Wees ’n voortdurende student van die lewe

Foto ter illustrasie. (Foto: Kampus Production/Pexels)

Deur Donsie Kruger

We went from a culture of know it alls to a culture of learn it alls.” – Chris Capossela, Microsoft se uitvoerende bemarkingshoof

ʼn Leeftyd van ervarings, maniere van doen en gestoorde kennis is van onskatbare waarde om jou deur die lewe te begelei. Die menslike brein is in staat om tot gryse ouderdom nuwe inligting te ontvang, te verwerk en te stoor vir toekomstige gebruik. Indien ʼn bietjie prikkeling van die ou sinapse, deur dit met nuwe stof en alternatiewe denke te konfronteer, vir jou na te veel inspanning klink, sal wat hier volg jou dalk anders daaroor laat dink. Om nuwe dinge te leer kan pret wees, sal jou selfvertroue ʼn hupstoot gee, mag jou dalk ʼn nuwe doel in die lewe gee en sal jou in kontak bring met ander leergieriges.

Hoekom is dit belangrik om voortdurend te leer?

Natuurlik is dit belangrik om op hoogte te bly van nuwe werksaamhede en metodes in jou werksplek. Formele studies speel ook ʼn noodsaaklike rol vir toetrede tot die arbeidsmag. In jou werksplek is daar ook dikwels formele leergeleenthede wat jou van hulp kan wees in die bevordering van jou beroepsrigting en moontlike bevordering. In hierdie artikel val die fokus meer op informele leergeleenthede en die noodsaak om sulke geleenthede met altwee hande aan te gryp. Hierdie geleenthede daag jou uit om dinge dalk ʼn bietjie anders te doen as voorheen, of om self die oplossing vir ʼn probleem te gaan soek en toe te pas, of om met kenners te kommunikeer oor aangeleenthede waarvan jy voorheen dalk min geweet het of wat jy dalk verkeerd verstaan het. Dit lei nie noodwendig tot ʼn formele kwalifikasie nie, maar lei beslis tot ʼn lewenskwalifikasie en ʼn gesonder lewensuitkyk.

In ʼn studie wat handel oor die mens se geestelike welstand en watter faktore dit bevorder, skryf ʼn aantal persone dat die ondersoek aantoon dat die mens se welstand toeneem wanneer hy doelwitte stel en beplanning doen om dié doelwitte te bereik. Hulle het bevind dat, alhoewel die kontrolegroepe nie alle leeruitkomste as positief ervaar het nie, die proses van nuwe doelwitte stel en nuwe dinge leer of doen telkens as positief tot hul welstand ervaar was. Die brein beleef die aktiwiteit van doelgerig leer as positief! Hierdie studie het aangetoon dat sulke verbeterde welstand ervaar word tydens formele en informele leergeleenthede. Dit is dus nie so belangrik dat wat jy leer instrumenteel gekoppel moet wees aan byvoorbeeld die vooruitgang van jou beroep nie (formele leer), maar dat leer vir die pret daarvan of as uitdaging (informele leer) net so stimulerend vir die brein kan wees en ʼn gevoel van vervulling kan gee.

Die brein is ʼn plooibare orgaan en super sensitief vir stimulasie en ontwikkeling. Alhoewel die brein piektye van leer ervaar (in ons kinderjare), behou dit altyd die vermoë om nog te leer, al is dit soms stadiger. Jou brein is allermins staties en onveranderbaar, maar kan met tyd en deur ongebruik minder plooibaar raak en dus minder bruikbaar. Die bekende uitdrukking “use it or lose it” is hier baie gepas. Elke keer as jou brein iets nuuts leer of ervaar, verander die brein se bedrading. Nuwe selle word gemaak en nuwe verbindinge tussen die selle word gevestig. Die brein is ontwerp om gestimuleer en uitgedaag te word. Te veel rus is roes vir die brein!

As ons die studies en baie ander soortgelyke studies ernstig opneem, dan is daar net een gevolgtrekking waartoe ons kan kom, naamlik: moenie ophou nuwe dinge leer nie!

