Boetes word nie per e-pos gestuur nie

Berigte dat verkeersboetes per e-pos aan motoriste gestuur gaan word, is glo verkeerd.

“Daar word nêrens in die voorgestelde wysigings melding gemaak dat ‘n voertuigeienaar of motoris deur e-pos van verkeersoortredings in kennis gestel gaan word nie,” het Howard Dembovsky, voorsitter van die Justice Project South Africa, gesê.

Beeld het Maandag berig dat die moontlikheid bestaan dat die Wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) spruit, wat in Februarie in die Staatskoerant publiseer is, voorsiening daarvoor gaan maak dat boetes per e-pos aan oortreders gestuur gaan word.

Dembovsky sê slegs sowat 11% van Suid-Afrikaners het tans toegang tot die internet en só ‘n reëling sal dus onprakties en bykans onmoontlik wees.

Die wysigingswetsontwerp dui aan dat, indien die “oortreder” ‘n regspersoon, byvoorbeeld ‘n maatskappy, trust of ander organisasie is, die betrokke partye ‘n “elektroniese diens” van die boete sal ontvang. Die begrip “elektroniese diens” is egter problematies, aangesien dit te wyd interpreteer kan word en nie aandui na watter metode van elektroniese kommunikasie gebruik gemaak sal word nie.

Beeld het berig dat Aarto, wat tans slegs in Johannesburg en Pretoria in werking is, herhaaldelik in ander dele van die land uitgestel is, weens administratiewe probleme. Luidens die dagblad het Johannesburg se metropolisie glo vroeër gesê hulle het geen begroting om kennisgewings per geregistreerde pos uit te stuur nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.