Velsorg vir somer, skei feite van fiksie

Argieffoto. (Foto: Alexander Stemplewski/Pexels)

Soos die dae langer en die temperature warmer word, moet ons ons velsorgroetines by die veranderende seisoene aanpas.

Volgens Miso Mchunu, handelsmerkbestuurder by Bodidoc – ʼn trots Suid-Afrikaanse velsorgreeks – is dit egter belangrik om feite van fiksie te skei en ʼn paar velsorgmites uit die weg te ruim soos wat ons die somermaande behoorlik betree.

  1. Digte vogrome is beste vir droë somervel

Mense glo dat die gebruik van ’n swaar of digte vogroom die oplossing is om droë vel te bestry tydens die oorgang van winter na somer. Alhoewel dit noodsaaklik is om jou vel gehidreer te hou, is dit dalk nie die beste benadering om ’n dik, baie ryk room te gebruik nie.

Probeer eerder:

Ligter vogrome is dikwels meer doeltreffend gedurende die warmer seisoene omdat digter produkte porieë kan verstop en veral in warmer weer tot veluitslag of puisies kan lei. Kies ʼn produk wat vogtig, maar nie vetterig is nie.

  1. Somerreënbuie en humiditeit hidreer jou vel

Diegene wat in dele van die land met verhoogde humiditeit woon, moenie dink daardie bedompigheid sal hul vel natuurlik hidreer nie. Hoë sowel as te lae humiditeitsvlakke is ewe sleg vir die vel en veral hoë humiditeit kan ook porieë makliker laat verstop.

Onthou:

Hoewel hoër humiditeitsvlakke jou vel se oppervlak vogtig kan laat voel, dring dit nie deur na die dieper lae wat ook gehidreer moet word nie.

Argieffoto. (Foto: Arina Krasnikova/Pexels)

  1. Hoe harder jy skrop, hoe beter

Om die vel hard af te skilfer skep dalk die illusie dat dit sagter of skoner voel daarna, maar harder is nie altyd beter nie. Afskilferingsprodukte wat te grof is, kan die vel beskadig en uitdroog.

Probeer eerder:

ʼn Velsorgproduk hoef nie growwe bestanddele te bevat om doeltreffend te wees nie. Serums met salisielsuur (salicylic acid) kan net so goed van dooie velletjies ontslae raak.

  1. Stort meer gereeld in die somer

Hoe skoner jou vel, hoe beter… of hoe? Wel, nie noodwendig nie. Alhoewel ʼn mens nie jou persoonlike higiënestandaarde moet laat gly nie, behoort jy dalk daardie tweede daaglikse somerstort te heroorweeg.

Onthou:

Om die vel se beskermende laag ongeskonde te hou, is dit die beste om net een of twee keer per dag te bad om te verhoed dat natuurlike – en nodige – olies weggespoel word. As jy ʼn droë of sensitiewe vel het, sal dit help om irritasie te voorkom.

  1. Onnodig om in somer so sorgvuldig na jou vel om te sien

Terwyl sommige areas meer gehard as die gesigvel is, is ander areas – naamlik die vel op jou nek, bors, rug en hande – ewe dun en kan dit vinnig tekens van veroudering vertoon.

Onthou:

Maak seker dat jy hierdie areas ook versorg, bevogtig en beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.