Covid-19: Só moet gesigsmaskers aangewend word

Foto ter illustrasie. (Foto: Juraj Varga/Pixabay)

Sedert die algemene inperking van 21 dae verlede week in werking getree het, is dit al meer algemeen dat mense gesigsmaskers en handskoene dra om hulle teen besmetting met die koronavirus te beskerm.

Wêreldwyd meen kenners egter dat die meeste maskers dikwels nie voldoende beskerming bied nie en dat die algemene publiek dalk selfs ʼn groter risiko loop om die virus op te doen wanneer ʼn masker gedra word.

Die tekort aan maskers vir dié wat dit werklik nodig het, wek boonop kommer.

Hoe die masker werk

Daar is twee soorte maskers: chirurgiese of mediese gesigsmaskers en N95-respirators.

ʼn Chirurgiese masker is lospassend en bedek die neus en mond en word deur teaterpersoneel gebruik tydens mediese prosedures. Dis aanvanklik ontwerp om die pasiënt te beskerm teen kieme wat die dokters of verpleegsters mag oordra, maar meer onlangse navorsing het bevind dat dit ook gesondheidsorgwerkers kan beskerm.

Die N95-respirator word gebruik wanneer mediese werkers kontak met respiratoriese patogene probeer vermy. In Suid-Afrika word dit veral deur gesondheidsorgwerkers gedra wat pasiënte met tuberkulose behandel.

N95 is nie ʼn handelsnaam nie, maar wel ʼn filtrasiestandaard. Dit verwys na die feit dat die masker se filter-kapasiteit 95% doeltreffend is teen druppels met ʼn deursnee van 0,3 mikrometer. Dit is ongeveer 200 keer fyner as die punt van ʼn menslike haar.

Die koronavirus is sowat 0,1 mikrometer in deursnee, maar omdat dit in mikroskopiese druppels wat baie groter is versprei word, val dit gemaklik binne die filtrasie afsnypunt van die N95.

Hoe effektief is die maskers

Volgens dr. Mike Ryan, uitvoerende direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se noodgevalle-program, is daar geen spesifieke bewyse dat die dra van maskers deur die spreekwoordelike man op straat enige potensiële voordeel kan inhou nie. Hy het Maandag in Genève, Switserland, gesê daar is in werklikheid ʼn paar bewyse wat die teendeel aandui.

Dr. Anthony Fauci, die immunoloog en openbare gesig van die Withuis se koronavirus-taakmag, het vroeër gevra dat Amerikaners nie met maskers moet rondloop nie omdat hulle dan meer gereeld aan hul gesigte vat.

Anders as die mondelinge waarskuwings van gesondheidsamptenare dui die Amerikaanse sentrum vir die beheer en voorkoming van siektes (CDC) se skriftelike riglyne nié aan dat die dra van ʼn masker die risiko vir besmetting kan verhoog nie.

Die rede daarvoor is waarskynlik omdat daar min robuuste studies oor die effektiwiteit van maskers bestaan. “Data daaroor is skaars,” sê prof. William Schaffner van die mediese sentrum by die Vanderbilt-universiteit in die Amerikaanse deelstaat Tennessee. “Maar die afwesigheid van data beteken nie noodwendig dat daar ʼn afwesigheid van die effek van masker-dra is nie,” sê hy.

“Die publiek glo dat jy beskerm is as jy ʼn masker dra, maar dis ʼn vals gevoel van sekuriteit,” sê Gerda Visagie, ʼn apteker van Hartenbos naby Mosselbaai. “In China en Japan, waar masker-dra meer natuurlik is, wil dit lyk asof daar wel vinniger beheer oor die verspreiding van Covid-19 gekry is. Die probleem waarmee Suid-Afrika sit is dat die persoon wat nie siek is nie ʼn masker dra terwyl dié wat siek word nie maskers kan kry nie.”

Dit beteken nie dat die praktyk geen nut vir die algemene publiek het nie.

Wie behoort die masker te dra

Die WGO stel dit onomwonde dat slegs mense met Covid-19-simptome en diegene wat hulle versorg maskers moet dra.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om op te hou om maskers te dra as hulle nié self siek is en nié kontak het met persone wat Covid-19 onder lede het nie.

Die hoof van die departement, dr. Beth Engelbrecht, sê om ʼn masker of handskoene te dra as jy winkel of apteek toe gaan is ondoeltreffend, onnodig en beskerm jou nie teen die koronavirus nie. “Dit kan in werklikheid die virus vinniger versprei.”

Sy stem saam met Fauci se stelling dat wanneer maskers onnodig gedra word mense heeltyd daarmee vroetel en dus gereeld aan hul gesigte vat, wat juis die plek is waar die meeste infeksies die liggaam binnekom.

