Baba se lykie by Noordwes-huis opgegrawe

ʼn Man en vrou van Noordwes kan moontlik van moord aangekla word nadat die liggaam van hulle twee weke oue baba by hulle huis in Delareyville opgegrawe is.

Sers. Philani Nwalase, ʼn woordvoerder van die polisie, sê die liggaampie is Woensdag in die paartjie se erf gevind nadat die polisie deur bekommerde bure in kennis gestel is. “Die bure het agterdogtig geraak nadat hulle nie ʼn baba gesien het na die vrou se swangerskap nie.” Die polisie het die paartjie ondervra waarna hulle erken het dat hulle die babatjie in hulle erf begrawe het na haar dood. Volgens die paartjie is hulle babatjie op 14 Januarie gebore en is sy sowat ʼn week later dood nadat sy siek geword het. Die paartjie, onderskeidelik 31 en 35 jaar oud, het die haar begrawe sonder om glo die nooddienste of die polisie in kennis te stel van haar dood. Hulle het ook nie die nodige dokumentasie bekom vir haar begrafnis nie. Die baba se liggaampie is opgegrawe en ʼn geregtelikde doodsondersoek is van stapel gestuur. Die paartjie is nie in hegtenis geneem nie aangesien die polisie wag op die uitslae van die nadoodse ondersoek om die presiese oorsaak van die babatjie se dood te bepaal. Indien dit aan die lig dat daar vuilspel betrokke was sal die paartjie in hegtenis geneem en van moord aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.