Jou voorkoms is jou visuele CV

(Foto: Nimble Made/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Die meeste van ons is geseënd om in ʼn land te woon waarin ons vry is om te kies wat ons werk toe wil aantrek. Saam met hierdie vryheid kom die verantwoordelikheid om te weet wat geskik is vir die werkplek, watter rol ons in die werkomgewing speel en watter geleenthede ons moet bywoon.

Net so is die volgende aspekte ook belangrik wanneer jy aantrek vir werk:

  • Selfbeeld en selfvertroue
  • Houding en integriteit
  • Respek vir ander
  • Vermoë om die werk goed te verrig
  • Kommunikasievaardighede
  • Lyftaal en reputasie

Die manier waarop jy jouself visueel uitbeeld, kan en sal egter soms swaarder weeg as al die bogenoemde. Hoekom? Omdat ons glo wat ons sien.

Ons neem die uiterlike voorkoms van ʼn persoon as ʼn weerspieëling van hul waardes, houding, status en vermoëns. Om die waarheid te sê, maak dit nie saak hoe intelligent iemand se geselskap is of hoe goed hulle reputasie, gedokumenteerde suksesse, ervaring, getuigskrif of entoesiasme is nie, want as hulle voorkoms nie na wense is nie gaan hulle kredietwaardigheid verlore.

Eenvoudig gestel, jou voorkoms – wat jou kleredrag en versorging insluit – is jou visuele CV. Dit sal óf jou reputasie as ʼn betroubare, bekwame, professionele persoon ondersteun óf dit ondermyn. Wanneer die een nie die ander ondersteun nie, sal mense altyd glo wat hulle sien.

Wanneer ek korporatiewe praatjies lewer, wil ek altyd weet wie al met potensiële kandidate onderhoude gevoer het vir ʼn pos. Vir diegene wat het, vra ek dan of ʼn kandidaat se voorkoms hulle al ooit laat dink het dat hierdie onderhoud ʼn mors van tyd gaan wees.  ʼn Kandidaat se voorkoms kan dikwels, onwetend, sy kanse om die pos te kry aansienlik verminder. Dit is hier waar eerste indrukke die swaarste weeg.

Net so is die teenoorgestelde ook waar. ʼn Onderhoudvoerder kan na die volgende hoopvolle kandidaat – met ʼn netjiese, selfversekerde voorkoms – kyk en onmiddellik positief voel oor die moontlike uitkoms van die onderhoud. Dit kan hulle laat dink “ek hou van hierdie persoon, dit mag dalk net die een wees”.

Jou voorkoms is belangrik. Wanneer dit nie na wense is nie, kan dit jou duur te staan ​​kom wat die volgende aanbetref:

  • Werksgeleenthede
  • Potensiële inkomste
  • Bevordering
  • Respek en gesag
  • Persoonlike handelsmerk

As jy na hierdieprofessionele mooimaaksessie kyk, sal jy saamstem dat dit makliker is om na die tyd in dié kandidaat se potensiaal, vermoëns, mense vaardighede, uitvoerende inkomstevlak en leierseienskappe te glo.

(Foto verskaf)

So, hoe ver moet jy gaan? Moet jy elke dag perfek versorg wees met ontwerpersklere en die nuutste modes dra?

Nee, die waarheid is dat dit makliker haalbaar is as wat jy dink.

Wat is die belangrikste?

Vir die meeste werkgewers is die waarde of inkomste wat jy vir die sakeonderneming bring, uit die werk wat jy doen, die belangrikste. Tweedens is jou vermoë om met ander oor die weg te kom en as ʼn waardevolle en bydraende spanlid op te tree. Laastens moet daar op jou staatgemaak kan word om die  maatskappy op ʼn professionele en positiewe wyse te verteenwoordig wanneer jy kontak het met kliënte en die algemene publiek.

Jy is immers die menslike gesig van die organisasie wat jy verteenwoordig. Duisende rande word spandeer om ʼn maatskappy se handelsmerk te skep en in stand te hou. Jy, as ʼn verteenwoordiger, is hul menslike koppelvlak en moet daaromop alle gebiede ʼn aanwinswees. Dit beteken egter nie ontwerpersklere, die nuutste modes of duur salonstilering nie.

Wat ʼn werkgewer verwag, is dat jy die beste moet doen met wat jy het. Niks meer of minder nie. Kies daarom moderne klere wat jou figuur vlei, in skakerings wat vir die wêreld -wys dat jy professioneel is.

Wat jou voorkoms van jou sê:

  • Goeie versorging verteenwoordig selfvertroue.
  • ʼn Afgeronde voorkoms verteenwoordig professionele ingesteldheid.
  • Visuele houding verteenwoordig aangenaamheid.

Wat om te vermy in die werkplek:

  • Rokke of rompe wat meer as 5 cm bo die knie is.
  • Klere wat te styf sit.
  • Enigiets wat deurskyn.
  • Vuil hare, naels of tande.
  • Vuil, gevlekte of geskeurde klere.
  • Te veel grimering.
  • Vreemde haarkleure of -style.
  • Onvanpaste klere vir jou gewig of ouderdom.
  • Te veel juwele of armbande wat raas.

(Foto verskaf)

Die bogenoemde style is geskik vir almal; van universiteitsverlaters met ʼn knap begroting tot iemand wat na jare terugkeer werk toe. Versorging is ʼn eenvoudige saak wat net ʼn paar minute per dag neem.

Basiese klere kan duurder wees, byvoorbeeld ʼn broek, romp, baadjie, skoene, met goedkoper bloese en ander bykomstighede. Gaan loer by liefdadigheidswinkels vir goeie gehalte tweedehandse klere. Begin met die basiese items en sit elke maand iets by.

ʼn Glimlag en ʼn vriendelike knik van erkenning kos niks anders as die gewilligheid en bewustheid om dit te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.