering voor te berei.

Vermy egter olierige vogroom in die somermaande om te keer dat jou gesig deur die loop van die dag vetterig word.

Sonskerm ʼn sleutelbestanddeel

Foto ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Oormatige sonblootstelling kan lei tot voortydige veroudering, velskade en verskeie veltoestande, om nie eens te praat van velkanker nie.

Daarom is dit belangrik om altyd sonskerm by jou daaglikse velsorgroetine in te sluit, ongeag die hoeveelheid tyd wat jy in die son gaan deurbring.

’n Breëspektrum sonskerm met SPF 30 (of hoër in warmer maande) word aanbeveel en moet verkieslik ná vogroom aangewend word.

Belê in basislaag

Grimering kom maklik af in warmer weer en daarom is ʼn goeie basislaag (ook bekend as ʼn primer) belangrik.

Kies ʼn basislaag-produk wat ʼn mat-afwerking het en wend dit voor jou onderlaag aan om te keer dat veral jou voorkop, neus en ken deur die dag blink.

Wend ook ʼn basislaag op ooglede aan om te verseker dat oogskadu langer op somersdae hou.

Minder is meer in warmer weer

Argieffoto. (Foto: Mart Production/Unsplash)

Grimering en hitte is nie vriende nie. Hoe minder produkte daarteen beskerm hoef te word, hoe beter. Verruil swaar of digte onderlaag vir ʼn getinte vogroom (BB cream).

Só ʼn produk sal jou vel steeds ʼn dun laag bedekking én ʼn gloeiende afwerking gee sonder om taai te word wanneer jy warm kry.

Pasop vir poeier

Baie van ons gryp graag ons gesigpoeier nader om grimering deur die loop van die dag te verfris, maar té veel poeier kan ons grimeerprodukte op veral warmer dae aangeplak of gesmeer laat lyk.

Gebruik eerder deur die dag ʼn kladpapiertjie (blotting paper) om oortollige olie op die gesig te absorbeer.

Goed, beter, waterbestand

Argieffoto. (Foto: Karolina Grabowska)

ʼn Goue reël vir langdurige grimering is om waterdigte skoonheidsprodukte soos oogomlyner en maskara aan te wend sodat jy nie met pandabeer-oë sit selfs nog voor jy ʼn voet by die deur uitgesit het nie.

Dié produkte moet saans egter sorgvuldig verwyder word om ooginfeksie te vermy.

Besproei

ʼn Setsproei of “setting spray” klink dalk soos nóg ʼn grimeerfoefie, maar dit is ʼn gunsteling by talle professionele grimeerkunstenaars en kan voor en ná die tyd aangewend word om jou grimering te seël.

Hou ook ʼn verfrissersproei in jou handsak om jou vel deur die loop van die dag af te koel en jou grimering vars te laat lyk.

Bykomende bronne: Good Housekeeping, L’Oreal Paris.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.