Moet-hê-items in jou kas dié winter

Herfs is verby en die winter het hard en duidelik sy aankoms in Suid-Afrika aangekondig met die eerste sneeuval.

En hoewel baie van ons eerder in ons slaapklere en onder komberse wegkruip met die koms van die winterkoue, is dit steeds moontlik om stylvol én warm in hierdie maande te bly.

Van die grootste modegiere vir vanjaar se wintermodes is dik skouermantels, geruite patrone, wye broeke en oorgroot baadjies.

As jy stylvol wil wees, beteken dit darem nie jy moet jou hele klerekas nou uitgooi en die winkels invaar nie. As jy jou winteritems slim kies, kan jy dit jaar ná jaar weer dra, en dit sal jou lank stylvol laat vertoon.

Hier is ses staatmakeritems vir jou winterklerekas:

Bonkige trui

Hierdie soort trui is ʼn maklike alternatief vir as jy die dag voel dat jy eintlik in jou slaapklere wil bly. Dit is lekker gemaklik, stylvol en kan vir enige figuur werk. Vir ʼn ekstra tikkie styl kan jy die voorkant van die trui effens in jou broek insteek.

Bonkige truie van Superbalist

 

Die staatmaker-denim

ʼn Denimbroek wat jou goed laat voel, is ʼn staatmaker in elke klerekas. ʼn Broek wat hoog op kom tot in jou middel, is gewoonlik gemakliker as een wat op jou heupe sit. Soek vir een wat nouer na jou enkels toe raak. Dit hoef nie heeltemal styf te sit nie, maar nouer pype lyk meer gesofistikeerd terwyl wye pype maklik slordig kan lyk.

‘n Staatmaker-denim van Cotton On

 

Swart tekkies

Jy kan dit by byna enigiets dra, dit is prakties en dit pas perfek by die bekende athleisure-styl waar mens sportklere met gewone ontspanningsklere meng.

Swart tekkies is stylvol en laat jou uitrusting maklik duurder lyk as wat dit is. Dra dit by enige kleur broek met ʼn jas, trui of leerbaadjie. Jy kan net wen!

Swart tekkies van Nike

 

Uitblinkerjas

ʼn Uitblinkerjas is iets wat jou winterklerekas sal opkikker. Aangesien ʼn mens nie regtig ʼn jas elke dag dra nie, is dit ʼn goeie geleentheid om weg te beweeg van neutrale kleure en eerder ʼn item te kies wat uitstaan.

Geruite patrone is veral bekend hierdie seisoen, en is ʼn goeie opsie vir ʼn jas wat jare lank nog klassiek gaan bly. Anders kan jy soek vir ʼn helderkleurige jas wat ʼn goeie aksent vir jou ander klere sal wees.

Geruite jas van YDE

Uitblinkerjas van Country Road

 

Hoë stewels

Stewels wat tot by jou knieë kom, is al vir ʼn geruime tyd in die mode. Hulle is nie net modieus nie, maar hou ook die lastige koue uit en is algemeen beskikbaar in enige prysklas.

Hoë stewels van Superbalist

 

Fopleerbroek

ʼn Fopleerbroek is ʼn alternatiewe keuse vir die gewone swart leggings. Aangesien die materiaal naby aan jou vel is, hou dit jou heerlik warm. Dit is ook gepas vir enige figuur en kan saam met byna enigiets gedra word. Dra dit met enige van die bogenoemde items vir ʼn stylvolle voorkoms.

Fopleerbroek van Asos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.