
Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, lê 'n strafregtelike klag teen ANC-jeugligaleier, Julius Malema, by die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion.
AfriForum het dié klag gelê nadat Malema glo Woensdag by ’n saamtrek in Thembelihle, suid van Johannesburg, mense aangemoedig het om grond sonder toestemming te beset indien die regering dit nie aan hulle gee nie. Volgens AfriForum het die organisasie op regsadvies verneem dat hierdie optrede van Malema die misdryf van uitlokking tot sedisie daarstel omdat hy sy ondersteuners aangemoedig het om die gesag van die staat te verontagsaam.
Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het die klag by die Wierdabrug-polisiekantoor gelê. Roets het gesê dat Malema nie onder die indruk moet verkeer dat hy verhewe bo die reg is nie. “Geen mens behoort daarmee weg te kom om mense aan te moedig om misdaad te pleeg nie. Dit word in ’n ernstige lig beskou en moet ook met die nodige erns hanteer word.” Roets het bygevoeg dat Malema reeds ’n omstrede figuur is wanneer dit by die onderwerp van grondbesit kom.
“Die feit dat die inwoners van Thembelihle ten koste van hul eie veiligheid aangemoedig word om die betrokke grond te beset, is uiters onverantwoordelik,” het Roets gesê. Hy het verwys na die bevinding dat die Thembelihle-nedersetting in die middel van ’n strook dolomiet geleë is.
“Dolomiet is ’n stof wat met verloop van tyd oplos en sinkgate kan skep. Dit hou ernstige gevare in vir dié wat daarop woon.”