Waar om te begin

(Foto: Elina Fairytale/Pexels)

Die wêreld waarin ons leef is ʼn vinnig veranderende ruimte van nuwe ontdekkings en nuwe lewens- en wêreldbeskouings. Om “by te bly” is eintlik onmoontlik. Waar sal ʼn mens dan begin as jy deel wil wees van die groep van voortdurende leerders (perpetual learners). Hier is ʼn paar vrae wat jy jouself kan afvra om te bepaal wat jou doelwitte kan wees en wat jou belangstelling prikkel:

  • Watter nuwe tegnologiese ontwikkeling pootjie jou in jou daaglikse handel?
  • Wat is die lewensarea waarin jy met meer selfvertroue sou wou saampraat?
  • Watter handvaardigheid of taalvaardigheid wou jy nog altyd aanleer?
  • Wat veroorsaak dat jy angstig raak (wat laat jou ontoereikend of buite beheer voel)?
  • Waarin kan jy as mens groei sodat jy op jou beurt iets kan terugploeg in die samelewing?
  • Hoe sou jy liggaamlik wou verbeter aan jouself?
  • Wat is vir jou mooi (esteties)?

Hierdie is maar enkele voorbeelde van vrae wat jy jouself kan vra om te bepaal waaroor of waarvan jy meer te wete wil kom. Die geheim is dat ʼn mens eers baie wyd moet dink en dat geen antwoord met ʼn beperking moet begin nie. Byvoorbeeld, dat jy nog altyd wou leer ski, maar dit sal nooit werk nie want… Slegs wanneer jy jouself oopstel vir verskillende moontlikhede en ervaringe, sonder aanvanklike uitsluitings, kan jou reis as ewige leerder begin.

In vandag se tegnologies gevorderde samelewing is die plekke en metodes waar jy kan begin met jou studie legio. Die volgende is maar ʼn paar wenke oor waar jy kan begin met selfstudie:

  • Leersame webtuistes. Om ʼn enkele voorbeelde te noem, skillshare.com of LinkedInLearning is webtuistes waar kort, leersame  video’s oor ʼn magdom onderwerpe – sommige gratis en ander teen ʼn maandelikse koste – gekyk kan word.
  • Besoek ʼn biblioteek. Baie universiteite en leerinstellings het ook afdelings wat hul biblioteke aanlyn toeganklik maak vir nie-studente.
  • Sedert die pandemie het baie leerinstellings begin om verskeie kort kursusse kosteloos aan te bied. Doen internetsoeke vir hierdie soort kursusse. ʼn Voorbeeld van so ʼn webtuiste is edx.org.
  • Besoek kunsgalerye en museums. Daar is dikwels toere wat teen ʼn nominale bedrag onderneem kan word. Skryf in op hul webtuistes en hou advertensies daarvoor dop.
  • Luister na aktuele programme oor die radio, veral programme waar besprekings van die een of ander onderwerp oop is vir luisteraars se bydraes.
  • Elke dorp het verskeie belangegroepe wat gereeld bymekaar kom. Vind uit watter groepe in jou dorp vergader en woon dit by. Lees jou plaaslike koerantjie en vind uit van interessante geleenthede om by te woon.
  • Lees en lees wyd. Weereens kan tegnologie hier waardevol wees. Baie industrieë en groot maatskappye het deesdae nuusbriewe en webjoernale (blogs) waarop jy kan inteken. Verbreed só jou kennis van onderwerpe waarvan jy min weet.
  • Wanneer jy in die geselskap van ʼn kenner op ʼn gebied is, vra vrae met die doel om sy spesialiteitsveld te verstaan. Probeer dít wat jy geleer het later by die huis weergee.
  • Stel jouself ten doel om ten minste een keer ʼn week ʼn nuwe ding te probeer… iets nuuts te proe, iets nuuts te doen of iets nuuts te lees. Hieronder val ook nuwe stokperdjies, sport of doen-dit-self-projekte of ʼn taal. Daar is verskeie taalprogramme wat aanlyn afgelaai kan word, selfs sommer op jou foon ( bv. +Babbel, Duolingo, Sign Language study cards of volg ʼn Instagram-taalfundi se video’s).
  • Memoriseer daagliks of weekliks een Bybelgedeelte, positiewe gesegde, gedig of frase uit ʼn gunsteling geskrif.
  • Bied aan om kinders te help met skoolwerk. Jy sal verbaas staan oor hoe julle saam leer en jy dalk die wiskundesom – wat jou altyd so ontwyk het – nou baasraak.
  • Vra jou kind of kleinkinders hoe podgooi-rubrieke of oudioboeke afgelaai kan word. Hulle is oneindige bronne van kennis op hierdie gebied en sal jou aan ʼn nuwe wêreld voorstel.

