Andrew Morton, getuie van die ongeluk, het in die Krugersdorpse landdroshof teen Joseph Motsamai Semitjie getuig. Semitjie was die bestuurder van die motor waarin Humphrey Mmemezi, voormalige LUR vir plaaslike regering en behuising, gery het.
Morton is die Staat se eerste getuie in Semitjie se verhoor. Hy word van roekelose bestuur en versuim om na die ongeluk bystand te verleen, aangekla. Semitjie het op alle aanklagte onskuldig gepleit.
Ferreira was tydens die ongeluk ʼn matriekleerling aan ʼn hoërskool in Krugersdorp, en besig met sy eindeksamen. Hy het ernstige breinbeserings opgedoen, was vir weke lank in ʼn koma en ondergaan steeds rehabilitasie.
Morton en ʼn vriend het die ongeluk sien gebeur en het toe by Ferreira bly sit totdat paramedici opgedaag het. “Ek het gesien hoe die beskuldigde rondom die motor loop om die skade te bepaal. Dit het nie gelyk of hy beseer is nie. Hy het ons nooit genader of probeer uitvind of Thomas seergekry het nie,” het Morton aan die hof gesê.
Semitjie was glo die bestuurder van LUR Humphrey Mmemezi se ampsvoertuig, ’n BMW X5, wat Thomas (19) op 5 November 2011 in Krugersdorp omgery het.
Die saak is tot 2013 uitgestel.