Skadelike sonstrale rede vir vroeë velveroudering

Foto ter illustrasie. (Foto: verskaf)

Sowat 80% van alle kenmerke van velveroudering onder vroue met ligter velle kan aan UVA- en UVB-strale toegeskryf word.

Die Nasionale Sentrum vir Biotegnologie-inligting (NBCI) het die syfer in ʼn onlangse studie bekendgemaak.

Mense wat dikwels aan die son se strale blootgestel word, sal dikwels meer plooie, tekstuurverandering, gebrek aan elastisiteit, vaskulêre versteuring en meer pigmentasie opmerk.

Die NCBI het egter ook opgemerk dat dit nie net ligte velle is wat deur die son aangetas word nie, donkerder velle kan ook hiperpigmentasie weens die son se bestraling opdoen.

“Daar is ʼn wanopvatting dat hoe donkerder die vel is, hoe minder skade veroorsaak die son. Daarom kyk baie mense nie na hul vel nie,” het Mario Correia, die handelsmerkbestuurder van Eversun, gesê.

Correia het gesê ʼn mens se vel verouder natuurlik oor tyd heen, maar die proses word beslis weens die sonskade versnel.

Hoewel voortydige veroudering ook aan ander elemente, soos dieet- en lewenstylkeuses, soos rook, toegeskryf kan word, bly die son steeds die grootste sondaar wanneer dit by veroudering en hiperpigmentasie kom.

UVB-strale is verantwoordelik vir sonbrand, en hoewel die kort golflengte daarvan nie tot diep binne die vel kan dring nie, rig dit steeds skade aan buitenste lae van die vel aan.

UVA-ligstrale is gevaarliker as UVB-strale, aangesien dit jou vel dieper kan binnedring. Dié soort strale is waaraan mense meestal blootgestel word. UVA-strale is verantwoordelik vir die vermindering van ons vel se natuurlike elastisiteit, wat die kanse op plooie en pigmentasie verhoog.

Melanien word deur die vel gebruik om hom teen dié sonstrale te beskerm. Hierdie selle help ons vel om die sonlig te absorbeer, dit in hitte om te skakel, en werk dan om die skade te herstel.

Hoe meer UV-strale ʼn mens aan blootgestel word, hoe meer melanienselle word geproduseer. Dít is hoe bruinvlekke ontwikkel.

Ongelukkig produseer almal nie genoeg melanien om hul vel doeltreffend te beskerm nie. Ander wat weer te veel melanien produseer, ervaar dikwels hiperpigmentasie.

Om jou vel teen die son te beskerm en velskade te vermy, stel Correia voor dat jy bedags tussen 10:00 en 16:00 uit die son bly, aangesien dit die tyd van die dag is waarop dit die warmste is. Indien jy nie gedurende hierdie tyd binne kan wees nie, maak jouself in ʼn skaduplek tuis.

Jy kan ook ʼn hoed gebruik wanneer jy buite is. Of jy nou ʼn dag op die strand geniet of buite is vir ʼn oggenddraf, ʼn hoed moet te alle tye gedra word.

Correia stel ook voor dat jy sonskerm daagliks moet aanwend, selfs in die winter. Die aanwending van sonskerm behoort ʼn stap in elke oggendroetine te wees. ʼn Hoë SBF word aanbeveel, aangesien dit jou vel vir langer beskerm.

Om sonslim te wees is die enigste manier om te verseker dat jou vel teen voortydige veroudering en pigmentasie weens sonskade beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.