Voller, blink lippe vanjaar hoogmode

‘n Natuurlike en skoon voorkoms was vanjaar hoogmode. (Foto: Fleur Kaan/Unsplash)

Enige vrou kan daarvan getuig dat lipstiffie nie net jou voorkoms nie, maar sommer ook jou selfvertroue ʼn hupstoot kan gee.

Hoewel sekere kleure en giere nooit uit die mode gaan nie, het die afskaffing van verpligte gesigmaskers en die opkoms van 1990’s-nostalgie wel ʼn impak op vanjaar se lipstiffie-neigings gehad.

Danksy sosiale media en die rol van beïnvloeders op sosiale media het sekere skoonheidsbehandelings ook minder van ʼn taboe geword.

Maroela Media het by Leo-Nene Rabe, ʼn permanente grimeerkunstenaar en deelnemer aan die kykNET-werklikheidsreeks Plaasjapie, ingeloer om meer oor vanjaar se grootste neigings te hoor.

Blink, natuurlike voorkoms bly bo

Bekendes, beïnvloeders en ontwerpers het in 2022 byna ʼn obsessie met lipglans gehad.

Die “geen grimering”-voorkoms is hier om te bly. (Foto: Mathilde Langevin/Unsplash)

Lipsalf en mat lipstiffie sal altyd hul plek hê, maar danksy nuwe tegnologie en verbeterde formules word dié lipglansneiging toenemend deur vroue van verskillende ouderdomme voortgesit.

Vandag se lipglans is ook minder taai en kan jou lippe voller en vogtiger laat lyk. Sommige produkte kan selfs beskerming teen sonskade help bied.

Volgens Leo-Nene skakel dié blink voorkoms ook by een van 2022 se oorhoofse voorkomsneigings in, naamlik om so vars en natuurlik as moontlik te lyk.

“Die gloeiende, ‘geen-grimering’-voorkoms was vanjaar groot en is beslis hier om te bly. Danksy die pandemie is daar ook ʼn baie groter klem op velsorg geplaas en om ʼn goeie grondslag vir jou grimering te hê. Die beste grimering wat jy in elk geval kan hê is ʼn goeie, gesonde vel.”

Sy voeg by dat ʼn natuurlike pienk ʼn gunstelingkleur by haar kliënte is wat permanente grimering laat aanwend.

“Die idee is dat mense onseker moet wees of jy ʼn blink lipsalf, sagte lipstiffie of net pragtige natuurlike lippe het,” sê sy.

“ʼn Mens wil nie té helder gaan sodat jy simpel lyk as jy die dag kies om nie ander grimering te dra nie.”

Helder kleure óók vanjaar gevier

Pruim- en mauve-skakerings was vanjaar ‘n gunsteling. (Foto: Yu;iya Shabliy/Pexels)

Die winkels is hierdie somer vol helder, bont kleure en volgens Leo-Nene is dit hoogtyd dat helder kleure weer gevier word.

“Helder kleure en veral skakerings van helder groen, pienk en pers is oral hierdie somer te sien en dit het beslis oorgespoel na die manier waarop ons grimering aanwend. Mense is nie meer so skrikkerig om af en toe met bont lipstiffies te eksperimenteer nie.”

Baie vroue het vanjaar gekies om hul pruilmonde met pruim- en mauve-skakerings te beklemtoon, maar die tradisionele rooi lipstiffie het volgens Leo-Nene nog steeds vanjaar ʼn moet-hê-item vir die grimeertas gebly.

“Rooi is mooi op enige dag en is die perfekte manier om seker te maak alle oë is op jou. Dit is ʼn kleur wat gelukkig nooit uit die mode sal wees nie.”

Rooi lipstiffie met ʼn effense roeskleur was vanjaar ook hoogmode.

Lipvergrotings nou minder taboe

Lipvullers word minder taboe. (Foto: Sam Moghadam/Unsplash)

Een van die jaar se grootste liptendense was beslis die toename in lipvergrotings, veral by jonger vroue.

Ongelukkig dink baie van ons dadelik aan vroue wat met sogenaamde eendlippe op sosiale media poseer wanneer daar oor dié tipe behandeling gepraat word, maar Leo-Nene meen dié stereotipes word stelselmatig afgebreek. “Veral as ʼn mens kyk na die hoeveelheid vroue wat vanjaar hierdie tipe nie-chirurgiese behandelings ondergaan het.

“Almal wil nie meer noodwendig massiewe lippe hê nie, maar dalk net hul lipvorm verbeter of ʼn merkie verbloem. Mense onderskat ook nogal ʼn mooi lipvorm en wat ʼn bietjie projeksie aan jou gesig kan doen.”

Dokters en spesialiste is deesdae ook meer gewillig om hul spreekkamerdeure vir sosiale media oop te maak en eerlik oor dié tipe prosedures te gesels.

“Ons sien hoe bekendes en beïnvloeders lipvullers sommer so vinnig op kamera kry. Hierdie tipe deursigtigheid maak sulke behandelings minder vreesaanjaend en taboe aangesien dokters op ʼn informele wyse verduidelik hoe dit werk.”

Leon-Nene Rabe. (Foto: Verskaf)

Sy benadruk dat vandag se behandelingsprosesse toenemend op vroue gemik is wat voller en sagter lippe eerder as klipharde “vislippe” wil hê.

“Mense is skrikkerig dat hulle met massiewe, harde lippe by die spreekkamer gaan uitstap, maar dit is gelukkig nie meer die geval nie en ook nie meer in die mode nie.”

Sy verduidelik dat lipvullers hoofsaaklik bestaan uit hialuronsuur, ʼn tipe “superbestanddeel” wat natuurlik in die liggaam én deesdae in al wat ʼn vogroom, lipglans en serum voorkom.

Boonop hou dit die vel vogtig en help ook om die vel se weefselherstelproses aan te wakker.

Hoewel hierdie tipe lipinspuitings veral die afgelope jaar baie gewild geraak het, is dit volgens Leo-Nene belangrik om te onthou dit is steeds ʼn ernstige prosedure wat ernstige risiko’s inhou indien dit verkeerd uitgevoer word.

Sy moedig vroue daarom aan om deeglik navorsing te doen en eers vir ʼn konsultasie te gaan.

“Wees ook realisties en neem jou eie gesigvorm en anatomie in ag voordat jy nou ʼn prentjie van Angelina Jolie wil uitpluk vir jou afspraak. Dit is beslis nie ʼn ‘one size fits all’-prosedure nie.”

Bykomende bronne: Vogue, Bustle, Cosmopolitan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.