Vermy dié 5 foute in jou velsorgroetine

(Foto: Unsplash)

Hoe jy jou vel versorg, raak so vinnig deel van jou roetine dat jy nie meer dink aan hoe jy dit aanpak, en of jy dalk iets verkeerd doen nie.

Themba Ndlovu, woordvoerder van Clere for Men, sê die meeste mense probeer net hul versorgingsroetine so gou moontlik verbykry sodat hulle met hul dag kan begin. Maar volg jy die stappe van daardie roetine korrek? “Tien teen een nie,” sê Ndlovu.

“Die meeste mense maak ten minste ʼn paar versorgingsfoute sonder dat hulle dit eens agterkom, en daarom kry hulle nie die volle voordeel van die tyd wat hulle in die stort en voor die spieël deurbring nie.”

Hier is ʼn paar foute wat mense in hul versorgingsroetine maak, en hoe om dit te vermy:

  1. Jy bevog nie jou vel voor slaaptyd nie

Die meeste mense bestee meer tyd aan hul velsorg in die oggend wanneer hulle opstaan, maar vir jou vel is die aand voor slaaptyd nét so belangrik. Daarom is ʼn blote gesigseep in die aand nie genoeg nie.

Om jou gesig te was verwyder dooie velletjies, vuilgoed en bakterieë, maar dit kan ook jou vel droog laat voel. In die aand moet jou vel homself herstel en jy kan die proses aanhelp deur ʼn goeie bevogter aan te wend wat vitamien E en A bevat.

  1. Jou stortwater is te warm

Daar is min dinge so ontspannend as ʼn lekker lang, warm stort. Maar as die water te warm is, sal jou vel die prys daarvoor betaal. Baie warm water kan die vel uitdroog en tot ʼn rits velkwessies soos inflammasie en ekseem lei.

Jy hoef wel nie heeltemal koud te stort nie, maar probeer om eerder jou watertemperatuur louwarm te hou.

  1. Jy was nie jou hare genoeg nie

Natuurlike olies en daaglikse stileringsprdukte kan jou hare vinniger vuil maak as wat jy dink. As jy nie produkte op jou hare gebruik nie, kan jy vir langer tydperke tussen haarwassessies loop, maar indien jy daagliks produkte soos haarsproei gebruik, is dit beter om dit daagliks uit te was en die volgende dag vars te begin.

  1. Jou skeermes is oud

Die meeste skeermesse kan net ʼn paar keer gebruik word en as jy sien die lemmetjies raak stomp of geroes, moet jy dit dadelik vervang. Ou skeermeslemmetjies kan jou vel laat brand, jeuk en dit rooi laat.

Skerp lemmetjies verg minder druk op die vel en sal daarom ook minder skade aanrig. Alternatiewelik kan jy ook ʼn elektroniese skeermes aanskaf wat sowat 4-18 maande lank sal skerp bly.

  1. Jy vergeet van jou voete

Dit is nie verbasend dat jy minder aandag gee aan die dele van jou liggaam wat jy minder sien nie, maar dit is steeds nie ʼn verskoning om nie na jou voete om te sien nie.

ʼn Maklike manier om jou voete beter te laat lyk in oop skoene is om ʼn voetvyl te gebruik om van droë of harde velle ontslae te raak. Smeer ook room aan om te voorkom dat droë velle terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

1. Ek smeer Camfer room aan my voete want dit bars in die winter en lyk vir my vrou soos ‘n krokodilvel. Dit haak ook die lakens van my vrou af dan kry sy koue.
2. Stort maar warm maar moet dit nie oordoen nie. Soos in alles moet daar balans wees.
3. My hare voel soos gras omdat ek dit elke dag was. My vrou sê en moet wegbly van Canferroom by my hare.
4. My Gilette Fatboy is ‘n 1959 model wat ek ten duurste voor moes betaal het. Kry vir jou ‘n “safety razor” en spaar geld op die lemmetjies.
5. Sien 1.

Chris dupreez ·

Hande kniee hakke elmboë , hou van die streelende room, la la laa la la laa, het die ou advertensie van camfer cream gesê, ek gebruik dit ook op my bene en voete asook my hande

Anoniem ·

Ons voorouers het geeneen van bogenoemde gedoen nie en het oorleef. Leef net skoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.