Dit is steeds belangrik om jou hande te was voordat jy ʼn masker aansit, voordat jy dit later afhaal én nadat jy dit afgehaal het.

ʼn Tekort aan maskers en beskermende klere

Maroela Media kon nie enige soort maskers of handskoene by kleinhandelapteke vind waar navraag gedoen is nie. Dischem se pakhuise het ook geen voorraad nie en aptekers sê hulle weet nie wanneer dit weer beskikbaar gaan wees nie.

Chirurgiese maskers, die N95, oogbeskerming, jurke en handskoene word as persoonlike beskermende toerusting beskou wanneer ʼn besmette pasiënt versorg word en ʼn tekort hieraan raak gesondheidswerkers wat die pandemie beveg. Die Amerikaanse CDC beveel aan dat chirurgiese maskers en die N95 vervang word nadat ʼn pasiënt behandel is of sodra dit vuil of beskadig raak.

Daar word tans uit verskeie oorde ʼn beroep gedoen dat beskermende toerusting dringend in veral staatshospitale en klinieke beskikbaar gemaak word. Die lys van die items wat benodig word sluit in maskers, lateks-vrye handskoene, plastiese voorskote, oogskerms en brille sowel as mediese jurke en oorpakke.

Die Limpopo-tak van die Demokratiese Verpleegsorg-organisasie van Suid-Afrika (Denosa) is sedert verlede week oorval met oproepe van verpleegkundiges wat kla dat sommige klinieke in dié provinsie nie persoonlike beskermende toerusting (PBT) en skoon lopende water het nie.

Denosa se hoofsekretaris, Cassosa Lekhoathi, sê al wat lede vra is dat hulle persoonlike beskermende toerusting moet kry. “Dan sal ons as verpleegkundiges doen wat ons die beste doen, naamlik om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is.”

Business for South Africa (BSA) het Maandag ʼn dringende beroep op alle ondernemings gedoen om PBT vir gebruik in die nasionale gesondheidsorgsektor beskikbaar te maak waar dit “van kritieke belang is om dokters en gesondheidsorgwerkers in die voorste linies te beskerm”.

Siviwe Gwarube, die DA se skadu-minister van gesondheid, sê dit is van kritieke belang dat die regering nou plaaslik ʼn kapasiteit ontwikkel vir die vervaardiging van uiters noodsaaklike toerusting. Hy het by die minister van gesondheid, Zwele Mkhize, aanbeveel dat plaaslike vervaardigers aan boord gebring moet word en dat die departement van gesondheid sy netwerk van internasionale verskaffers uitbrei om hierdie produkte dringend in die hande te kry.

Tuisgemaakte maskers

As ʼn laaste opsie kan maskers ook tuis gemaak word. Die beste materiaal vir tuisgemaakte maskers is diggeweefde 100% katoen. Denim, lakens en swaargewig hemde is ook goeie opsies maar vermy gebreide stowwe wat rek, berig die New York Times.

Spoel die materiaal vooraf met warm water om kieme dood te maak en die materiaal te krimp sodat dit nie van vorm verander wanneer dit later gewas word nie. Die masker moet ook deeglik gewas word ná gebruik en laat dit in die son droog word voordat dit weer gebruik word.

Die Pretoriase mode-ontwerper Simon Rademan sê hy het reeds sowat 2 000 maskers gemaak wat hy weggegee het. Hy het dit aanvanklik vir sy werkers gemaak maar later begin om die maskers uit te deel.

Hy gebruik ironies genoeg ʼn materiaal wat uit China ingevoer word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Strandloper ·

Eenige regdenkende mens sal alles maar alles doen vir beskerming….die keuse is joune.

AlWeerSo ·

Plaas sê hulle net daar is nie genoeg maskers nie en hulle het alles nodig vir dokters en gesondheidswerkers (ek salueer julle vir die onbaatsigtige werk) maar nou belieg hulle die publiek. Deur net logies na die berig te kyk sê hulle vir die publiek maskers help nie maar dit help vir gesondheidswerkers? Die teendeel is egter waar. In Asia is dit juis waarom hulle sukses het met die inperking van viruses. Almal dra maskers. Dit het hulle geleer uit vorige ondervinding met SARS, ens. Kyk gerus die skakel “https://www.youtube.com/watch?v=gAk7aX5hksU” Dit is ‘n onderhoud met Professor Kim Woo-joo van Korea University Guro Hospitaal ‘n spesialis op die gebied.

Kompas ·

Volgens CNN moet jy of ‘n serp (as jy nie masker het) of ‘n masker dra as jy uit jou huis gaan. Weet nou nie meer wat om te doen.

Lynette ·

AlweerSo se kommentaar hierbo is heeltemal korrek….en om Kompas se vraag tr beantwoord – kyk net van wie die wan-inligting in ons land af kom en jy sal weet wie om te glo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.