Die naweek se rugbynuus in ’n neutedop

Wat kan mens nou sê ná ‘n rugbynaweek soos die een wat verby is?

Ek het laas week geskryf dat daar trane sal wees (en daar was) en dat daar ekstase sou wees (en daar was), maar dat ons nie louwarm gelaat sal word nie (en ons was nie). Elke wedstryd wat vir Suid-Afrikaners van belang is, het ’n stewige dosis opwinding en/of ’n onverwagte uitslag gehad. Daar was dus trane vir die Bulls, Kings en Crusaders en ekstase vir die Brumbies, Chiefs en Leeus met heelwat drama en drieë om die polse te laat klop.

Die Leeus het Vrydagaand met die Kings in Port Elizabeth met 26-19 afgereken en sodoende ’n tree nader gegee om weer aan die Super15 deel te neem. Die Leeus se weglating het hulle klaarblyklik ook goed gedoen met baie aspekte van hul spel wat verskerp is en weliswaar verbeter het. By die afbreekpunte, in die skrums, op die verdediging en ook op die aanval was die Leeus heel duidelik die beter span. Stokkies Hanekom het twee drieë gedruk terwyl Elton Jantjies die Leeus se telling aan die rol met sy akkurate skopskoen gehou het. Die Leeus het ook meer uitgerus gelyk danksy ’n minder uitputtende wedstrydskedule in 2013. Die tweede wedstryd word Saterdagaand op Ellispark gespeel en met die kaartjies wat uitverkoop is, het die Ellispark-lojaliste gewys hulle gaan hul span behoorlik tot Super-hertoelating aanvuur. Verwag dus om Johannesburg in rooibont-kleure te sien – ’n seldsame verskynsel oor die laaste twee dekades. Die veld behoort ook droër te wees as in Port Elizabeth en behoort die Leeus se hardloopspel in die hand te werk.

Die Kings het egter met talle uitdagings te kampe. Hul afrigter en groot sleutel tot sukses, Alan Solomons, het besluit om nie aan te bly by die franchise nie. Hy gaan in Skotland afrig waar sy vrou glo al vir drie jaar sonder hom bly. Voorts gaan die Kings se onmisbare skopangel en losskakel, Demetri Catrakilis, volgende jaar vir die Stormers in die Super15 speel. Om als te kroon, moet hulle ook die honger Leeus met sewe of meer punte klop om volgende jaar in die Super15 te speel. Dit wys hoe vinnig ’n span se lot kan verander. Terwyl hul Super15-toelating in omstredenheid gehul was en hulle die Super15 op ’n hoë noot afgeskop het, lyk hul huidige posisie of hulle dalk volgende jaar sonder in die rugbywoestyn en sonder ’n groot deel van hul inkomste gaan wees. Vir Leeus-ondersteuners (en ander rugbyondersteuners) sal daar dus heelwat schadenfreude in ’n Leeus-oorwinning wees.

Die grootste skok van die naweek was sekerlik die Bulls se nederlaag van 26-23 teen die Brumbies. Hoewel dit nooit ’n uitgemaakte saak was dat die manne van Canberra in Pretoria sou kom verloor nie, is die wyse waarop die Bulls verloor het, sout in die Pretoria-brigade se wonde. Die Bulle se kaptein, Dewald Potgieter, wat nou sy rugby in Japan gaan speel, het drie strafskoppe van die hand gewys en gekies om kantlyn toe te skop om só die druk op die Brumbies te hou. Die Bulls was op daardie stadium met een punt voor. Die skare en selfs die rustige Bulls-afrigter, Frans Ludeke, se bloed het gekook oor Potgieter se besluite. Hy het wel met ’n vierde strafskop besluit om Morné Steyn pale toe te laat skop en die voorsprong is tot vier punte gerek. Die Brumbies het toe afgeskop, die bal laat loop en gedruk om te wen. Verskeie scenario’s kon hulself uitspeel. Wat as Potgieter net besluit het om die druk op die Brumbies te hou met slegs etlike minute van die wedstryd oor? Het die afskop ná Steyn se geslaagde strafdoel nie die aanvalsmomentum en gebiedvoordeel van die Brumbies in die hand gewerk nie? Sou die Bulls soveel strafskoppe gekry het as hulle nie die druk op die Brumbies gehou het nie? Sou die Bulls regtig vier strafskoppe agtereenvolgens gekry het as hulle die eerste een oorgeskop het? Hierdie is vrae wat beslis nog vir lank by die Bulls en hul ondersteuners gaan spook.

