ʼn Verhoorafwagtende gevangene is Woensdag naby die Humansdorp-landdroshof in die Oos-Kaap doodgeskiet nadat hy glo probeer ontsnap het.
Maj. Ernest Sigobe, woordvoerder van die polisie, sê die 32-jarige beskuldigde moes in die hof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sigobe sê die beskuldigde het egter probeer weghardloop. “Die polisie het hom agternagesit en in die proses is hy deur ʼn polisiebeampte geskiet.” Die beskuldigde is na die Humansdorp-hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het. Die polisie ondersoek die saak.