Wat is goeie leermetodes?

ʼn Belangrike saak om te onthou, is dat ons waarskynlik beperkend dink oor die leerproses self. Die meeste van ons het net die leermetode van skool, kollege, universiteit of een of ander leerinstituut as verwysing. Die gedagte aan daardie leerwyse kan baie ontmoedigend wees, omdat dit baie mense aan ʼn klomp negatiewe ervaringe herinner. Die goeie nuus is dat daar in die informele studiewêreld ʼn magdom leerprosesse beskikbaar is en dat jy eintlik die proses waardeur jy leer, self kan bepaal.

As jy jou leerdoelwit gestel het, moet daar darem ʼn bietjie beplanning plaasvind, sodat dit nie net by voornemens bly nie. Om te help met jou beplanning, kyk ons vervolgens na ʼn paar leerprosesse.

Volgens Dale se piramide verstaan en onthou ons wat ons leer gebaseer op die vlak van ons betrokkenheid by die leerproses. Die vlak van betrokkenheid is weer nou verbonde aan die hoeveelheid verskillende leergeleenthede wat geskep is. Die tipe leergeleentheid bepaal op sy beurt die vermoë om weer te gee en te herroep wat geleer is. Die piramide lyk só:

(Grafika verskaf)

Skep daarom vir jouself soveel verskillende leergeleenthede oor jou gekose onderwerp as moontlik, om te verseker dat jy jouself die beste geleentheid gee om dit wat jy geleer het, te onthou en te kan gebruik. Hou die Dale-piramide in gedagte en maak baie meer gebruik van praktiese en groepleermetodes, probleemgebaseerde leer en ondersoekende leer. Selflees en luistergeleenthede moet verkieslik aangevul word met prentjies en video’s. Jou betrokkenheid (student engagement) is noodsaaklik vir ʼn sinvolle leerproses.

Wat ons kan doen om te verseker dat ons aanhou leer?

  • Wees kreatief. Maak leer vir jouself prettig. Lag vir jou foute in jou leerproses en beweeg aan, moenie met die eerste flop moed opgee nie.
  • Leer teen jou eie pas. Onthou dit is nie ʼn resies nie, maar ʼn lewensreis.
  • Wees ontvanklik en stel jouself oop vir nuwe idees.
  • Skeduleer leergeleenthede in jou dagboek. Te min tyd of ʼn reeds vol dag veroorsaak dat jou leerplan jou eerder gespanne as leergierig maak.
  • Behou jou fokus. Doen beplanning, maar fokus daarop om ʼn begin te maak.
  • Leer saam met ander. Nooi ʼn vriendin of twee vir ʼn pretoggend van saam leer.
  • Sorg dat jy gereeld in uitgelese geselskap, waar jou denke uitgedaag word, kom. Luister eerder as praat. Luister op so ʼn wyse dat jy iets wat jy geleer het tydens die gesprek later kan weergee.
  • Kom uit. Gaan stap en probeer die plante of bome op jou roete identifiseer. Sluit aan by ʼn stapgroep, omgewingsbewaringsgroep, voëlkykgroep, boekklub, toneelgroep, sanggroep, ensovoorts.
  • Dra ʼn notaboekie saam met jou waarin jy neerskryf as jy iets teëkom wat jy verder wil ondersoek, of as jy iets wil neerskryf om later te memoriseer.
  • Sit ʼn woordeboek voor jou bed en onderneem om een onbekende woord elke aand te leer.
  • Hou op om doelloos op jou foon te blaai. Kyk eerder ʼn kort, informatiewe video of doen ʼn aanlyn breinspeletjie, soos Sudoku of ʼn blokkiesraai.

Daar is ʼn wêreld vol dinge waarvan ons niks of min weet. Daar is ʼn magdom maniere om inligting en kennis te bekom. Daar is verskeie leermetodes wat ons kan gebruik om kennis wat geleer is, te behou en te kan weergee. Leer is nie net vir kinders en jongmense nie. Leer is vir mense met verskillende vermoëns en alle ouderdomme. ʼn Voortdurende student van die lewe ervaar ʼn gesonder lewensuitkyk en ʼn positiewe selfbeeld. Leer, leer iets, leer ʼn bietjie of baie, maar leer voortdurend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.