Maar dit is vir eers gedane sake en vir nou het die Blou Bulle groter kopsorge. Daar is ‘n massa-uittog en rits beserings wat hul kanse om ‘n formidabele faktor in vanjaar se Curriebeker te wees, erg gaan knou. Sukses is helaas soms ’n vloek vir ’n span met senior spelers soos Chiliboy Ralepelle, Jacques en Dewald Potgieter, Jano Vermaak, Juandré Kruger en Steyn gaan almal hul heil by oorsese klubs soek ná die Bulls se indrukwekkende Super15-seisoen. Daarbenewens is Deon Stegmann, Pierre Spies en Francois Hougaard almal uit met beserings. Hoewel Spies en Hougaard stellig eers teen die einde van die Curriebeker-seisoen beskikbaar sou wees weens hul betrokkenheid by die Springbokke, was Stegmann se senior teenwoordigheid ’n noodsaaklike komponent vir die Blou Bulle se veldtog. Verder is Lionel Mapoe nou ook in die visier van die Stormers vir volgende jaar se Super15.

Gee Jake White egter wat hom toekom. Hy het ’n span wat meer verdeeld as die ANC was en uiters indiwidualisties gefunksioneer was, deur sterk leierskap en dissipline reggeruk om weer potensiële kampioene te word. Onder sy afrigting het die Brumbies die Britse en Ierse Leeus geklop en die eindstryd van die Super15-eindstryd gehaal. Dit als is geen geringe prestasie nie. Die Brumbies se skrum word gevrees, sy besluit om die briljante balsteler George Smith terug te bring was meesterlik en met ’n skopper soos Christian Leali’ifano sal die Brumbies dalk net hierdie naweek as die nuwe kampioene gekroon word.

Maar als is nie verlore vir die Bulle nie. Die Vrystaat se kanniedood-skrumskakel, Piet van Zyl, het ’n tweejaar-kontrak met die Bulle geteken wat vanaf 1 November vanjaar in werking tree. Daarbenewens het belowende jongelinge soos Paul Willemse en Ulrich Beyers besluit om langer aan te bly by die Bulle en hulle sal in komende jare die nukleus van die span begin vorm. Ten spyte hiervan gaan dit bloedsweet kos vir Pine Pienaar om die Bulls tot Curriebeker-glorie vanjaar te brei.

In die ander halfeindstryd in Hamilton het die Chiefs ’n onverwagse sege oor die Crusaders behaal toe hulle die manne van Canterbury met 20-19 geklop het. Die Super15-eindstryd sal dus nou in Hamilton plaasvind. Die Chiefs het totale rugby gespeel en soos titane verdedig om die Crusaders van hul doellyn af weg te hou. Dan Carter het drie strafdoele netjies deur die pale gejaag en Israel Dagg het weer met een van sy verbysterende lopies die Chiefs se verdediging oorhoops gehad en in die hoekie gedruk. Vir die Chiefs was daar een speler wat uitgestaan het en dit is Aaron Cruden. Hierdie beskeie speler het omtrent eiehandig die Saders uitoorlê deur 15 van die Chiefs se punte aan te teken danksy sy skopwerk, taktiese skoppe, puik posisionele spel en les bes, ’n luisterryke onderskepdrie. Die stormram Lelia Masaga het die ander vyf punte aangeteken toe hy die Saders se rotsvaste verdediging trompop aangevat en oorgeduik het. Die Brumbies het gewis nie ’n maklike taak om hierdie eindstryd te wen nie.

Geniet die rugby!

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

nathan ·

Potgieter het ons gesink, want hy weet hy hardloop mos weg

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.